Don Maclennan. The
road to Kromdraai. Snailpress, 2002. ISBN 187492363-9.
Resensent: Joan
Hambidge
Op die voorblad is daar ‘n mooi foto van die digter: sy
een oog is donker, die ander is helder verlig.
Op die agterblad bely hy dat sy gedigte gaan oor die wete dat daar iets
soos diepere insigte bestaan. Hierom is die bundel dan ook een wat handel oor
die dood en die wete dat die dood juis paradoksaal die lewe bevestig. Maclennan is ‘n bekende digter,
kortverhaalskrywer en dramaturg. ‘n Ou hand dus.
Veral die tweede gedeelte van hierdie bundel bevat
wonderlik ontroerende verse wat as epifanies getipeer kan word. ‘n Klein moment
of insident verraai dikwels vir die digter ‘n dieper waarheid . In “East London
incident” word ‘n swart vrou waargeneem wat haarself was voor sy werk toe
gaan. Dit word egter meer as ‘n
wastoneel: sy adem ook die primordiale krag van die see in.
Ook oor sy liggaamlikheid, al is die liggaam ouer en
afgetakel, skryf hy eerlik en ontroerend. Sy begeerte tot vroue (veral ‘n jong
vrou) en sy blik op sy vrou is gelaai met soveel selfbewussyn en -kennis. Die
metafisika spreek uit die alledaagse: ‘n klip, ‘n blom. Die verganklike word
telkens teen die Ewige geplaas, maar met die wete van die Emerson-motto: “Other
world? There is no other world; here or nowhere is the whole fact.”
En dit is hoe ‘n mens waarskynlik die bundel moet lees:
‘n soort ‘carpe diem’-benadering wat ook deur ‘n Boeddhistiese lewenswyse
ondersteun word. “Being alive” kan gelees word as so ‘n wyse bestekopname. In
“Originality” ook die wete dat die digterlike proses al beter deur ander
verwoord is, maar hierdie leser voel sterk daaroor dat MacLennan ‘n eiesoortige
visie het wat kenmerkend is van die suksesvolle digterskap: tegniese beheer en
eerlikheid.
Daar is niks ‘phoney’ aan hierdie gedigte nie. Dit is
geskryf deur iemand wat presies weet wie hy is, die lewe gesien het, die
erotiek nog sterk beleef, vreugde het aan die natuur en omgee vir sy medemens.
Dit word alles sonder tierlantyntjies beskryf.
Die slotvers “Kromdraai” is ‘n ars poetiese gedig:
Auden thought art
was our chief means
of breaking bread with the dead.
in his canny way
he knew that rock creates
the only truly human landscape.
“Three skeleton pieces” moet hiermee saamgelees word. ‘n
Mens kan nie veel van die digkuns leer nie, meen die digter; tog elders voel hy
weer dat die digproses belangriker as brood is. In die lykdig “An epitaph for
Guy: 26th April 2001” word die kortstondigheid van die lewe tenoor
die durende skryfproses geplaas.
Dis ‘n goed afgeronde bundel. Dikwels lyk gedigte met ‘n
eerste lees maklik of toeganklik, maar dit is daardie soort eenvoudigheid wat
deur tegniese behendigheid, èn met die ouderdom, tot stand kom. En daar is ook ‘n respek vir ‘n digterlike
tradisie en wysheid van soveel millennia:
I am still groveling
at the roots
of consciousness,
trying to read its scrawl. (“To live”).
“Going to Ithaca” is ‘n lykdig oor die selfmoord van ‘n
vriendin; vir hierdie leser ‘n dubbele pynlike ervaring omdat sy toevallig die
persoon en omstandighede ook geken het.
Dit het dan ten slotte van hierdie bundel ‘n dieper leeservaring gemaak
omdat hierdie gedig ook kon heling bring.
Daar is wel ‘n ander wêreld en dit is die een van die
gedig.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]