Die groot muur
van Sjina wat volgens 'n volkslegende die enigste struktuur is wat van die maan
af sigbaar is. Neil Armstrong het hierdie dwaling die nek in geslaan. Om te glo
jy kan dit van die maan af sien met die blote oog, is dieselfde as om sê jy kan
‘n haar op ‘n afstand van twee kilometer uitmaak. Beijing se tempels en groot
muur is ‘n verpligtige stop, en met elke besoek sien ‘n mens iets meer. ‘n Mens
kan wel die muur uit die ruimte (space) sien soos ruimtevaarders al bely het.
Die lughawe is
oop en modern met treine wat jou van verskillende afdelings vervoer. Pas op die
lughawe aangekom met my tas op ‘n karretjie en ‘n polisieman kom nadergestap met
sy snuffelende spanjoel. Die hond snuif driftig aan my tas.
“Het jy kos in
jou tas?”, vra die polisieman nurks. Ek wil eers antwoord, ja, Nando’s om julle
Peking-eend te troef, maar toe dag ek liefs nie grappies maak nie.
Hy maak my tas
oop. Na ‘n tydsame deursoekery blyk dit die spanjoel is deur my sonbrandolie om
die bos gelei, en ek word toegelaat om deur te stap.
Aangesien daar
geen hotelbussies van die lughawe na die hotel is nie, kry ek ‘n gawe huurmotorbestuurder
wat Engels magtig is en my na die hotel neem (gebaretaal is meermale die
enigste uitweg). Die rit van die lughawe na die lieflike ouwêreldse hotel
Quianmen Jianguo hotel waar ek tuisgaan duur ongeveer 50 minute.
Onderweg gee my huurmotorbestuurder
my ‘n imprompto oorsig van die stadsgeskiedenis. Langs die pad hang daar ‘n
groot plakkaat van Mao TseTung. Hy vertel my van die studente-opstande op
Tiananmen-plein. Dankbaar dink ek terug aan ‘n geskiedenis-module oor Sjina en
die Ming-dinastieë. Dit is makliker om die ouer Sjina te verstaan as die
moderne een. Dit is meer vertroud.
Taalprobleme
sorg vir onthoubare oomblikke. Die aand in die hotelkroeg is die wyn gekurk en
na ‘n lang gesukkel met gebaretaal bestel ek maar bier. Die twee
kroegmannetjies is bitterjonk.
Toe ek die
rekening vra met my vinger wat skryf in die palm van die hand, lag hulle. Die
een kom nader met sy selfoon, hou dit na aan my oor: ”Invoice, invoice”,
sketter dit op Engels. Hulle lag uitbundig oor hul eie grappie.
Op dag twee is
die Groot Muur my teiken. Eers die gewone tempelbesoeke wat die enorme
geskiedenis voorstel. En verdomp, ‘n vliegende mier steek my op my arm. Binne
‘n ommesientjie is my arm geswel. Vir my is dit egter ‘n teken van geluk.
In elke stad tel
ek ‘n blaar op en pars dit saans in ‘n moleskin-boekie. Ek het reeds soveel
klippe van verskillende stede. Nou is dit blare. Een blaar per stad (en een vir
my vriend Johann de Lange).
Bygelowe is aan
die orde van die dag. By ‘n tempel mag ons nie foto’s neem nie. Ek steur my nie
hieraan nie en lê dit vas op my Fuji.
Alvorens die
Groot Muur sélf besoek word, is daar die gewone toeristiese verleidings van
winkels wat edelgesteentes verkoop. In een van hulle sit 'n man wat met
verbysterende geduld uit 'n beeldjie kerf uit agaat met net ‘n lemmetjie aan ‘n
boorpunt wat piepklein skaafsels laat neersif.
In ‘n
kabelkarretjie op pad na die Groot Muur. Dit suis in my hart, want die deurtjie
is nie heeltemal toe nie. Daar is ‘n skrefie waardeur ek my hand kan steek en
die plantegroei bewonder. Die Groot Muur: asemsnakkend, uitdagend, ‘n monument
wat eers vyande moes afweer, nou vele toeriste opneem in groen kabelkarretjies
soos by die Pretoriase dieretuin. In moderne tye word geskiedenis ‘n
toeristiese geldmaakbedryf. Kyk maar na Machu Picchu wat sy ongeskondenheid
verloor het. Deesdae is daar meer busse berg op as in Pretoriase middestad. ‘n
Jongman het ses maande geneem om die muur se 6 000 km te stap, en is
padlangs deur weldoeners van voedsel voorsien.
Om my is daar
toeriste van alle soorte wat stamp en stoot. Die Sjinese verál het geen sin vir
private ruimte nie. Daar word gedurig aan jou geraak hulle dink niks daarvan om
jou private borrel te betree wanneer jy met iets besig is nie of terwyl jy nog
besig is met iets. Hamba, raas ek toe ‘n man aan my stamp binne die reeds
prekêre kabelkarretjie toe ons inklim. Diep in sy wiek geskiet, vra hy om
verskoning. Dit is om hierdie rede dat ek my reis in besigheidsklas aangepak het
sodat ek nie die ekonomiese voorreg het van ‘n mede-passasier se snorke en
reuke nie. En nie kos met ‘n plastiekvoorwerp hoef te benader nie. Of te hoef
luister na lewensverhale en ander dergelikhede nie. ‘n Stad stel immers altyd
iets van ‘n mens se persoonlikheid voor en dit moet jy diepgaande ervaar. Vir
my is Beijing – en meer spesifiek die Groot Muur – gekoppel aan uitdagings,
weliswaar moeilik, wat ‘n mens die hoof moet bied en tog oorwin.
Een aand op
televisie is daar ‘n program van soldate wat hul honde oplei. Groot diere wat
trappies moet ophardloop en dan oor twee sporte moet spring. Onder is daar ‘n
vangnet. 'n Hond val af, spartel tussen die toue en word deur die mans gered.
Hy het nie ‘n keuse nie. Hy word gedwing om weer en weer te spring totdat hy
dit regkry. ‘n Vinjet van wreedheid.
Ek stap een
oggend vroeg deur die ou buurt van Beijing. Ek haal my kamera uit om 'n klein
slaghuis met sy netjies bereide vleis af te neem. Fout. Die vrou gil en haar
man verbied my om ‘n foto te neem. Natuurlik vrees sy dat my foto haar siel sal
steel en druipstert stap ek weg.
Vars
groentestalletjies, oompies wat mahjong speel, kwispelstertbedelende honde,
oumas met kleinkinders (elkeen natuurlik met net één, gedagtig aan Sjinese
gesinsbeperkings) vorm die agtergrond van my wandeling. Die babaseuns het almal
broekies aan wat sowel voor as agter oop is. Dis hoe hulle die seuntjies hier
leer. Die klokkies hang uit en doer ver sit ‘n knapie op sy hurke, terwyl ouma
toekyk dat alles vlot verloop. Natuurlik verhoed dit ook dat die kleertjies nat
word. Dit gaan alles terug na vroeër tye toe gesinne meer as een kind had en
kleintjies maar self moes sorg vir broeklosmaak.
‘n
Beijing-riksja is my toergids deur die buurt. Almal wuif. Beijing het ‘n
moderne en vinnige lewe teenoor hierdie ou wêreld, gestulp in die tyd.
Dieselfde stadige leefwyse as Mosambiek en Kenia. Mense wat geselsies maak,
ware verkoop, waarskynlik niks weet van die groter, dwingende wêreld daarbuite
nie, dog ook uitgelewer is aan uitdagings, vrese, onsekerhede, geboortes en
dood.
In die middag
wandel ek deur ‘n buurt agter my hotel waar ‘n ou oom met ‘n loopraam sit. Hy
is losweg 90 jaar oud te oordeel aan die plooie en letsels op sy gesig. Oosterlinge
word baie oud, volgens navorsing, die oudste op aarde. Hier sit die ou man met
sy sikkeneurige ou vrou wat hom die hele tyd die leviete voorlees, as ‘n mens
die hoë frekwensie van haar stem in ag neem. Sy wuif haarself koel met ‘n pienk
waaiertjie wat sommer ook as vlieëplak diens doen. Sy het ‘n blou pakkie aan en
die knie is netjies gelap. Die mense woon in klein pondokke met buite die deur
‘n besempie, potplante, en skoene wat in die son staan.
‘n Kat met ‘n
klokkie spring oor ‘n plant. ‘n Verbyganger maak keelskoon en spoeg op straat.
Twee jong geliefdes bestel uitgebreid kos. Langs my sit ‘n ander ouma. Ons sit
almal onder ‘n ou boom en voer 'n woordelose gesprek. Ek bied vir hulle van my
bier aan. Nee dankie, beduie albei beleefd. Die oompie weet natuurlik die hel
sal losbars as hy ‘n doppie vat.
‘n Pa stap met
sy mongoolseuntjie verby en ‘n dogterjie spring uitgelate op en af. Skielik
raak iemand aan my. Dis die ouma met haar kleinseun. ‘n Pragtige dingetjie wat
buidel van geluk. Sy haartjies poenskop gesny. ‘n Volledige vinjet van vreugde,
hierdie samesyn met die Sjinese op ‘n middag in September. Dié aand is die
Peking-eend in die hotel se restourant voortreflik. Alles is perfek.
Tot ek die
volgende oggend by die lughawe aankom en twee Zippo-aanstekers moet afstaan.
Sjinese lugvaartregulasies. Dit help nie om te neul en te wys op die
sentimentele waarde van die aanstekers nie. Wel, gee my dan ten minste die
houers en neem net die binnegoedvra ek. Dan kan niemand dit gebruik nie, mor ek
in my binneste. (Jou moeder van ‘n Pekinese hond, vloek ek liggies.) Skielik
verander die deuntjie. “Ons sal dit aan u terugbesorg. Hier is ‘n kwitansie.”
Alles in Sjina
is noodlot, weet hulle te vertelle. En in John Snelling se The elements of Buddhism (Element,
1990) lees ek van koans en waarhede.
Tafereel
‘n Diepgroen boom
lowerryk, vol voëls wat sing,
staan in die agtertuin van ‘n huisie beskeie
in Beijing. Die oompies speel mahjong,
die tantes spoel al skinderend die wasgoed,
mense fiets verby, dis skoolkomuit-tyd.
Oor hierdie klein tafereel van menslike bestaan
staan daar ‘n voël opgesluit in ‘n hok. Sy kraalogies
draai soos ‘n arend s’n reg om dié gedoente.
Hy droom van ‘n ander bestaan, ‘n beter wêreld,
verby inperkings, vérvandaan, oor groot mure
veel, veel langer as sesduisend kilometer klip.
‘n Toevallige besoeker sien dit alles, vou dit op
en knoop dit vas in haar geheue. So vredig
om in hierdie oomblik te wees, so ongelooflik eenmalig.
Bron:
John Snelling. 1990. The Elements of Buddhism. Massachusetts: Element.