Tafereel
’n Diepgroen boom
lowerryk, vol voëls wat sing,
staan in die agtertuin van ’n huisie
beskeie
in Beijing. Die oompies speel mahjong,
die tantes spoel al skinderend die
wasgoed,
mense fiets verby, dis skoolkomuit-tyd.
Oor hierdie klein tafereel van menslike
bestaan
staan daar ’n voël opgesluit in ’n hok.
Sy kraalogies
draai soos ’n arend s’n reg om dié
gedoente.
Hy droom van ’n ander bestaan, ’n beter
wêreld,
verby inperkings, vérvandaan, oor groot
mure
veel, veel langer as sesduisend
kilometer klip.
’n Toevallige besoeker sien dit alles,
vou dit op
en knoop dit vas in haar geheue. So
vredig
om in hierdie oomblik te wees, so
ongelooflik eenmalig,
in hierdie digterlike tuin.
Dit is die openingsgedig in die bundel Meditasies (Human &
Rousseau, 2014), ’n bundel wat ontstaan het tydens ’n sabbatsreis toe ek in
2011 van Hong Kong gereis het om die aarde en in Istanboel tot rus gekom het.
Nou onlangs moet ek lesing gee vir die Amerikaanse studente wat per skip
om die aarde vaar ("Semester Abroad") oor die digkuns. Die opdrag:
praat oor die digproses en hoe ’n vers ontstaan. Danksy Charl JF
Cilliers se vertalings van my gedigte, kon ek met die jongelinge praat en Meditasies,
wat handel oor ’n reis per vliegtuig-om-die-aarde, sluit dus aan by hulle
verwysingsraamwerk.
So lui Cilliers se vertaling:
Scene
Scene
A dark green tree
leafy, full of birds singing,
stands modestly in the back yard of a
small house
in Beijing. The uncles are playing
mah-jong,
the aunts, with gossiping chatter, doing
the wash,
people cycling past, the end-of-school
bell just rung.
In this small scene depicting the human
condition
there is a bird locked up in a cage. His
beady eyes
sweep round like an eagle’s to survey
these goings-on.
He dreams of another existence, a better
world,
beyond restrictions, far, far away, over
huge walls
so much longer than six thousand
kilometres of stone.
A chance visitor sees it all, folds it
away,
in fixed depths of her memory. It is so
peaceful
to be in this moment’s unbelievable
uniqueness.
Die lesing neem ’n mens uiteraard na ’n vergelyking tussen die verse,
maar vir die doeleindes van die lesing word daar gefokus op die Engelse vers.
Die ontstaan van die vers:
Agter my duur hotel in Beijing ontdek ek as wandelaar ’n
klein village. Dit is weggesteek en net die geoefende oog sal die klein
gehuggie ontdek waar daar ’n slaghuisie is, ooms en tantes ronddwaal, vroue wasgoed
was, kinders speel ... Vredig, dog armoedig. Toe ek ’n foto probeer neem, word
ek bruusk versoek om my kamera weg te sit. Die gedagte dat ek hulle siele mag
steel, kom uiteraard by my op.
Ek stap verder.
Ek gaan na ’n klein kafee. Ek bestel ’n bier. Langs my sit ’n Oubasie,
ongeveer 90 jaar oud. Sy ou vroutjie is besig om voor hul huisie te vee met ’n
besempie. Dis ’n shack. Uit haar stemtoon kan ek hoor dat sy hom aanpraat oor
iets. Haar stem gaan op, en dan weer af. Jy kan sien hy is gewoon aan skellery.
Hy kyk na haar, maar reageer nie. Ek bied vir hom van my bier aan, wat hy
vriendelik weier - jy kan sien sy is baas.
’n Uur later kom hulle dogter per fiets aan en hy stap met ’n
wiegraam terug huis toe. Alles is meteens stil.
’n Pa stap met sy mongooldogtertjie verby ...
Skielik voel ek iemand raak aan my arm. Aan my regterkant sit ’n ouer
vrou, kennelik ’n ouma. Met haar kleinseun in haar arms, wat sy trots vir
my wys. ’n Bulletjie wat my reg in die oog kyk.
Hy lag oopbekkie, vriendelik, omdat sy derdeoog nog oop is, kan hy my
welwillendheid sien.
En toe ek na links kyk, sien ek die voëlhokkie ...
Die volgende dag besoek ek die beroemde Groot Muur.
Wat jy uitlaat en wat jy insit word deur die gedig bepaal. Ek wou die
opposisie tussen inperking (die hok) en die wydsheid van die Groot Muur
aktiveer wat gebou is om die land en sy mense teen indringers te beskerm. ( China Great Wall Facts/ How Long, Who, When, Why Built It. Besoek 3 April 2016).
Terselfdertyd wou ek iets van my tevredenheid en geluksaligheid oordra.
Die unheimliche wat hier heimlich word.
Op die regte oomblik beleef ek hierdie klein tafereel en skryf die gedig,
wat soos ’n foto, ’n gelukskoot is.
© Joan Hambidge