Tuesday, April 23, 2019

Gedig | Joan Hambidge - Notre Dame (2019)



'n Teken, die sémeion epektaseós,
'n kruis onaantasbaar
vol genade, geloof, veral
álomteenwoordigheid.
Net voor Pase, in hierdie jaar 
toe dié katedraal, 'n heilige basilika,
onderneem in 1160, onverwags 
'n brandende aanslag beleef.
Die Franse rewolusie is oorleef
nes vele restorasies en besoeke
van toeristiese bespieders onbeskaaf.
Ten spyte van die tuimelende
flèche en houtwerk, is Hy hiér,
met al die ander vertrekkendes,
eens geliefdes, bekendes na aan ons
in herinnering en gemis durend.
God as contrefort?

Pase 2019