Salman Rushdie. Step
across this line. Collected
non-fiction 1992-2002. Jonathan Cape, 2002. ISBN: 0 224 06160 7.
Resensent: Joan Hambidge
Van die kleurryke Salman Rushdie, wie se Midnight’s children genomineer is as
die Booker van die Booker, oftewel die mees uistaande roman van die eerste
vyf-en-twintig jaar van die prys se bestaan, verskyn Step across this line, ‘n bundel essays. Rushdie se allemintige ego
(hy het immers eenkeer die stoel agteruit geskop toe hy nie die Booker ontvang
het nie) en die fatwa op sy lewe, omdat hy die Ajatolla onrustig gemaak het met
sy uitsprake oor Moslems en Allah, kom ook hier aan bod.
Die versameling essays is soos Montaigne dit oorspronklik
gedefinieer het as ‘n teks wat persoonlik in aanbod is en ‘n wat ‘n bepaalde
punt of lewenswaarheid aan die leser wil oordra. Nie noodwendig
moreel-didakties nie, maar ‘n lewenswaarheid of insig. En dit is hierdie essays
bepaald. ‘n Bonte en briljante versameling oor uiteenlopende onderwerpe soos sy
liefde vir sokker en die kultuur van hierdie spel, die dood van Lady Diana, ‘n
persoonlike huldeblyk aan Angela Carter, ‘n kritiese blik op J.M. Coetzee se Disgrace, oor die fotografie van Avedon
en hoe ‘n persona gekonstrueer word, oor sy eerste leeservaringe en die invloed
van The Wizard of Oz op sy
skryfwerk….
Uitstaande en insigryk is sy essay oor die dood van Lady
Di: hy vergelyk dit met Ballard en Cronenberg se filmweergawe van Crash. Op ‘n merkwaardige wyse is haar
dood geseksualiseer deur die kamera, die objek (en ook geliefde) waarvan sy
juis probeer wegvlug het. Die ster en
die motor. En die verdoemende ongeluk word so voortreflik semioties geanaliseer
in hierdie essay. (“She died in a sublimated sexual assault”.)
Sy analise van sokker en die kultuur rondom hierdie
sport, verdien ook vermelding. Geen wonder Vargas Llosa se mond het oopgehang
nie. Nie al die essays het my interesseer nie. Die analises van Amerikaanse
politieke figure is dikwels vir die nie-belangstellende te kripties. Sy bestes is natuurlik letterkundige en
media-kwessies: ‘n kort blik op Arthur
Miller; oor invloed en die gevare van die skrywer wat praat oor sy invloede; die
omdigting van ‘n roman tot film en die probleme wat dit skep vir die skrywer;
wat die titel Reservoir Dogs beteken
en hoe dit in inspeel op Louis Malle se onvermoë om sy eie films se titels uit
te spreek.
In “Heavy Threads” word ‘n blik gee op dit wat agter die
skerms aangaan met beroemdes. Sy
ontmoeting met U2 en die skrywer wat ‘n alternatiewe beroep as akteur in sy
jeug beoefen het, is werklik onthullend. Ons onthou ook die kameerolletjie in Bridget Joness’s Diary.
En as ‘n mens dink die aanval op sy persoon het nie ‘n
letsel gelaat nie, is jy uiters naief. Die hele verdelging van The Satanic Verses word met eerlike
besonderhede geskryf. Onder meer ‘n besoek aan Indië wat gejukstaponeer word
met die Hansie Cronje-insident en die besoek van Bill Clinton, wys van watter
kaliber hierdie skrywer se waarnemingsvermoë is. Hoe sou hy ooit kon weet dat
‘n studiekursus aan Cambridge oor die Profeet se besoeking en die sataniese
verse hom in soveel moeilikheid sou laat beland! Hy is opreg ontsteld oor die
Japannese vertaler wat doodgemaak is deur die boek wat deur min teëstanders gelees
is, maar met groot drif verguis is. Sy seun met sy meer moderne lewenshouding
help die skrywer om na sy geliefde land te kyk.
Dit is ‘n skrywer se kladboek. Dit sal nie almal behaag
nie. Dit is subjektief, dwars, intelligent, belese, tendensieus en uiteindelik
omstrede. Maar veral goed geskryf soos wat ‘n mens van hierdie imposante
skrywer sou verwag. Dit is boonop ‘n plesier om te lees.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Beeld geplaas.]