Die vuur brand
laag
die winter
koud
Julie is lank
ou Sampie oud
wies saans by
die deur
wat wil hy hê
is aant
binnetoe beur
wil laans my
lê
Hierdie klein
gedig staan opgeteken in Boerneef se Mallemole
(Nasionale Boekhandel Bpk, 1962). In my studentejare was Boerneef aan ons
bekend gestel deur wyle Annette Theron (Snyman) wat as taalkundige die unieke
woordspel van die digter ontleed het. Boerneef was ook woordeboekmaker,
benewens ‘n unieke digter wat vandag nog deur sangers vertolk word. Ons dink
byvoorbeeld aan Laurinda Hofmeyr se lieflike “teen dusketyd” en Pieter de
Villiers se toonsettings van o.a. “Die berggans het ‘n veer laat val” en “Aandblom
is ‘n witblom”.
“Die vuur
brand laag” bestaan uit 8 reëls. Is dit ‘n oktet? Tog nie, maar dit boots die
vorm en toepassing van hierdie vorm na. Ou Sampie is oud en die oorgang (volta)
tussen die vierde en vyfde reëls dui op die dood. Daardie iets / iemand wat
binnetoe beur, dui op die dood.
In Breyten
Breytenbach se pas verskene bundel die
na-dood (Human & Rousseau) staan die volgende gedig opgeteken wat “praat”
met Boerneef se vers:
Saterdag 9 Mei 2015
met oogopslag
die maan nog daar
‘n bolseilskuitjie
wat niet toe vaar
en roos die
daagruim bo die heuwels oos
terwyl
nagtegale knipper en tuit soos
toe
dagherinneringe geberg in kruike
vanouds
uitgelek het onder donkerder struike
en alles ewig
was en alles moes sterf
tot ‘n
sleepsel rou onthousels op die werf (78)
Teenoor
Boerneef se oktet-agtige vers staan die distigon van Breytenbach. Beide gedigte
is oënskynlik eenvoudig en toeganklik. Beide eis ‘n dieper lees op, verby die
eerste oogopslag.
Die maan word
metafories ‘n bolseilskuitjie wat na die niet toe vaar. Die dagbreek (daagruim)
lyk roosagtig. Daagruim daag ook die leser se verwagtinge uit. Die nagtegaal
herinner aan Romeo and Juliet:
Juliet: Are you going? It’s still a long time until daybreak. Don’t be afraid. That
sound you heard was the nightingale,
not the lark.[1] Every night the nightingale chirps on that pomegranate-tree.
Believe me, my love, it was the nightingale.[2]
Daardie
nagtegale knipper en tuit dus (soos in ander verse?)
Die
dagherinneringe geberg in kruike lei ons na Cleanth Brooks se The well wrought urn: Studies in the
Structure of Poetry, ‘n seminale
teks oor die poësie. Op bladsy 207 lees ons:
The poem is a “working
out of the various tensions — set up by whatever means — by propositions,
metaphors, symbols.” It achieves a resolution through this working out of
tensions, not necessarily a logical resolution but a satisfactory unification
of different “attitudes,” or dispositions towards experience. Therefore, any
intellectual proposition within the poem must be viewed in the context of all
the other propositions expressed in the highly changeable language of metaphor.
The poem does not try to find the truth-value of a particular idea; it tries to
juxtapose many, contradictory ideas together and reach a sort of resolution.
The poet is trying to “unify experience” by making poetry not a statement about
experience but an experience itself, with all the contradictory elements
contained in one cultural expression, i.e., the poem. [3]
En dit is die
jukstaposisie van teenstrydige idees wat Breytenbach se vers so knap maak.
Die
dagherinneringe geberg in die kruike (urne!) dui dus nie net op die dood waarop
alles afstuur nie, maar ook op die digterlike proses.
Breyten
Breytenbach tree ook boeiend in gesprek met Boerneef se berggans in die
volgende vers in Katalekte (2012):
‘n kolgans doodgery
op die M3
Breyten Breytenbach
die kolgans het ‘n veer laat val
van die hoogste roep van waarookal
mits dese wou sy vir ons sê
dis haar maat wat dood op die snelweg lê
die mense ry verby en kyk
vir ‘n droommoment by aanskoue van die lyk
terug in ‘n tyd van ruimte waar nou
die nikswees ‘n verlede vryheid oorvou
die kolgans het geen ritme vir sêplek meer
die kolgans laat val ‘n laaste veer
sy en haar soort wis uit teen die grens
van verlore naburigheid tussen voël en mens
mits dese wou sy dalk nog sê
hoe diep het ons liefde vir die lewe gelê
(Uit:
Katalekte, 2012)
En die “rou
onthousels op die werf” neem ons terug na Boerneef se ou Sampie op sy werf.
In my bundel Lot se vrou (Human & Rousseau, 2012)
staan hierdie vers vir BB:
The well-wrought urn
Vir Breyten Breytenbach
Hoe gepas,
meneer Cleanth Brooks
die gedig as
‘n goed gevormde, netjiese kruik.
‘n houer vir
die as van uitgebrande liefde,
verlore drome
en veral ónwillige lesers.
Met ‘n glasie
Usquebaugh in die hand
dink ek na oor
die gedig se lewensloop:
uit stof
ontstaan en vol stof sal jy ondergaan!
Hef aan lê
voor, want die gedig
mag
kruikvormig, dus urkeolaties
met ‘n eerste
oogopslag lyk;
of soos die
uvea van kleur verander,
dog word met
elke lesing ge-usukap,
bepaald
gepraatjie-vir-die-vaak…
Boonop word
vertelle ‘n vers se uvula
word deur
stiksienige kritici uitgekap.
Hoe gepas,
meneer Cleanth Brooks
die gedig as
‘n goed gevormde, nuttelose kruik.
Gister ontdek
ek (toevallig?) Mallemole op my rak
en ek doseer tans Boerneef met intense vreugde, danksy Henning Snyman se Mirakel en muse (Perskor, 1983). Die
skrywer maak ons bewus van die vlegwerk van (en tussen) gedigte. Die spel
tussen primêre implikasie (dubbelsinnigheid, vormspel, nie sigbare
betekenisoorgange) versus sekondêre implikasie (ironie, metafoor met hulle
meelopers) word beklemtoon. Sintaksis teenoor implikasie; magiese attribuut
versus teenspraak.
Niks hang so
rooi soos wingerdblaar by Hexrivier
niks staan so
geel soos herfspamplier by Dwarsrivier op Ceres
slaan rem aan
hou jul asem in en kyk en kyk
lank en
eerbiedig soos ‘n mens na so ‘n herfs moet kyk
laat dit
inbrand in jou vir later tyd
die warm geel
en rooi vir latenstyd
So dig
Boerneef. En Breytenbach se bundel is “laatwerk”.
“winterswael”
sluit soos volg:
wat is die
gedig
anders as die
veerveeg skaduwee
voor die lig?
(50)
The language
of poetry is the language of paradox. Aldus Cleanth Brooks.
Voetskrif
[1] Die lewerik sing in die soggens, die nagtegaal sing saans.
[2] William Shakespeare. Romeo and Juliet, Bedryf 3, toneel 5.
[3] Cleanth Brooks. 1947. The well wrought urn: Studies in the Structure of Poetry. Harcourt Brace, New York.
© Joan
Hambidge