Tom Gouws. Syspoor.
Human & Rousseau, 2002. ISBN 07881 4278 2.
Resensent: Joan
Hambidge
Die domein van die Afrikaanse kortverhaal het die
afgelope paar jaar vir onverkwiklike en grensoorskrydende reaksies gesorg. Die
sogenaamde postmodernistiese verhaal problematiseer dikwels teksgrense: wat is
waarheid? En kan ‘n verhaal steeds aanspraak maak op die ‘blote storie’-etiket
as herkenbare mense uitgestal word?
Oor die postmodernisme in die digkuns is daar nog maar
min geskryf. Parodie, persiflage, pastiche en dies meer is al uitgewys, maar
die kwessie van die aanspreek van die kenbare subjek of ‘geskryfde’ is nog nie
genoegsaam geteoretiseer nie. En dikwels verskyn daar bundels waarin geliefdes
met mekaar ‘praat’: Louw & Cussons; Louis Esterhuizen & Marlise
Joubert; ronel nel en gert vlok nel…
Tom Gouws het sopas by Human & Rousseau ‘n bundel
gedigte laat verskyn onder die titel Syspoor.
(Letterlik: sy-spoor; maar ook om op die smalle weg te wees…). Dit is ‘n bundel wat werklik ‘n handvol gawe
en afgewerkte verse bevat en waarin die
digter se spirituele inkeer verwoord
word. Die digter was voorheen aktiewe literator en sy indertydse bekering by
die Welkom-Leeskring-seminaar het ook vir groot polemiek gesorg, omdat hy
sekere figure in die Afrikaanse letterlike aangespreek het oor hul lewenswyse.
Daarna het hy ook ‘n groteske misinterpretasie van H.J. Pieterse se omdat ons
alles is gemaak en onder meer die tarotkaart van die gehangde man gesien as ‘n
bose, duiwelse teken.
Die rede vir hierdie agtergrondsinligting is dat die
digter steeds op hierdie betigtende pad aandreun. Die roede word swaar ingelê
na die dramatiese Damaskus-inkeer. Met spirituele ontwaking mag mens nie fout
vind nie. As dit egter ten koste van
ander gemaak word, dan moet daar ‘n vraagteken neffens ‘n vers geplaas word.
Toe Johann de Lange in Vleiswond ‘n risqué-gedig oor my laat verskyn het, moes ek
skriftelik toestemming gee dat ek nie sou stappe neem teen my digtervriend nie.
Die gedig was aan my bekend, en daar was ook geen probleem nie. Die vraag is:
het dieselfde uitgewershuis te wete Human & Rousseau die galery
‘geskryfdes’ gevra of dit in orde is dat hul privaatheid, lewenshouding en
vermeende gedrag so aan die openbare klok gehang word?
Die problematiek wat hierdie bundel skep is dat ‘n mens
sou deelneem aan die skending as jy die verse sou plaas. Hier is nie genoegsaam
gefiksionaliseer of verironiseer nie. Nee, net die vinger van Hoofouderling
Gouws wuif en swaai voor T.T. Cloete, Daniel Hugo, Cas Vos, en andere se neuse.
Die tewerige trant van party van die verse kan ‘n mens
ook nie mislees nie. Net om ‘n ‘lastige’ stuk aan te haal:
... as boete
moet jy m.b.v. virtual reality kyk hoe
cloete
se ego ‘n ego lank swaartillend musiseer;
miskien leer jy tog so om jou
tong te beheer
word natuurlik tussen aanhalingstekens geplaas asof iemand
anders dit sê! Maar die spreekwoordelike hou word ingekry(p. 44) “tot die
swaneswang van u flagellant”.
Ook word Daniel Hugo “broederlik” aangepraat in ‘n reeks
transgressiewe verse (pp. 41 – 42). Daar staan dan ook: ”bedrieg jy jouself en
andere met verse van die ongeloof”. Ai die stoute Daniel tog wat deur
Hoofouderling reggehelp word met die volgende vermaning:
As apologeet moet ek bely: nie die letter, maar die gees
Van die wet maak vry. Jy behoort te weet: die wettiese
sonnet
Hou selfs stand deur God’s grasie van die rymparende
koeplet”
(p. 41).
Enersyds word Hugo betig vir sy Opperman-beheptheid;
andersyds vergeet Gouws dat juis hierdie selfde mentor sy akoliete geleer het
dat kuns boos is.
3.
dol-os
Madcow
disease is a result of man’s evil tampering with God’s will
wannabe wambobos was ‘n hiperhupse os
in die afgekampte taalkraal van die opperos
speel-speel is hy sakramenteel
met die heilige bees kruisgeteel.
gesertifiseer is hy nou gekloonde dol-os
(p. 41)
Hieroor sal ‘n mens studente kan laat skryf: “How bitchy
was my valley?”
Oor ‘n ander gedig wil ‘n mens nie eerder skryf nie,
omdat die vuige implikasies en die effek wat dit op die mens se lewe mag hê dramaties
mag wees.
Dit is jammer dat hierdie soort verse ‘n wrang smaak in
die mond laat. Daar is ook goeie verse in die bundel. Ek dink dat die gedig oor
selfmoord (“post mortem: death & co.” ), die twee verse oor Opperman (pp.
51 & 52), “pryslied vir die boerpampoen”, “ballansstaat vir die
belastinggaarder”, “totius”, werklik goed is. Die digter het sy indertydse
intertekstuele vernaamdoenery egter nou verruil vir ‘n beterweterige,
betigtende en boetedoenende aanslag wat waarskynlik tot groot reaksie en
omstredenheid gaan lei.
Gee my liewers die breë weg!
[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]