Barbara Johnson se seminale essay, "The critical difference: Balzac's Sarrasine and Barthes's S/Z" in Robert Young (red.) se Untying the text - a post-structuralist reader het in 1981 by Routledge & Kegan verskyn. Hierin lees sy die beroemde verhaal van Balzac "Sarrasine" as 'n opposisie tussen BartheS en BalZac.
Roland Barthes
se S/Z het in 1970 (1974) verskyn by Hill and Wang (New York) en is vertaal
deur Richard Miller. Hierin gebruik hy vyf kodes om te verhaal te lees:
Die
hermeneutiese kode; proaieritiese kode of empiriese stem; die semiese kode of
die stem van die persoon; die simboliese kode en die sogenaamde referensiële
kode of die stem van die wetenskap.
Sarrasine
(1830) is die verhaal van die castrato, Zambinella. Sarrasine is 'n beeldhouer
(en student van Bouchardon) wat 'n kompetisie wen, Rome toe gaan en een aand by
'n teateropvoering Zambinella sien. Hy raak verlief op haar, maak 'n kleibeeld
van sy geliefde en een aand by 'n party, probeer hy haar verlei. Dit gebeur
egter nie en die verteller suggereer 'n sekere element van gevaar wanneer Zambinella hom afwys.
Sarrasine beraam 'n plan om haar te ontvoer van 'n party
by die Franse Ambassade. La Zambinella is aangetrek soos 'n man en die
kardinaal, haar beskermheer, bely teenoor Sarrasine dat sy eintlik 'n castrato is. Sarrasine glo
hom nie en neem haar na sy ateljee waar sy erken dat sy wél 'n castrato is. Hy
is so ontsteld dat hy haar wil doodmaak, maar die kardinaal se volgelinge keer
dit en maak Sarrasine dood.
Die verhaal
word egter vertel vanuit 'n agterna-perspektief deur 'n verteller by 'n bal van
Monsieur de Lanty, waar daar 'n onbekende man aanwesig is. Hy sit langs die
verteller se gas, ene Beatrix Rochefide (die toehoorder) van die vertelling.
Die verteller bely dat hy die volgende aand sal vertel wie die persoon is. Die
ou man is Zambinella en die verhaal van die castrato ontstel Mme de Rochefide.
Dit is 'n
raamvertelling oftewel 'n verhaal-binne-'n-verhaal. My opsomming is
kursories; daar is ook ander belangrike karakters wat die storie dra, soos
die beeldskone Marianina en haar broer Filippo.
Die verhaal
werk met opposisies tussen manlik/vroulik; realisme/fantasie; Italië/Frankryk;
verteller/toehoorder.
Barthes breek
die verhaal op in lexias en gebruik die vyf genoemde kodes om die teks oop te
maak. As operakenner is die castrato en dus kastrasie vir hom die sentrale punt
van die teks.
II
Marié Heese se
Maestro het sopas verskyn by Human & Rousseau. Dit is 'n komplekse verhaal
oor die lewe van die beroemde beeldhouer Gian Lorenzo Bernini in die vorm van 'n Bildungsroman. Om hierdie
roman ten volle te begryp - dit speel immers in die sewentiende eeu af - word
die leser eweneens met verskillende kodes gekonfronteer.
Daar is
besinnings oor die kosmologie; die beeldhoukuns (en hoe dit in daardie tyd
bedryf is); Petrarca, die liefdesdigter gebore in 1304, is hier neffens
godsdiens, oorlog, die liefde (en straf wanneer daar buite-egtelike verhoudings
is); die Spirituele Oefeninge van sint Ignatius van Loyola; die rol van die
pous; die funksie van die castrato; Galileo Galilei; die impak van Michelangelo en hoe
Bernini se rol in sy tyd uitgespeel is.
Die Barokkuns
is opgevolg deur die Neo-Klassisisme en Bernini word in hierdie roman herwaardeer, net soos die verteller in Sarrasine lig werp op die lot van die
castrato. Heese se roman gebruik die referensiële kodes (wat die geskiedenis
getrou weergee), maar sy gebruik ook fantasie om haar teks verder uit te bou.
Dit is 'n
uitstekende roman wat getuig van enorme navorsing, maar dit word nooit 'n
belemmering vir die speurende leser nie.
In beide
tekste is die semiese kode (die stem van die verteller) van belang. By Balzac
is dit die verteller wat alles "raam"; by Heese 'n ouktoriale verteller
wat manipuleer, en in 'n nawoord bely waar sy verander of ingetree het.
© Joan
Hambidge