Friday, March 8, 2013

Robert Berold (Ed.) - South African Poets on Poetry: Interviews from New Coin 1992 – 2001 (2003)



Robert Berold (Ed.). South African Poets on Poetry: Interviews from New Coin 1992 – 2001. Gecko, 2003. ISBN 1-86914-031-1.

Resensent: Joan Hambidge

Writers at work (Interviews from Paris Review) is waarskynlik die maatstaf van hoe ‘n skrywersonderhoud behoort te lyk. ‘n Mens weet mevrou Nabokov dra die broek en dat Harold Pinter uiters sjarmant is. Georges Simenon vertel hoe hy elke drie maande ‘n nuwe roman voltooi, mits sy dokter die groen lig gee en Ezra Pound is verslaaf aan Italiaanse roomys. Ook die onderhoud wat met Truman Capote gevoer is – deur Edmund White - bly ‘n hoogtepunt.

South African Poets on Poetry (saamgestel deur Robert Berold) bevat onderhoude met digters wat in New Coin verskyn het in die jare 1992 – 2001.  Ons verneem op die skutblad dat die diepte en verskeidenheid van ons digkuns hier tot lewe gebring word. Maar daar is geen Afrikaanse digter nie!

Tatamkhulu Afrika, Jeremy Cronin, Ingrid de Kok, Peter Horn, Joan Metelerkamp, Karen Press en Kelwyn Sole maak hier ‘n draai tussen ander name. So behoort die titel “Suid-Afrikaanse digters” te wees? Of eerder Engels-Suid-Afrikaanse digters?

Ingrid de Kok skryf baie insigryk oor die posisie van die digter met ‘n gewete en sien die sosiale bydrae van ‘n digter die skryf van ‘n goeie gedig. Die digkuns is ‘n veeleisende taak en daar is geen maklike oplossing of uitweg nie. Sy is baie uitgesproke polities; die digkuns, egter stel ander eise aan die beoefenaar van hierdie medium.

So som sy die toestand hier te lande op: ”(S)ometimes generous, sometimes mean-spirited family affair” (p. 117) Hierom is buitelandse publikasie so belangrik, want dit gaan om die gedig, nie die profiel nie.  En as ‘n mens in die buiteland publiseer, word jy ten minste gemeet aan werklike groot skrywers. Jy kry ten minste ‘n idee, meen sy, van wie jy is. ‘n Mens kan absoluut met hierdie stelling saamstem en ten tyde van  die samestelling van Brink se Groot Verseboek 2000 bel die uitgewer my op in Cambridge, Mass. Omdat ‘n groepie digters ongelukkig is dat ek ‘n samesteller is, is daar ‘n familierusie aan die woed. Daar op Harvard Square dag ek: van hier ver lyk die Afrikaanse digkuns se intriges soos ‘n rusie rondom ‘n leë testament.

Beide Ingrid de Kok en Jeremy Cronin verdedig en verduidelik hulle liefde vir en beoefening van liriese poësie. En Cronin stel dit ook onomwonde dat ‘n mens nie kan veralgemeen oor die funksie en doel van die digkuns nie.  Hy skryf: "Poetry tends to be disruptive of received meanings, it bites the heels of discourse, it makes visible hidden assumptions and assumed hierarchies embodied in our ways of speaking” (p. 129).

Veral Cronin is ‘n uiters geartikuleerde digter en ook sy sosiale gewete praat egter nie slegte sosiaal-bewuste gedigte goed nie. Ook Kelwyn Sole lewer ‘n belangrike bydrae tot hierdie debat. Die digter – wat tereg deur Cronin is baie knap uitgesonder word, maar van wie se sosiale uitsprake hy verskil – bely sy minagting vir wit liberaliste. Tereg beklemtoon hy die impak wat hierdie land op sy psige en persoonlikheid gehad het. Hoe dan anders? Hy kan ook nie anders as om die teenstrydighede in sowel sy gedigte as sy persoonlikheid te beklemtoon nie en dit is waarskynlik juis hierdie aspek wat sy gedigte so aangrypend maak vir hierdie leser.

Hier is ‘n vakman aan die woord, maar iemand wat ook uiters krities is wanneer oppervlakkige sosiale en politieke veranderinge in die media aangebring word. Vir intellektuele Isidingo’s het hy geen tyd nie.

Een van die aangrypendste bydraes is Tatamkhulu Afrika s’n. Hy praat oor sy identiteit en in welke mate sy Moeslim-kultuur sy lewe en skryfwerk beinvloed het. Toe hy as ‘n tiener besef hy is aangeneem en boonop nie ‘wit’ nie, het sy lewe dramaties verander. Sy bodem het as’t ware uitgeval. Dít en die pynlike ervaring in ‘n oorlogskamp toe ‘n roman opgeskeur en vernietig is, blyk die twee traumatiese dryfvere in sy skrywerk te wees. Ook soos die voorafgaande digters glo hy in tegniek, en nogmaals tegniek. Orale digkuns had ‘n plek in die ‘struggle’, maar nou  is net die goeie gedig vir hom aanvaarbaar.

Ook Peter Horn se bydrae is gesaghebbend in die ondersoek na die verhouding tussen estetika en maatskaplike probleme. As Duitser is hy eweneens bewus van die mag van taal en die probleme wat dit vir ‘n digter skep om in ‘n tweede taal te werk.

Dit is ‘n belangrike en uiteenlopende versameling digters aan die woord. Wanneer gaan daar soiets in Afrikaans verskyn oor Afrikaanse digters?

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]