Kaapstad, 03 Mei 2016 00:00, Die Burger
In twee
onlangse reaksies op die taaldispuut aan die Universiteit Stellenbosch het ons
die sobere, rustige reaksie van Ria Smuts, wat betoog vir die belang van
moedertaalonderwys. Van al die reaksies is dit waarskynlik die beste:
Uiteindelik het ’n kenner uit onderwysopleiding gereageer. Met kundigheid.
As jy jou eie
taal onder die knie het, kan jy soveel beter ander tale leer.
Dan het ons
Max du Preez. Ek wil dit duidelik stel dat Du Preez belangrike werk as
politieke kommentator lewer. Maar wanneer dit oor taalsake gaan, is hy sy
grammatika byster.
Om nou vir ons
te kom vertel hoe Afrikaans en Engels in sy skryfwerk “werk”, hou gewoon nie
steek nie. Wat weet hy van die universiteitswese en die krisisse wat tans
beleef word?
Vir die
duisendste keer: Ons praat van Afrikaans as wetenskapstaal, as taal waarin
mense dink, artikels skryf, gedigte publiseer, tesisse begelei en klasgee. Nie
7de Laan of ander “touchy feely”-nonsens nie. Ons praat van ’n taal wat,
soos Bahasa Malysia, sig gevestig het tot ’n taal waarin jy skryf en
wetenskaplike analises kan maak, in so ’n mate dat taalwetenskaplikes in
Afrikatale weet hulle kan by Afrikaans leer.
En oor
identiteit en etnisiteit is ’n komplekse diskoers – gewis vir antropoloë se
studie – nie vir Max en alleman nie.
En om Jan
Smuts en Eugène Marais te gebruik omdat hulle Engels bo Afrikaans verkies het, is
gewoon opportunisties. Albei het tye in die buiteland vertoef en komplekse
sieninge oor taal en Afrikaners gehad. Marais het “Winternag” en Dwaalstories geskryf,
twee bakens in Afrikaans.
Breyten
Breytenbach praat Frans in Parys, maar hy bly in sy hartstaal dig.
© Joan Hambidge