Susan Sontag. Where
the stress falls. Vintage, 2003. ISBN 0 099 28941 5.
Resensent: Joan Hambidge
Deur al die jare het die essays
van Susan Sontag om hul stilistiese egtheid en intellektuele durf die leser bly
imponeer. Haar essays oor ‘camp’, pornografie, die wyshede van Oscar Wilde,
haar inleiding tot Roland Barthes, haar siening van Amerikaanse kultuur wat
verryk moet word deur Europese tekste, is onthoubaar. Tereg dra sy hierdie boek
op aan Elizabeth Hardwick, haar mentor.
Sontag gebruik ook ‘n motto van
daardie verruklike Amerikaanse digter, Elisabeth Bishop oor reis waarin die
paradoks van hierdie proses ontleed word: moes ons liewers tuis gebly het?.
Maar waar is dit? En geen keuse is ooit vry nie.
Sontag, die kampioen van vrye
spraak, soos die Amerikaner Dale Peck haar genoem het in Fucking Martin, is egter baie privaat. Haar lewensmaat, Annie
Leibovitz, die beroemde fotograaf se verruklike foto-versameling word ook deur
Sontag ingelei en verduidelik. (Die essay is hierin opgeneem). Daar is min
intellektuele wat oor die gawe beskik om toeganklik te skryf oor ingewikkkelde
onderwerpe: Sontag is bepaald een. Van
haar het Barthes gesê:”A, Susan, toujours fidele.” (Altyd getrou). En ja,
getrou aan die fyn formulering. Ook haar vriend, die digter, Joseph Brodsky het
haar lof besing, terwyl Woody Allen in sy film Zelig vir Sontag en Saul Bellow gebruik om hierdie
histories-fiktiewe outsider binne die Amerikaanse geskiedenis te plaas.
Where the stress falls is ‘n versameling met
uiteenlopende essays wat die afgelope paar dekades verskyn, so ver terug as ‘n
essay uit 1982 word hierin opgeneem. Dit is altyd gevaarlik om ‘n komplekse
essaybundels tot noemers of temas te herlei, maar die volgende kwessies kom
telkens aan bod: skryf, lees en die bemoeienis met die self. Hoe word die self
geraak deur die skryfproses? Dit is nie ‘jyself’ as jy na jouself verwys nie,
meen Sontag, want daar vind distansie en objektivering plaas.
“The amount of history, or
horror, a writer is obliged to endure does not make him or a great writer. But
geography is destiny”(p. 93) skryf sy oor Danilo Kis. Dis waarskynlik ook haar
histories en politieke betrokkenheid wat Camille Paglia in Vamps & tramps so laat uitvaar het teen Sontag in een van die
mees vermaaklike essays:”Sontag bloody Sontag”. Hier kritiseer sy Sontag vir
intellektuele betrokkenheid by Sarajevo en die feit dat sy Waiting on Godot daar wou opvoer. Wat, vra Paglia! Kon sy nie ‘n drama
veel eerder in Haarlem opgevoer het nie!
Paglia en Sontag verskil in hul
aanslag, maar die aanslag van die polemiese Paglia is broodnodig. Haar kritiese
essays het onder meer Sontag en Marjorie Garber gedwing om hul uitgangspunte te
nuanseer of selfs te verander. Sontag,
soos Barthes, vermy polemiek, of eerder, konfrontasie. Dikwels tree haar seun
vir haar in die bresse, met funeste gevolge, omdat dit emosioneel en skellerig
is. Sontag ‘antwoord’ altyd jare later op ‘n rustige manier in ‘n essay wat –
sonder om ‘man en perd of ‘vrou en windbuks’ te noem – ‘n probleem aanspreek.
Tog keer sy terug na ou kwessies, soos haar herdefinisie van “Against
interpretation” waarin sy nuanseer dat die analise van lae letterkunde nie die
hoë wil verminder of negeer nie.
Sy skryf gelade, goed afgeronde
essays waarvan “DQ” en ‘n “A letter to Borges” my twee gunstelinge in hierdie
versameling is. Eersgenoemde essay
behandel die ‘tragiek van lees’ in Don
Quijote en ook Madame Bovary.
“A writer,” skryf Sontag ”is first
of all a reader – a reader gone beserk; a rogue reader; an impertinent reader
who claims to be able to do it better” (p.
110). “A letter to Borges” beklemtoon
hierdie skrywer se vermoë om sy tyd en kultuur te oorstyg. Hierdie brief speel
ook sterk in op Borges se siening van die groot biblioteek en sy vertelling oor
die boek sonder einde wat later die leser wanhopig maak.
Maar in hierdie brief neem sy
ook standpunt in teen wat sy die ‘televisuele werklikheid’ noem waar leser met
die teks in interaksie tree. As dit gebeur, benodig boeke beskerming.
Sy skryf oor films, dans,
foto’s die verbintenis tussen reis en skryf en hoe skrywers teer op ervarings
in die vreemde. In “Homage to
Halliburton” word die reisgenre geanaliseer en hoe sy as jong kind alreeds
skryf en reis gelyk gestel het.
In “Questions of traveler” word die mitologie
van reis ontleed: om alleen te reis versus met ‘n groep waarin alles vooraf
bepaal en beheer word. Die misterie, die
gevaar, onplesierighede en isolasie wys sy uit in die besoek aan die ‘vreemde’
wat altyd ‘n opposisie tussen bekend en onbekend, ‘ons’ en ‘hulle’
aktiveer. Ook betrek sy Gulliver’s travels as ‘n teks wat
hierdie ervaringe in ‘n fantasie verbeeld.
Die skrywer is vir Sontag ook
‘n gevoelige leser, maar veral, ‘n her-leser van sy of haar eie werk. Hierom kon sy nooit die aanbod aanvaar het
van ‘n goeie vriend om tydens haar siekte as redakteur op te tree nie. Nee, ‘n
diktee kon nie, want die skrywer moet terugkeer, uitwis, van voor begin. Jy
moet ook kan sien en hoor wat jy geskryf het.
Oor die funksie van die
intellektueel skryf sy helder en duidelik. Daar is ‘n plek vir hierdie spesie
van verskillende allures en aanslae. (Ironies genoeg was sy die enigste
Amerikaner wat die Sollers-vraelys ontvang het.) Haar essay oor Brodsky is plek-plek
emosioneel, terwyl sy by herhaling terugkeer na Sarajevo en die funksie van die
intellektueel om teen oorlog en ongeregtigheid standpunt in te neem.
Oor die vertaling van haar werk
is sy pynlik bewus van foute en mistastinge wat deurglip wat jy is uitgelewer
aan iemand anders: hierom neem jy nie net die reis van jou woorde nie, maar ook
die dood daarvan waar.
Daar is talle uitsprake wat as
motto’s aangehaal kan word so helder en wys is dit. Daar verskyn voldoen
verwysings vir die leser wat ‘n essay in sy tydkonteks wil plaas. Susan Sontag
bly een van die allerbelangrikste kultuurdenkers van ons tyd.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]