Monday, October 24, 2022

Gedig | Joan Hambidge - Verjaarsdagvers vir Antjie

Vir Antjie Krog 

Met beurtkrag ‘n verjaarsdagvers vir jou:

 

die wasmasjien dreun in die agtergrond 

soos ‘n trekker in die Vrystaat

deurmekaar geslinger; 

die koffiemasjien klik weer 

aan, onverwags, lesend (ek) aan 

“land van genade en verdriet”.

 

Siklies jou verse wat alles 

van vrouwees, nee menswees karteer.

Jy skryf omdat jy woedend is glo;

tog lees ek jou verse as oop en teer:

aards en sonder fieterjasies, soos jy.

 

Op ‘n keer skryn ‘n pleister om jou vinger

nadat ‘n mes vlym met ‘n beesslagting 

op julle familieplaas genaamd Middenspruit.

Op ‘n ander keer gee jy suurlemoene

uit jou tuin aan vir my en ‘n doring

laat bloed onverpoosd spruit.

 

Hou jou wapens blink, leer jy ons.

Nes jou “classy” heldin Eybers,

ont-grens jy alles in jou unieke stem 

oor die intieme aard van die digkuns …

Jou grootste liefdesverhouding bly

met die poësie: maklik, moeiteloos, makelloos, 

matig, minsaam vermy die dogter van Jefta.

 

“Mens funksioneer net wanneer jy dig”.

Die ongehoorde soort word hoorbaar

verklank in jou eiesoortige, dwingende,

verslawende verse: van begin tot einde jý.

Mannin en Lady Anne; sommer net Anna Krog,

‘n digter sonder enige voorgee of bedrog.