Petrovna Metelerkamp (e.a.). Ingrid Jonker: Beeld van ‘n digterlewe. Hemel
& See Uitgewers, 2003. ISBN 978-0620285353.
Resensent: Joan Hambidge
Die “geval” Ingrid Jonker
herinner sterk aan die digterslewe van Sylvia Plath. Telkens kom nuwe inligting
na vore, word die kaleidoskoop anders gedraai of aangebied. Toe Plath selfmoord
gepleeg het, was sy die verontregte, die ingedoende, die slagoffer. Maar met
verloop van tyd het verskeie biografieë en ook die laaste digbundel van haar
eggenoot, Ted Hughes (The Birthday
letters) ‘n korrektief gebring op die komplekse lewe van Plath.
Elke storie het twee kante.
Elke mens is ‘n komplekse wese met ‘n jin en jang-kant. In die geval van ‘n
persoon wat selfmoord pleeg en deur die media tot kultusfiguur verhef word, is
dit des te meer moeilik om die persoon eensydig voor te stel. Die digterskap van Jonker is volgens die
digter en akademikus Johan van Wyk in sy doktorale proefskrif (Die dood, die minnaar en die oedipale
struktuur in die Ingrid Jonker-teks met Brink as promotor) eerder die
grafskrif van Jonker: die geboorte tot die dood. ‘n Mens kan nie die gedigte
‘objektief’ of ‘skoon’ lees nie. Die lotgevalle, die persoon, die temperament,
die tragiek speel in en verhef hulle digterskap tot iets meer as wat dit
waarskynlik bedoel was. Maar wie weet werklik. Miskien was dit juis die
bedoeling om ons te herinner aan die kortstondigheid van die lewe en dat nie
alle mense opgewasse is teen afwysing en ambivalensie nie.
Beide Jonker en Plath had
komplekse verhoudings met hul vaders waarvan hulle nooit herstel het nie. Beide
se gedigte is ‘n soeke na die vader, die verwyt dat hy hulle verlaat het.
Jonker se vader het in haar in die openbaar negeer. Plath se vader het deur sy
vroeë dood sy kind verwond. Vrouens met komplekse vaderfiksasies is gewoon
ontmoontlike minnaresse weens hierdie vertroebelde verhouding.
‘n Mens vra jouself af: is daar
nog iets te skryf, te sê oor Ingrid Jonker?
Janet Malcolm het met haar biografie,
The silent woman, waarskynlik die model geskep vir so ‘n komplekse
onderwerp: alles bly interpretasies en hierom is die figuur Plath in doeke
toegedraai op die voorblad. Daar is nie een interpretasie nie, net
verskillendes.
Daar is talle interessante
feite in die boek te lees. Soos dat daar mense is wat dink die vader was nie so
naar as wat ons dink nie en dat dit eintlik deur die pers opgetrommel is. Ook
tersaaklik dat daar die mite bestaan het dat Orgie haar dagboek was en nie Brink se roman nie. Ons hoor dat
Brink en Jack Cope maar altyd ‘n troebele verhouding met mekaar had en dat
laasgenoemde een aand by ‘n partytjie gegil het dat Ingrid Jonker aan hom
behoort.
Metelerkamp se biografie of
studie bevat onbekende en bekende inligting. Waarnemings, stories, mites,
legendes, maar sy kom nie tot ‘n interpretasie nie. Jy moet self besluit watter
roete jy gaan inslaan. Dit het natuurlik sy voordele om met soveel inligting te
sit. Vir my sou die Malcolm-roete meer aanvaarbaar gewees het: om tog tot
ordening te kom.
Vir dosente en studente, veral
gaan dit ‘n handige boek wees.
‘n Ruk terug gaan kyk ek weer na
Francis Ford Coppola se Apocalypse now:
director’s cut.
Is dit bedoeld dat ons vir een
oomblik die regisseur sien wat vir Martin Sheen gil, moenie na my kyk nie, kyk
na die kamera?
Vir my gevoel is die biograaf
of eerder samesteller hier te afwesig. Daar moes miskien ‘n storielyn gewees het. Of voel sy soos
Coppola? Moenie na my kyk nie, kyk na Jonker?
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Fine Music Radio geplaas.]