Saturday, September 10, 2016

Onderhoud: 5 vrae aan Joan Hambidge, deur Marchelle van Zyl

Die digter Joan Hambidge vier môre haar 60ste verjaardag en haar nuutste bundel, Indeks, is van vandeesmaand te koop. Marchelle van Zyl het met haar gesels.

Joan Hambidge
Foto: Edrea Cloete

1. As jy oor die ses dekades terugkyk, wat wil jy vier en wat sal jy anders doen?
’n Lewe waarin ek telkens die vermoë gehad het om sowel teenstand as geluk kreatief te verwerk. Hiermee dan iets wat die hier-en-nou en die ek oorstyg, omdat ’n boek ook iets vir iemand anders beteken.

By nabaat sou ek miskien losser wou staan van die Afrikaanse letterkunde met sy spelers en hul agendas. Ek dink ’n skrywer moet haar eie interne GPS vertrou.

Luister na jouself en ten minste een goeie leser (of twee) wat nie oneerlik is nie.


2. As jy ’n resensie van jou lewe moet skryf, wat sal jy sê?
Dit is ’n pikareske roman. Daar is reise en uitdagings, en die aweregse, dwarse hoofkarakter gee stem aan gay vroue, raak betrokke by polemieke en is dikwels betrokke by die taalstryd. Dalk windmeulens.

Te midde van al die polemieke en stryde skryf sy voortdurend gedigte oor stilte. Sy is wars van oneerlike mense en het onlangs ’n joernalis met ’n retrohaarstyl in sy dinges gestuur oor hy ’n leuen versprei het.

’n Lojale, driftige persoonlikheid, wat nie tyd vir dubbelpratery het nie. “Kom tot die punt” is haar motto. Weeg jou woorde. Hierom heet die blog Woorde wat weeg.


3. Wat is die topboeke wat jy glo almal in hul leeftyd moet lees?
Saul Bellow se Herzog. Die versamelde gedigte van Pablo Neruda, D.J. Opperman, Elisabeth Eybers en N.P. van Wyk Louw. Die laaste romans van Karel Schoeman.

Ek is ’n poësieleser en die werk van Emily Dickinson bly ’n hoogtepunt.


4. Waarna kan ons uitsien in jou nuwe bundel?
Indeks karteer twee landskappe: die Argentynse en Chileense wêreld. Die bundel werk met die Andes as ’n broeiende simbool. Daar is verse oor afskeid, bestekopnames en tergery: Ek speel met die ou weduwee Viljee . . . En daar is ’n reeks oor Neruda.


5. Wat maak jou gelukkig?

Wanneer ek ’n gedig voltooi het en ek voel dat ek iets nuuts kon sê.

(Hierdie onderhoud word geplaas met vriendelike vergunning van Die Burger)