Ryk Hattingh – Huilboek. Human & Rousseau, 2016.
ISBN 9780798172493
Resensent: Joan
Hambidge
Selde – indien ooit – het hierdie leser so ingesluk
geraak deur ’n boek.
Die roman heet Huilboek. Dit is ’n lamentasie, ’n
stuk verdriet, ’n kartering van pyn, van ekspat-wees, van terugskryf oor
ongeregtighede, oor hoe dit is om jou huis te verkoop, jou land van herkoms te
verlaat en jou te bevind in ’n vreemde omgewing. Nieu-Seeland.
Afwisselend tussen woede en verdriet word hierdie boek voor
jou neergewerp.
Dit word opgedra aan Tienie du Plessis, onlangs oorlede
en ’n vriend en mede-uitgewer.
Ryk Hattingh het immers op sy dag geweldig baie gedoen om
die stilgemaakte stem na die bogrond te bring. Dit is die eerste keer in 19
jaar wat ons weer van hom hoor in ’n roman wat iewers tussen poësie en prosa sy
beslag kry. Dit wissel in toonaard en verwysing: woede teen verdriet; James
Joyce teen Paul Auster.
Die roman gaan in teen gemoedelike lokale realisme en van
meet af aan word daar met die identiteit van die verteller en fokalisator
gespeel. Hy het sy stem gevind en dit is bepaald nie ’n oulike streektaal nie.
In sy eie woorde som hy homself soos volg op:
“My aard, soos ’n vonk, is ook onkenbaar. Jy kan by ’n
vuur staan, jou hande oopmaak en die hitte teen jou palms voel, maar jy kan nie
’n vonk vang nie. Dis te vinnig, soos lig, of soos spermselle, derduisende,
miljoene selfs, en met aksie gaan jy nêrens kom nie” (bl. 33).
En vanuit die verte kyk hy terug na die ongeregtighede
van sy jeug en die rassisme waarbinne hy grootgeword het. Met die wete dat ’n
mens dit nie kan ontvlug nie, omdat dit ’n soort psigiese verwonding is wat dan
jou karma word (bl. 36). ’n Aweregse If You Meet the Buddha on the Road,
Kill Him?
So gelees, is hierdie boek dan ’n psigiese reis terug na
sy jeug en verlede.
Die boek word ’n soort lydensweg, ’n persoonlike stryd –
’n soort hellevaart van Jan Alleman.
Moby Dick is ’n interteks en die stryd om oorlewing word
teen ’n woedende vaart vertel.
’n Knie-operasie van die ek word geplaas teen Ahab se
kunsbeen. Soos Ahab veg teen die walvis, veg die verteller hier met sy demone
en hallusinasies. (En wie het Ahab se verhaal vertel? Natuurlik Ishmael, die
oorlewende . . .)
Die teks is selfrefleksief en die ware Ryk Hattingh, ’n
skoenmaker, word soms aangespreek.
In ’n hartverskeurende toneel kyk die verteller na sy
bababoekie en die woorde wat sy ma opgeskryf het.
Hier vind hy dat Toon die tiende woord was wat hy geleer
het, daardie Toon, die “Outa”, wat hy met hom saamdra, ’n psigiese wond.
Vir taalteoretici (navolgers van Lacan en Kristeva) is
die beskrywing van sy huiljare en hoe die jong kind se identiteit ontwikkel in
hierdie roman eweneens wonderbaarlik. Hoe taal soos ’n klip die spieël tussen
hom en die wêreld versplinter . . .
Die storie van ’n man uit die verte wat veg om
voortbestaan met die wete dat “taal ontglip, duik onderdeur, byt nie aan die
hoek nie, alles is ver” (bl. 48). Boeke word beskadig in die nuwe landskap.
Geannoteerde boeke met onderstreepte passasies word binne die nuwe omgewing pap
en slapperig soos Dali se horlosies – gelukkig bly die herinneringe volhard
(bl. 54).
Op ’n plek praat die verteller van sy metadepressie. En
dis presies wat ons hier beleef: ’n koelbloedige analise van pyn, oorlewing,
herinneringe terug onder meer na jagekspedisies met die vader, ’n patriarg. Die
seun erf sy horlosie; wat gesteel raak. Hierdie herinneringe aan jag verloop
tussen fantasie en werklikheid.
Die teks herinner aan die verbeeldingsvlugte van Richard
Brautigan, maar dis net meer poëties, meer verlate.
Trout Fishing in America (1967), daardie
Amerikaanse klassiek, het in my geheue saamgespeel, behalwe by Hattingh is die
idille of paradys vol herinnerde-slange. Die foto’s in die boek vertel ook ’n
storie op sy eie.
In die 1980’s is daar gevra dat die heersende magte moet
kyk na die oorlogskortverhale in Afrikaans; Nou is dit die hoogste tyd om te
kyk hoe swaar mense kry wat nie meer in die (nuwe) Suid-Afrika kan oorleef nie
en in Doer Onder en op naburige eilande verniel word deur verlange en verdriet.
Brautigan het op ’n keer geskryf: “All of us have a place
in history. Mine is clouds.”
Hier is dit verlange wat klou soos knapsekêrels aan ’n
fluweelbroek, soos nga aan ’n kietiekombers (bl. 112). Daar is ook humor.
Dronk-momente en ’n amperse uitwissing waar die verteller “hergebore” word in
sy uitskot.
Ryk Hattingh se boek werk met hierdie aweregse blik op
historiese sake. Die slot het ’n Marais-kwaliteit soos in Dwaalstories –
hier is Hattingh, soos aan die begin van die roman, besig om die stemlose ’n
stem te gee in sý huilboek.
Die opstand teen die vaderfiguur en die beskrywing van sy
dood en die afloop, is van die pynlikste oomblikke in die boek.
Die roman is ’n vars bries. Dit is outentiek geskryf en
ons het nie tevergeefs gewag op Ryk Hattingh se nuwe boek ná Witskrif
nie.
Sjamanisties en intellektueel. Dit wil gedoen wees.
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Die Burger)