Breyten Breytenbach - die na-dood. Human & Rousseau, 2016.
ISBN 978 0 7981 7246 2
Resensent: Joan Hambidge
I
Hierdie bundel, uitgegee deur
Human & Rousseau, dra die sub-titel: die
singende hand se
oggendboek-hierinneringe. Dit werp dan lig op die skryfproses en hoe
hierdie digter die leser sien. Die bundel word opgedra aan die Juweel in die
Goue Lotus.
Dit beslaan ses afdelings (1. onder sterre se gewig, 2. oggendboek, 3.
Lumen Obscurum, 4. kwartels in die loekwartboom / quails in the loquat tree, 5.
Hartkrake, 6. Die singende hand).
Die datums by gedigte aktiveer
die idee van 'n dagboek. Die leser word ingelei in die intieme opnames,
gedagtes, waarnemings van die digter en prosaskrywer. (Daar is 'n handvol
prosaverse.)
'n Mens moet hierdie bundel
benader as 'n aanhangsel tot die singende hand. Daar is gesprekke met talle
digters (Boerneef, Leipoldt, Marlene van Niekerk, o.a.) en kritici soos Helize
van Vuuren wat die konsep "laatwerk" vir Afrikaanse lesers toeganklik
gemaak het (128).
Die bemoeienis met die poësie -
as uitskot of kots, 129 - word ook aangetref. Woordvernuf en -speletjies so
bekend aan hierdie digter, word ook in hierdie bundel aangetref.
Die toon wissel van teerheid,
erbarming, verwondering voor die natuur, spirituele waarnemings tot woede soos
in ("Gemeentebrief", 149), 'n gedig wat nog nie voorheen gepubliseer
is nie.
Die digter as openbare
intellektueel kan striem; veral wanneer hy politieke ongeregtigheid of
vooroordeel raaksien. Die digter is tans werksaam as ‘n aktiewe stem teen die
verengelsing aan die Universiteit van Stellenbosch.
'n Sentrale vers is waarskynlik
"Die toring van stilte" (179) met sy sterk Leonard Cohen-aanslag dui
op 'n bemoeienis met die leser - en die Boeddhistiese saamdig van lewe en dood:
die spreker is vasgevang in die ewige wiel.
Die bundel moet gesien word as
'n bestekopname van 'n lewe en digterskap.
Die voorblad met die digter as
vlieënde engel (deur homself ontwerp) speel met die gedagte asof hy 'n oordeel
vel oor homself.
gaan gaan
oorkantoewer gaan
klaar oorkantwoewer vergaan
o vreugde ontwaak
II
Daar is vele sleutels vir die
speurende leser: die verjaarsdagverse (waaroor Van Vuuren reeds geskryf het);
die betekenis van dans in die digkuns (kyk na die motto's);
verskillende ervarings van die
syn (droom, dood, lewe); Robert Hughes oor Goya ("Even when we cannot hear
another, the dance remains") en die (Zen)Boeddhistiese aanslag van hierdie
digterskap.
In Eklips (Taurus, 1983) waarsku die digter alreeds:
3.2
al die snedige singesnyde
weggooigoed,
en jy met jou ou verbleikte erns
snood
(64)
Dis die “weggooigoed” wat hy
hier vir sy lesers bewaar. Onderaan die vers “(Gemeentebrief”), 149 – ‘n
woedende aanklag teen die ou regime wat net so van toepassing kan wees op
vandag se ellendes en korrupsie – staan daar pertinent dat die gedig gered is
uit ‘n verskifte lêer.
‘n Bundel dan ook as testament.
Vir my is die liriese,
haikoe-agtige verse ‘n hoogtepunt:
14
nou die maan gaan lê
het ek ‘n loekwart gepluk
om aan my hart in jou plek te
gloei
(142)
En die bundel waaier oop en
praat met ‘n skryf- en sielgenoot: Boerneef. In Mallemole (Nasionale Boekhandel bpk, 1963) lees ons;
Die kraal is leeg die dorings
wit
die dam is leeg die skaapbos wit
vou hande saam as jy kan bid
die veld is leeg geraamtes wit
(15)
Die herhaling van leeg en wit,
wat tog met die woord bid gered word. By Breytenbach is dit in ‘n ander
sleutel.
10
skyfie skuit klief
deur die niet
en vergaan in ‘n tint van
niemeersien
soos die vlammende vis
(140)
En my lesing van hierdie bundel
word bevestig deur die siening van die digter onderaan die vers “poet of
nothingness, 30 Augustus 2015)”, waar hy verduidelik dat die konteks die gedig
laat sing soos”bye die gerugtevrug van vlug korf toe bring” (94).
hier lê dood
hier lê dood
verganklikheid
beendere
as
woorde
wind
hier lê niks
ons almal s’n
elkeen se deel
niks
sê wat jy wil
(191)
(Hierdie resensie word geplaas
met vriendelike vergunning van Fine Music
Radio)