Vandag – 11 September –
vier die digter en literator Joan Hambidge haar 60ste verjaardag en ook word
haar 25ste bundel, Indeks, vandeesmaand bekend gestel. Amanda Botha het haar
oor haar werk uitgevra.
Joan Hambidge: “ ’n Mens skryf verse in die donker ure
wanneer die krag van inspirasie af is.” Foto: Philip de Vos
Sedert haar debuutbundel, Hartskrif, in 1985 verskyn het, het sy
dikwels in een jaar twee titels gepubliseer en twee jaar agtereenvolgend – 1989
en 1990 – elke jaar drie bundels die lig laat sien. Sy het in Afrikaans ’n
ongeëwenaarde publikasierekord. In dieselfde tyd het sy ook ses romans uitgegee
en twee literêre werke.
In 1986 ontvang sy die Eugène
Maraisprys vir haar bundel Bitterlemoene
en in 2012 die ATKV-Poësieprys vir haar bundel Visums by verstek. Die Litera-prys vir ’n gedig oor Eugène
Marais in Lykdigte is ook aan
haar toegeken.
Indeks het pas verskyn en bied ’n geleentheid vir terugskoue en bestekopname van
jou lewe en digterskap. Wat is vir jou spesiaal aan die mylpaal-verjaardag en
’n 25ste digbundel?
Dat ek kon aanhou dig en die
voorreg kon hê om gepubliseer te word met soveel kundige raadgewers en
uitgewers! Henning Snyman (as leser), dan mense soos Etienne Bloemhof, Martjie
Bosman, Charles Fryer, Connie Nel, Hettie Scholtz, Marietjie Coetzee, Frederik
de Jager, Hester Carstens, Ampie van Straten, onder andere, in onalfabetiese
volgorde!, dog elkeen op ’n unieke manier, fyn lesers.
En dan kritiese verslae van A. P.
Grové en T. T. Cloete of Heilna du Plooy – literatore wat kundig inspeel op ’n
teks.
En ja, resensente wat meen jy
skryf te veel (haha Merwe Scholtz) of dink jy banaliseer die liefde (hoho
tydgenote).
Terugskouend het jy verskillende
temas oor die jare verken. Brei uit oor die temas wat jy meen jou digterskap
voed?
Verlies, familieskap, reis,
portretverse, ekfrastiese verse, die parodie, religieuse verse . . . Nee,
genugtig, vra ’n kritikus eerder.
Jy is losweg die produktiefste
digter in Afrikaans. Wat laat jou steeds dig? En indien wel, hoe beplan jy ’n
bundel?
Wat laat ’n mens dig? Komplekse
vraag. Indien ek presies sou weet, sou ek waarskynlik nou ophou. Ek beplan ’n
bundel rondom ’n reis of ’n aflegging: in my jeug ’n verhouding; nou die inkyk
op die herinnering aan soveel ervarings, mense, bestemmings . . .
My paspoort
Noodgewonge in ’n landing site
beland
Argentina teenoor Republika
Hrvatska,
Nam Phi neffens Beijing se groot
muur-visum.
My boekie propvol en net op één
blad staan jy,
skeef gestempel, my paspoort na
oraldeur.
Nee, ek lieg, dis twee: Zanzibar
en Egipte.
Stone Town blakerend en
stinkend;
Kaïro se piramides en kamele en
gidse.
Op al die plekke sonder jou,
daar was jy:
Tokio, Los Angeles, Santiago de
Chile,
onsigbaar, ongesiens, ongehoord
in die omtes van my reisende
hart
van kontinent tot kontinent in
nood,
in al die o-klanke van aftrek en
optel.
En hierdie gedig, uit Astrak, sal ek later verander in ’n propperse
sonnet.
Sou jy uit jou oeuvre ’n bundel
kan uitsonder wat vir jou besonder spesiaal is?
Dad. Die bundel oor my vader – my ou Dad wat my deur die jare aangemoedig het.
Ook Hartskrif. My eersteling.
En Verdraaide raaisels wat my
eerste kennismaking met Suid-Amerika registreer – wat nou, in Indeks, saamgesnoer is. Sedert 1989 het
ek hierdie landskap vyf keer besoek. In Argentinië was ek twee jaar terug;
Chili verlede jaar oor Desember en Januarie. Met die Andes as die simbool wat
’n skeidslyn is tussen die mens wat ek was en nou is.
In “Ars poetica”, die eerste
gedig in Indeks, bely jy dat
daar ’n tyd was dat ’n versreël of inval “sonder slag of stoot” hom kon aanmeld
en dat daar dalk nou ’n “beurtkrag met die digterlike proses” is. Sal jy dalk
meer toeligting bied?
Die ouer digter is waarskynlik
meer tegnies bedrewe. Jy kan ’n gedig ten spyte van jouself of ellendes “skep”.
’n Gedig spring nie meer uit jou uit nie. Maar jy kan dit tegnies laat werk . .
.
Die politieke en ekonomiese
troebelhede (van ons land) speel saam, nie waar nie?
’n Mens skryf verse in die
donker ure wanneer die krag van inspirasie af is.
Jy bied ’n afdeling aan as ’n
inventaris van verdriet/verlies. Jy hou in digreëls herinneringsmomente van ’n
lewe vas. Wil jy uitbrei oor die verrekening van verlies in jou werk?
Verlies is die voedingsbron van
my digkuns. Die dood van geliefdes (my vader, geliefdes). Ek is waarskynlik ’n
romantikus. Ek word so maklik teleurgestel, maar terselfdertyd bly ek
voortbeweeg. Driftig, enersyds dromend; andersyds krities, gedistansieerd.
Foto: Philip de Vos
As jy bestek opneem wie teken jy
aan as invloede of deur wie sou jy digterlik gevoed word?
Ek word digterlik gevoed deur
verskillende digters, maar my vriendskap met Johann de Lange moet ek uitsonder
as ’n digterlike voedingsbron. Hy is ’n besondere digter en iemand wat my verse
lees, objektief en altyd met belangrike aanwysings.
Jy het al genoem dat jou
studente in kreatiewe skryfwerk onder jou leiding ’n eie stem moet vind – jy
duld nie epigone nie.
’n Mens moet wanneer jy
skryfskole aanbied jong digters begelei om hul eie stem te vind en nie blote
naskrywers te word nie. Hulle moet hulself ook in ’n stadium ontheg en losmaak
van my as mentor en voortbeweeg. Hopelik dan al die raad onthou en dit toepas.
Soos: lees soveel moontlik, kyk of jou beelde klop, kan jy iets bydra . . .
Jy’s reeds weer aan die werk.
Soos jyself sê jou telling is “sixty-love”. ’n Roman en nog ’n bundel aan die
kom?
’n Nuwe bundel, Astrak, is in wording en ’n roman, Begeerte, wat afspeel in Wene. Freud,
Klimt, The Third Man, Sabina
Spielrein en die Riesenrad is die intertekste. Opvallend ook dat mense vergeet
dat ek ook romans skryf.
Hambidge se bundel Indeks word
op Donderdag 22 September om 18:00 by die Book Lounge in Kaapstad bekend
gestel.
(Hierdie onderhoud word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)