Nadine Gordimer. Loot. David Philip, 2003. ISBN 0 86486 632 1.
Resensent: Joan Hambidge
‘n Nuwe versameling fiksies,
soos die skutblad dan aantoon van Nadine Gordimer, is uiteenlopend en insigryk
in aanslag. Gordimer het veral aansien bereik as ‘n skrywer wat die politieke
ondeugde van die land beskryf, maar terselfdertyd ook ‘n skerp analis van menslike verhoudinge
is. In die verhaal “Karma” word die opeenvolgende fases van ‘n lewe se deugde
en ondeugde behandel. Soos die woord uit die Sanskrit dan bedui: ‘n mens se lot
word bepaal deur jou dade.
‘n Oënskynlik onskuldige
inleiding van hoe iemand se soeke na status tot gevolg het dat hy ‘n eiendom
besit wat effens bo sy vermoë is wat dan tot ander probleme sal aanleiding
gee. En ook hoe ambisie ons lotgevalle
bepaal. Baie vernuftig is een man geplaas in versekering: om mense teen
lotgevalle te verseker en te beskerm teen ander se grypsug. En teen die noodlot.
‘n Mens sou kon aanvoer dat
Gordimer die politiek as ‘n soort ‘back-drop’ gebruik waarteen sy universele
lotgevalle laat afspeel, behalwe dat die politiek in hierdie land eiesoortig en
ontwrigtend inwerk op die keuses van mense.
Die politiek-sosiale opset kan dus by voorbaat ‘n keuse blokkeer. ‘n Mens se politieke ‘verlede’ en ervarings
word dan ook jou lot, soos dikwels by Gordimer leer (o.a. July’s People).
Waarin hierdie verhale uitmunt
is sub-teks. Daardie onuitgesproke ‘boodskappe’ wat tussen mense draal. Of dit
nou ‘n ouer pa is wat sy vrou versaak om ‘n nuwe minnares in te neem (wat hom
op haar beurt versaak) of ‘n vrou wat in
die diplomatieke opset ‘n kultuur-vreemde verhouding begin, is die verhale
gelade. Met kultuurkodes, sosiale voorskrifte, leuens, implikasies (die man
hoor aan sy minnares se stem dat sy iemand anders sien in ‘n vreemde land).
Die kort-kortverhaal is ook
hier aanwesig en in die skitterende “Homage” kry die leser ‘n blik op die psige
van die koppesneller. Iemand buite grense, verplaas, op pad wat gehuur word om
‘n regering se vuilwerk te doen. Die verhaal word opsetlik vaag geplaas sodat
dit universele waarde kry: dit is die lot van elke huurling geteister deur sy
paranoia en altyd op vlug. Die storie is besonder goed gekomponeer: elke motief
uitgewerk, bykans soos in ‘n gedig.
Waarskynlik wil hierdie verhaal
ook aan haar kritici bewys dat sy nie net oor die lokale kan skryf nie.
Loot is ‘n
uiteenlopende versameling kortverhale, kort-kortverhale en een lang verhaal
(“Karma”). In vele verhale word die
skrywer se funksie direk aangespreek soos in die aangrypende “Visiting George”
waar ‘n pynlike ervaring net sin maak omdat dit verwoord kan word.
“Look-alikes” weer takel die hier-en-nou: werkloosheid, armoede, bergies wat
hul tuis maak op ‘n kampus en die dilemma wat dit tot gevolg het.
In al die verhale – in ‘n mindere
of meerdere mate – is daar karmatiese wette te bespeur. Die boek is dan ook
spiritueel, omdat daar ‘n onderliggende boodskap van dit wat jy saai, sal maai
dra. Ook al word dit verironiseer: die malariamuskiet is nie die “Reaper with
the scythe’ nie, maar sy “emissary, Anopheles”.
Dit is ‘n pakkende leeservaring
en ‘n versameling vol verrassings, wendinge, en veral: nuanses. Die prosa is
spaarsamig, gedronge en hierom treffend.
Dit is asof sy die besware van
haar kritici, dat sy te sterk op die boodskap leun en haar karakters
stereotipeer, hier wil verkeerd bewys. Dit kos R175, maar die 240 bladsye kan
beslis herlees word.
Hierdie versameling is naas The Conservationist my gunsteling-teks
van ons Nobelpryswenner.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Beeld geplaas.]