Monday, April 25, 2016

Ilse van Staden – Goeie dood wat saggies byt (2016)



Ilse van Staden – Goeie dood wat saggies byt. Protea, 2016. ISBN 978-1-4853-0547-7

Dit is ’n unieke verhaal, hierdie een.

Dit vertel, na my wete, vir die eerste keer in Afrikaans hoe ’n jong vroueveearts aan Onderstepoort studeer en hoe persoonlike ervarings in die tradisioneel manlike arena haar lewe raak. Só beskou, is dié roman vir genderteoretici wat die omkering van genderpatrone, -voorskrifte en -stereotipes ondersoek van enorme belang.

Van Staden is ’n gerekende digter wat tans in Australië woon. Haar Watervlerk is in 2004 met die Eugène Marais-prys bekroon. Hierdie boek is dus haar romandebuut. Op die voorblad van die roman is daar ’n hond met slagtande ontbloot. Dié ­parateks (of buiteteks) wil alreeds die gevaarelement van die roman aktiveer.

Alle diereliefhebbers behoort hierdie boek te lees. Wanneer ’n dier by die praktyk land, affekteer dit die veearts.

Hoekom kan ons nie meer praat van “vrek” nie? As jy as kind ’n geliefde troeteldier aan die dood moes afstaan, kom jy in opstand teen die woord “vrek”... Eerder doodgaan.

Boonop is daar al vele boeke geskryf oor hoe diere, veral katte, jou depressie kan besweer. En diere word mensemaats; hulle begelei en beskerm. In hierdie roman word die veearts se emosionele reaksie op siekte bespreek. Die dier is ’n pasiënt.

Afwisselend word daar na Hilda (die hoofkarakter) se opleiding gekyk – wat dikwels nie aangenaam is nie – en haar ervaring in die praktyk met ’n vroulike baas wat sake anders ervaar as sy.

Die digtershand tree in wanneer die skrywer vertel van die sielkundige mondering wat die veearts moet aantrek wanneer sy ’n siek dier besoek of ’n koei wat nie kan kalf nie. Onthutsend die grappe wat mans vertel wanneer hulle iets ervaar wat pynlik is; die koei wat kalf gaan binnekort ’n steak wees. Maar grappe is ’n manier van jou beskerm teen pyn of emosionele ­ervarings.

Oor die liefde en die dood skryf Ilse van Staden so ontroerend. Die geliefde is soos ’n latente infeksie wat weer opvlam.

Wat die dood betref, skryf sy dat daar ’n kompartement in Hilda se siel ontstaan het waar sy die dood hanteer: iets soos ’n gepantserde, klankdigte kamer met notas teen die mure.

Die boek word ’n meesleurende romandebuut genoem. Die teks werk met outobiografiese gegewens. Vir die speurende leser sou van hierdie merkers ’n interessante gegewe wees om die gedigte ook anders te benader met hierdie teks as ’n soort dagboek.

Dit is ’n verslag van ’n sensitiewe persoon wat in die manlik gedrewe wêreld van die wetenskap en veeartsenykunde haar gevoelens weergee oor die liefde, oor verliese en veral oor displacement.

Die verteller kom bitter gou agter hoe die teorie verskil van die harde werklikheid van in die praktyk staan. Ondankbare diereliefhebbers neem regstappe teen die reeds gespanne veearts wat leer dat dit in hierdie bedryf om sowel mense as diere gaan.

Dooie honde, leer hierdie veearts, bly boonop byt in die gewete en knaag aan die selfbeeld.

Dit is ’n vertelling wat die gemoedelike James Herriot-vertellings, soos All Creatures Great and Small (1972) op sy kop keer en ’n ander blik gee op Gerald Durrell se ervarings wat al as dry wit en crisp beskryf is.

Die slot tref jou ietwat onverwags, maar die vertelling – as jy weer na die parateks en die subtiele kodes oor onmag en displacement kyk – moet hierop afstuur . . .


Kladboek? Dagboek? Semi-outobiografie? Die slotwoorde sluit weer by die titel aan wat die komplekse verhouding tussen lewe en dood in hierdie vrou se gemoed behandel.

Die teks resoneer ook met JM Coetzee se Disgrace en die dood van die hond. Net ontstellender en komplekser daar verwoord.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)