Julian de Wette. Tussen
duine gebore. Protea Boekehuis, 2002. ISBN 1919825 70 3.
Resensent: Joan Hambidge
‘n Mens sou ten beste hierdie bundel as nostalgies kon
beskryf. Daardie soort bundel waarin die digter ‘n bestekopname van die jeug en
‘n dikwels pynlike verlede maak. De Wette was vir lank ‘n banneling en in New
York woonagtig soos die digter Casper Schmidt. Dit is die werk van die digter
wat uit so ‘n vreemde domein skryf van “verban/verbinne”. So ‘n digter skryf
ook dikwels in ‘n tussentaal of gebruik vreemd-argaïese begrippe juis weens
hierdie ontheemding.
Tussen
duine gebore is egter ‘n bundel van die terugkeer. Die noodwendige
gevolg van so ‘n publikasie is dat dit dikwels outyds of anders mag klink,
omdat die diskoers van die tyd die digter verbygegaan het. Maar hierin is daar
ook ‘n soort sjarme opgesluit. Trouens, Elizabeth M. du Toit se Towertuin is juis hierom tersaaklik.
“Shakespeare in China” dra iets van die dubbelvisie oor.
Dat die digterlike blik altyd iets van vervreemding en outsiderskap impliseer.
Of dit nou Shakespeare in China is of Wagner in Bloemfontein: dit bly ‘n
dubbel-blik, ‘n toestand van ‘displacement’. Soos die pianis Suid-Afrikaanse
Marc Raubenheimer wat in New York optree en deur ‘n mede-landgenoot waargeneem
word in Carnegie Hall.
Die bundel se aanslag is hoofsaaklik verhalend. In
“Dorpslewe” word Wilma Stockenström aangespreek as ‘n mede-boorling van Napier.
Dis natuurlik ‘n tegniek om die medemenslikheid en die aard van die dorpslewe
te verbeeld. Dis ‘n gemoedelike vers, miskien nie skerp-satiries genoeg nie, en
wat ook gelees moet word saam met Peter Blum gedig oor die onderwerp.
Die digter se aanslag is swoel. Hy gebruik baie woorde en
geil beelde (“Teeltkeuse”) en die Bybel verskaf
motto’s en wegwysers vir die gedigte. “Na waters waar rus is” (opgedra aan wyle
Casper Schmidt), is ‘n gedig waarin daar fisies en spiritueel teruggekeer word
na vele kronkelpaaie. “Diep in die skuld en onskuld” is ‘n gesprek met die
vader wat herinneringe aan die Bybel, skool en die liefde van die oorlede vader
oproep. Die kind onthou hoe hy soggens ‘n soen ontvang het deur die vader se
skeerroom.
Die vers “Familieportret” is ook soos die voorafgaande
vers, ‘n spieëlteks. ‘n Sterk navrante vers is “Boorlinge sonder etnisiteit”,
wat ook verklaar waarom die digter in die buiteland moes woon. Apartheid en die
kleinlike klassifikasie van Kleurlingmense was die rede hiervoor.
“Liefdemaak” is ‘n pragvers en die hele afdeling
liefdesverse is werklik iets nuuts in hul idiomatiese aanbod. “Die waterkraan”
is ‘n subtiele klag op die ongeregtigheid van armoede en juis omdat dit só
onderspeel word, het die vers ‘n sterk effek:
langs die kraan waar die teewater vir ontbyt
in propvol emmers staan, die skottelgoedwaswater,
die leiwater, die drinkwater, die badwater, die
doopwater.
“Gedenknaalde wat haak” neem ongeregtigheid ook na plekke
buite hierdie land en “Die Napier-belydenis” kritiseer ook die kerk se rol in
ons apartheidverlede. In “Nagmerriepraatjies: Armed Response” word die waansin en
geweld van die nuwe Suid-Afrika gekritiseer, terwyl die opgeblasenheid van
ministers ook nie ongestraf bly nie.
In sy blik op die landskap en diere, is die digter
kennelik bly om terug te wees. Alles word in die kleinste besonderheid
waargeneem. Daar is nie bitterheid by hierdie digter nie. Inteendeel. Die verse
is sprankelend en dikwels ironies (soos “Uitnodiging”). ‘n Mens vind ook humor
en speelsheid. Daar is ‘n handvol baie mooi verse. Soms, vir my gevoel dan, is
die gedigte te wydlopig en woordoordadig. Die Bybelse ondertoon laai ook vele
van die gedigte met ‘n spirituele dimensie sodat dit gelees kan word as ‘n boek
van letterlike en innerlike tuiskoms.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Rapport geplaas.]