Saturday, April 24, 2021

Gedig | Joan Hambidge - Swart April 2021 | 2021

 Swart April 2021

 

Is poësie nog moontlik

- vra Adorno -

na Auschwitz?

 

Die argiewe en dokumente

in my tuisbiblioteek

verklap 'n beheptheid

 

met woorde sinne

om sin te maak

van myself én ander se

 

woorde sonder omhaal

of afhaal "April

is the cruelest month"

 

onthou ek Eliot

se gevleuelde woorde

in 'n tyd toe vuur

 

'n biblioteek

ontbrand uitbrand afbrand

geen mense nou dood

 

net boeke opskryfsels

vertalings transkripsies

bleek bleker Bleek Lloyd

 

C. Louis Leipoldt

se al-die-veld-is-vrolik

in die leeskamer dalk uitgewis?


© Joan Hambidge