Chileense wynlande, waar kos, wyn en digkuns se paaie kruis.
Chili se wyn
is verruklik. In Santiago de Chile, in die dakswembad van die hotel The
Singular, bely ’n Brit weer hoe gaande hy is oor pinotage wat hy in die Kaap
ontdek het. En ja, hoe goed ons wyne is. Zandvliet Shiraz, Anura, Meerlust, ag
te veel om op te noem, seg hy. En Raka!
Met my besoek
aan Chili het ek die wyn uit die Matetic-streek ontdek. En die vreugdes van
pisco ervaar, wat die hittige weer kon troef.
Die
Rosaria-vallei, waar die Matetic-landgoed geleë is, beslaan sowat 16 000 ha.
’n Uur ná my
aankoms in La Casona vertrek ons op ’n wynproe-ekspedisie. Wat ’n ervaring om
die gids te hoor praat van organiese wyn en hoe hulle dit volgens die siklusse
van die maan en die son maak. En allerlei kruie en doepas wat in die grond
geberg word. Alles gebaseer op Rudolf Steiner se antroposofiese beginsels
waarvan biodinamiese landbou bepaald ’n belangrike aspek is.
In dieselfde
tyd lees ek ’n artikel oor die digkuns van TT Cloete en hoe alles in hierdie
digter se digkuns saamhang.
Aan ons word
verduidelik hoe alles op die plaas werk. Elke druif word deur die werkers met
die hand gepluk. Hierna word wel van gesofistikeerde masjinerie gebruik gemaak
om wyn te maak. Steiner het immers gepoog om ’n soort sintese tussen die natuur
en die wetenskap te vind.
Om so ’n plaas
te begin moet jy by die voorskrifte van die internasionale raad hou. Een seun
het glo sy pa oorreed om hom met die finansiering te help toe hy nie sy
graadstudie kon voltooi nie. Die suksesverhaal is nou bekend!
Die EQ-wyne
(die EQ staan vir equilibrium) is uitstekend.
Die
2015-sauvignon blanc het ’n tropiese smaak, en die 2013-chardonnay is in Franse
eik verouder; maar nie oordonderend nie. Baie subtiel neus jy die Franse
afkoms.
Ek was nooit
gaande oor pinot noir nie, maar hier sluk ek my woorde. Soos hulle indertyd
gesing het: “Dis rond, dis vol, dis tralala!”
Die wyne hier
in die San Antonia-vallei het al ’n hele paar pryse losgeslaan en staan hul
plek vol in die wêreld onder die wyne van die 100 beste organiese plase.
In die
Casablanca-vallei word uitmuntende wit wyne geproduseer.
Verder is die
verskil in temperature verantwoordelik vir die uitstekende wyne. Die grond is granietagtig met ’n kleigrond-bolaag.
Ons sommelier,
eintlik dégustateur de vins, weet waarvan hy praat. Hy knik instemmend
dat ’n mens rooi wyn bepaald eers ’n bietjie moet afkoel om kamertemperatuur te
bereik.
Die twee
Amerikaners, uit Philadelphia saam met my, is kloekmoedig oor al die
wyninligting.
“Praat jy
Afrikaans?” vra hy. Ek is verbaas oor sy kennis van Afrikaans as ’n
semi-Kreoolse taal.
“Praat jy
Afrikaans?”
Ons gesels
verder oor die Kroasiërs en die Italjaners wat hier in Chili die wynlandbou
ontwikkel het.
Tale, soos
wyne, leen ’n bietjie hier, steel ’n bietjie daar en kry uiteindelik ’n eie
identiteit vanweë die grond, die temperatuur, die weer en die kundigheid (en
liefde) van die wynmakers wat ’n passie hiervoor het.
Voor La Casona
is ’n lieflike tuin wat amper in die vorm van ’n labirint is. Elke kamer het ’n
wynnaam. Ek gaan tuis in Merlot. Die Yanks is in Pinot Noir.
Die kos is
verruklik. Ek eet die eerste aand pylinkvis gestop met calamari. Die voorgereg
is ’n bokmelk-omelet. En ’n gratis bottel syrah is deel van die emblemata van
verrukking.
In die tuin is
’n voëltjie. Geluksalig is hy.
Die kelner lyk
op ’n haar (of eerder kaalkop) nes Pablo Neruda. Ek is immers hier om die huise
van Neruda, self ’n wynliefhebber, te besoek. Boonop is die kelner van
Valparaíso. Elke smulgereg verduidelik hy met liefde en kundigheid.
Die oggend eet
ek ’n groot hardgekookte eier vir ontbyt.
“Hierdie eiers
smaak anders. Dis van ons werf, en hulle eet die beste oorskietkos. Wees
gewaarsku: Dit is geweldig ryk.”
In die tuin is
’n voëltjie. Geluksalig is hy. Ek dink opeens aan TT Cloete wat soveel lieflike
verse oor voëls geskryf het en mis hom opnuut geweldig. Hy wat ons herinner het
daaraan dat Neruda geskryf het dat Chili deur ’n digter gemaak is.
God die digter
Chili is deur ’n digter gemaak – Neruda
daar is meer poësie in die
sneeuvlokkie
as in die letterkunde en baie meer poësie
in die miskruier in die toktokkie
in die meteorologie en entomologie
in die moremis en in die bergpiek
die horison wat in die hemel wegraak
in die rooswolk is daar baie meer
liriek
die aarde is deur ’n digter gemaak
(Uit: Driepas, Tafelberg: 1989)
Buite die warm La Serena word die wynstokke met nette bedek om die suikerinhoud te beheer. Dit voel en lyk nes onse De Doorns. ’n Hitte wat alle pretensie uit jou brand.
God die digter
Chili is deur ’n digter gemaak – Neruda
daar is meer poësie in die
sneeuvlokkie
as in die letterkunde en baie meer poësie
in die miskruier in die toktokkie
in die meteorologie en entomologie
in die moremis en in die bergpiek
die horison wat in die hemel wegraak
in die rooswolk is daar baie meer
liriek
die aarde is deur ’n digter gemaak
(Uit: Driepas, Tafelberg: 1989)
Buite die warm La Serena word die wynstokke met nette bedek om die suikerinhoud te beheer. Dit voel en lyk nes onse De Doorns. ’n Hitte wat alle pretensie uit jou brand.
Ons vertrek na
die Aba pisquera op die gewone staptog deur die wynlande, die vate en ’n
verduideliking van hoe pisco sedert 1921 in die Elqui-vallei vervaardig word.
In Vicuña
drink ek mango-pisco. Smaak na teer, ek lus nog meer! ’n Klein veldmuis
hardloop oor die koel teëls.
Hierdie mense
bemark hul pisco’s in Kanada, die VSA, Switserland, Japan en China.
Ek hoor dat
die distilleerproses ongeveer 12 tot 24 maande in koperpotte duur. En suiwer
water help uiteindelik om die alkoholvlakke tot by 40% te kry! ’n Geduldige,
langsame proses, nes die digkuns.
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Die Burger)
© Joan Hambidge