Wie sou ooit
kon dink dat die kultusfilm Fargo in
só ‘n inspirerende reeks met tien episodes omskep kon word? Nou lê die tweede
reeks van 10 episodes op my en wag.
Soos die tas
met geld uit te grawe word en weer begrawe word in die sneeu, het die
serieskrywer verder beweeg met die plot.
Vir ‘n opsomming
van die rolprent plot sien: Fargo (film) - Wikipedia, the free encyclopedia.
Hier volg my opsomming van die Wikipedia en soos ek die film onthou:
Die verhaal
speel af in 1987, in Minneapolis, waar Jerry Lundegaard (Macy) bedrog pleeg met
GMAC-lening waar hy fantoom-karre verkoop. 'n Werktuigkundige en oud-tronkvoël
verwys hy hom na twee skobbejakke om hom uit die verkorsing te help. Hy reis na
Fargo en huur twee booswigte om sy vrou te ontvoer. Sy skoonpa (en baas) moet
die geldelike gelag betaal vir die ontvoering van sy dogter.
Lundegaard gee
vir die twee boewe 'n nuwe motor en boonop beloof hy om die geld met hulle te
deel ($80,000). Jean (die vrou) word ontvoer, hoewel sy haar teësit in tipiese
Coen-humor. Sy word ontvoer na 'n wegsteekplek, buite Minneapolis, en hier loop
sake lelik skeef wanneer 'n polisieman sien die skurke ry met 'n motor sonder
nommerplate. Die polisieman word deur Grimsrud doodgeskiet en twee onskuldige
ooggetuies word eweneens vermoor.
Marge
Gunderson, die swanger polisievrou, kry snuf in die neus en klein bewysstukke
van die vermoorde persoon neem haar terug na Lundegaard. Terwyl sy hier in
Minneapolis is, sien sy Mike Yanagita, 'n skoolvriend, wat haar vertel sy vrou
is oorlede. (Dit blyk later hy was nie met haar getroud nie en die vrou leef
nog.)
Inmiddels is
Lundegaard in 'n dieper gemors. As hy NIE die motors se volledige besonderhede
verskaf aan die maatskappy nie, verloor hy alles. Verder belieg hy sy skoonpa
en die boekhouer dat die boewe nou een miljoen eis. Ook die boef Showalter,
bewus dat alles nou hande uitgeruk het, eis die volledige bedrag van $80,000
...
Die koppige
skoonpa besluit self om met die boewe te onderhandel. In die parkeerterrein
weier hy om die geld te gee todat hy sy dogter teruggekry het; hy word egter
doodgeskiet. Maar die ou skoonpa skiet die boef in sy kaak. Dié ontdek meer as
die hoveelheid geld waarvoor hy gevra het. Hy verwyder $80,000 vir sy
mede-ontvoerder, Grimsrud. Lundegaard daag te helaas te laat op.
By die koue hut
in die berge ontdek hy dat Grimsrud ondertussen vir Jean, Lundegaard se vrou,
vermoor het. Na 'n argument word Showalter ook vermoor.
Marge praat met
'n vriendin oor die foon en sy vind dat Yanagita haar belieg het. Trouens, hy
is nie wie hy voorgee om te wees nie.
Sy keer terug
na die motorhandelaar om hom verder uit te vra. Lundegaard slaan op vlug. Sy
kry 'n wenk en ry na Moose Lake, herken die gesteelde kar en sien hoe Grimsrud
sy mede-boef, Showalter se liggaam opkerf in 'n houtsnippermasjien ...
Marge skiet
Gunderson in die been en arresteer hom. In Noord-Dakota vind hulle Lundegaard
in 'n motel buite Bismarck. Hy probeer vlug deur die badkamervenster te spring
...
Die verhaal
eindig met Marge en Norm wat kyk na 'n skildery wat gekies is vir 'n US-seël.
Teen die geweld is hier huislike vrede en afwagting vir die baba wat oor twee
maande gebore sal word.
*
Die
Coen-broers se swart komedie word verder gevoer met Noah Hawley as die skrywer.
Die eerste seisoen het Billy Bob Thornton, Allison Tolman, Colin Hanks en
Martin Freeman in die rolverdeling. Dit speel af in 2006.
Die tweede
seisoen word in 1979 gesitueer met Kirsten Dunst, Patrick Wilson, Jesse
Plemons, Jean Smart en Ted Danson as die hoofakteurs.
Elke episode
begin met die volgende teks:
This is a true story. The
events depicted took place in Minnesota in [year]. At the request of the
survivors, the names have been changed. Out of respect for the dead, the rest
has been told exactly as it occurred.
Hiermee wil
die vraisemblance of werklikheidsdimensie van die gegewe beklemtoon word.
Die reeks is
goed, maar kom nooit werklik uit by die oorspronklike film se trefkrag nie. Die
swanger Marge Gunderson (Francis McDormand) se vertolking kan nooit geëwenaar
word nie. Ook Macy as die motorhandelaar, Jerry Lundegaard is enig in sy soort.
Die Coen-broers se unieke hantering van swart humor, onverwagse skakels - soos
die leuenagtige Yanagita wat meer te make het sake as wat ons dink – is 'n
besondere vonds. En die opsny van liggame in 'n houtsnippermasjien sal hierdie
kyker nooit vergeet nie.
Die aweregse
humor van die Coen-broers word dus in die reeks gebruik. Die spottery met
simboliek (veral uit die Ou-Testament) word in die eerste reeks met vrug
gebruik. En die kyker kan vandag 'n reeks in een sitting kyk op 'n DVD-speler.
Die reeks verander dan in 'n film met vele kinkels in die kabel.
Oop eindes is
daar sodat die reeks nog 'n seisoen kan beleef.
Die
uitstekende Deense reeks Bedrag (Follow the money) rondom wind-energie en bedrog, kom egter tot sluiting
wanneer die booswig die maatskappy-hoof doodskiet. Onverwags. Vir nou is
die reeks afgehandel.
En die einde
striem.
In The night manager - gebaseer op John le Carré se uitstekende roman, is daar ook
sluiting, oftewel closure.
Beide hierdie
reeks, so weet die kyker, sny ook die werklikheid raak met maatskappy-bedrog en
spioenasie-kwessies.
*
Wat gebeur met
die reekskyker? Omdat die reeks afgelaai kan word, kyk jy nie net nommer 1 en
wag tot 'n volgende uitsaaidatum nie. Jy kyk die hele reeks in een sitting;
dikwels regdeur die nag, om dan met teleurstelling die einde te ervaar.
Wat is die
ergste slot? Die gordyn wat sak oor die reeks (die dood van die booswig wat die
hele drama laat voortstu) of die "oop einde" wat beteken nog 'n reeks
sal aangebied word. Soos met Fargo se reeks II wat net te postmodernisties
is en min om die lyf het. Ons kan nie bloed uit die klipreeks tap nie.
Die beste
reeks eindig op die regte oomblik. Soos 'n partytjieganger wat die party
verlaat net voordat alles uitrafel en slordig raak.
Die
Coen-broers moes die tweede reeks gestop het.
"Same bag
of tricks".
Umberto Eco se
beroemde stelling in The role of the reader (1979) oor die
"inferential walks" wat die leser (hier kyker) maak, bly 'n nuttige
aanwysing. Ons kan soveel as 'n kyker uit die werklikheid trek, soveel plot-aberrasies
hanteer wat inspeel op die oorspronklike film, dan is dit verby.
Moord.
Speurder (Vrou, swanger). Tronkvoëls. Wedersydse verraad. Geld. Vlug. Polisie. Doodskote
op teenspelers. Grimmige ontslae raak van ontvoerde vrou. Sub-plot: mal man wat
deel is van die storie. Beskuldigde wat alles begin het, word gevang. Speurder
en man wag op geboorte van kind ...
Ons moes nie
wag op die geboorte van nuwe reekse nie!
Frank Kermode
se "a sense of closure" dus in The sense of an ending (1967).
© Joan
Hambidge