Wednesday, March 6, 2013

Juan Goytisolo - A cock-eyed comedy (2002)



Juan Goytisolo. A cock-eyed comedy. Taschenbuch, 2002. ISBN 1 85242 819 8.

Resensent: Joan Hambidge

Die roman is vertaal deur Peter Bush en die skrywer word sonder enige skroom
as die belangrikste lewende Spaanse skrywer voorgestel. Miskien het iets in die vertaling verlore gegaan, of, miskien is dit hierdie leser se onvermoë om die in-grappies oor die Katolieke kerk te snap wat hierdie roman nogal onleesbaar gemaak het.

Dit is ‘n pomo-roman met buigings van figure soos Roland Barthes, Jean Genet, Michael Puig. Die roman neem natuurlik ‘n wending wanneer Vigs sy tol eis. Vader Trennes, die hooffiguur, wandel ook deur die eeue, nes Virginia Woolf se Orlando-karakter. Dit gaan ook hier om die kanonisering van die stigter van ‘n regse Katolieke Organisasie, ene Josemaría Escrivá.

Die roman begin ook met ‘n dramatis personae en dit is duidelik dat vigs onder hulle afgemaai het. Dit word die eensillabige plaag genoem.

Dit is dan ook daardie soort roman waarin die skrywer sy leser betrek. In hierdie metaroman (genoem hier ‘n ‘euro-novel’, p. 71) word oor die stand van die huidige roman gekorswel. Dit is egter '‘ bietjie “old hat'’gedagtig aan die werk van Donald Barthelme of ander woekeraars met die interteks soos Cortázar.

Inderdaad word daar verwys na die ‘narrative’s confused chronologies’ in die slothoofstuk.  Dit wil dan klaarblyklik ook ‘n moderne pikareske roman wees. Maar is hierdie skrywer ‘n moderne Cervantes? Ek dink nie so nie.

Verder weet hierdie leser ook nie genoeg van die Rooms-Katolisisme om al die oogknippies en tongstekies te vang nie.

Hoeveel lesers weet byvoorbeeld dat Mariana Pineda deur Lorca verewig is en ‘n film oor Suster San Sulpicio (p. 133)? Ook die spel met die reïnkarnasie van ‘n  karakter het by my verbygegaan. Met die besoek in New York weet ons darem wie Manuel Puig is (interteks o interteks) en die speelse dwarsklap na Julian Barnes se Flaubert’s parrot het my nie ontgaan nie. Aan beide genoemde outeurs se tekste had ek egter meer plesier, omdat die spel nooit die storielyn ondermyn of die slimheid jou irriteer nie. En die leser wat nie weet dat daar ‘n roman bestaan Betrayed by Rita Hayworth nie, gaan ook nie kop of stert uitmaak nie.

Miskien ‘n geval van slim vang sy baas?

Die roman word aangeprys deur Mario Vargas Llosa, onder andere.  

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]