Die film lewer kommentaar op rasvooroordeel (ja, haal jou
Fanon uit) en die impak van 'n pynlike jeug op jou identiteit (lees gerus maar
Alice Miller se The drama of being a
child).
Waarvoor lag mense? Vir stereotipes, rasvooroordeel, vir
dit wat jy vrees en moet kleiner maak sodat jy in beheer bly (hier sal Freud
help).
Die film begin uistekend: ons sien hoe mense in sirkusse
verniel en mishandel word. Hoe die baas-klaas-stelsel werk op die Franse
platteland.
Dan kom die deurbraak vir die swart nar, Chocolat, sonder
papiere en identiteit, dus. Hy kry skielik agentskap wanneer 'n swart
intellektueel hom aanpraat oor hoe hy verniel word in optredes.
Die Paryse gedeelte lyk soos 'n opera-verhoog. Gekunsteld.
Toulouse Lautrec is ’n interteks. Ons kyk die film met die wete van die huidige
migrasie-krisis in Parys en hoe chauvinisties die Franse is (en was).
Die spel is uitmuntend. Beide mans het die kuns van die
nar goed onder die knie. Die verhaal is op die werklikheid gebaseer (aan die
einde is daar ’n dokkie) en dit is gebaseer op Chocolat, clown nègre. L'histoire oubliée du premier artiste noir de la
scène française deur Gérard Noiriel.
Soos alle boodskap-films begin die preek deurslaan hier
teen die einde se kant, verloor dit krag. Die film is dan gewoon te lank en dit
eindig verby die natuurlike slot. Uiteraard is die probleem dat dit gebaseer is
op 'n werklike verhaal, maar 110 minute is ver te veel. Met die musiek van
Gabriel Yared wat te dramaties help saamvertel.
Wanneer dit suggestieryk is (soos aan die begin) en die
toertjies uitgestal word, imponeer die film. Die twee hoofakteurs is
uitstekend. Liggaamsbeheer en gesigsuitdrukkings wat jou bybly.
As 'n mens die dieper boodskap uithaal en die lot van
Chocolat analiseer wat met 'n vertolking van Othello skitter, maar die wind van
voor kry en uiteindelik ellendig sterf, word jy skoon bedruk oor rasspanninge.
Het ons in die jaar 2016 al losgekom van die wit/swart-spanninge? Of is ons
altyd besig met 'n ons/julle-gesprek?
En kyk wat lees die jong Chocolat snags in sy tentwoning.
© Joan
Hambidge