Kim McClenaghan. Revisitings.
UCT younger poets series No 2, Snailpress, 2002. ISBN 1-874923-65-5.
Resensent: Joan
Hambidge
Die landskap van die hart. Dis die beste opsomming vir
hierdie gawe debuut van Kim McClenaghan, Revisitings,
wat die tweede een is in die UCT younger poets series, uitgegee deur Gus
Ferguson. (Time and again van Fiona
Zerbst was nommer 1.)
McClenaghan skryf met ‘n selfvertroue en tegniese beheer
wat ‘n mens selde by ‘n jong digter vind. Ook die insigte is volwasse.
Die digter skryf ‘n gestroopte, eintlik ragfyne gedig wat
hy laai met betekenisse en implikasies.
Dit gaan dikwels oor verlore liefdes, jeugherinneringe en verlies. Die
magiese triade van die digterlike bedryf. Maar hierdie jong digter laai dit met
nuwe vuur.
In “Heart’s tinder” skryf hy in teen die bekende
struktuur van die liefdesvers wanneer hy op ‘n verrassende manier besluit:
I love you no longer –
I never have, nor ever will.
Die openingsvers stel dit duidelik: alle gedigte handel
oor eindes (en verliese). In bykans alle verse slaan die digterlike bedryf
deur as een wat alles bepaal en dikteer. Dit word vir die digter ‘n doelbewuste
keuse (“where the poems of life are written”): hierom is daar dikwels ‘n
afstandelike blik op mense, situasies. Die digter vra dan ook himself af: “I write to live,/ or live, to write of
life”.
“I, spinnaker” gebruik vernuftig skipbeelde om die
liefdesreis te beskryf en die titelgedig is so suiwer en indrukwekkend. In “Toads” word ‘n jeugherinnering gelyk
gestel aan ‘n pynlike ervaring dat sy geliefde hom versaak het. As kind kon hy
paddas se koppe vermorsel; nou word die ander man hierdie amfibiese dier wat hy
verag. Ook word die kinderverhaaltjie
van die prinses wat die padda moes soen hier geaktiveer.
Begryplik dat die digter ook ‘n liriek vir Leonard Cohen
skryf met die ontstellende stelling dat ‘n geliefde jou lewe steel as dit sleg
afloop. Ook in “The way of things” word hierdie onbegryplike proses van die
liefde verhaal. In “Poets and lovers”
word die verbintenis tussen skryf en liefde (wat is eerste? wat is die
belangrikste?) behandel.
Die digter luister ook na sy ‘inner music’. Hierdie
verruklike gedig word ook ‘n klein ars poetica wat saamgelees moet word met
“All this time” (vir Cavafy). Eweneens behendig is die gedig oor Dylan Thomas
waar die digter aan die woord gestel word. Die verse oor (en vir) Guy Butler en
Arthur Nortje word eiesoortige lykdigte waarin reëls van die digters aangepas en
gebruik word in sy vers. Nou onlangs het Lina Spies in ‘n artikel in Stilet onsinnighede kwytgeraak oor in welke mate die lykdig van een digter ‘n ander se
stellings en tegnieke mag gebruik: hierdie verse wys haar teorie verkeerd.
Daar was ‘n lang tyd toe die Afrikaanse debutante hul
Engelse mede-digters ver verbygesteek het. Dit is die afgelope twee jaar of wat
nie meer die geval nie. Daar is ‘n handvol sterk en belangrike stemme waarvan
kennis geneem moet word. En Kim McClenaghan is só ‘n digter, nes Isobel Dixon,
Finuala Dowling, Fiona Zerbst, e.a.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]