C. Johann Bakkes – Openbaring,
‘n reisjoernaal. Queillerie, 2016. ISBN 978 0 7958 0112 9
Resensent: Joan
Hambidge
I
Hierdie boek word as nie-fiksie bemark. ‘n Vreemde
indeling, omdat die reisverhaal per definisie iewers tussen fiksie en
nie-fiksie beweeg. Die skrywer beleef of sien iets en skryf dit neer. Dit is
egter helaas nooit ‘n korrekte of waarheidsgetroue optekening van die gebeurde
nie, anders was elke reisiger of toeris ‘n skrywer.
Die reisjoernaal is ‘n fassinerende sub-genre. Ons dink
hier aan Marco Polo se reisverslae Il Milione (uit die dertiende eeu. Besoek 7 April 2016)
Dit het op sy beurt kreatiewe reaksies tot gevolg gehad
het, o.a. van Italo Calvino (InvisibleCities, 1972/40) en van D. J. Opperman (Komas
uit ‘n bamboesstok).
Dan is daar die travelogue en die deurwinterde reisverslag
of reisstorie. Deesdae is daar baie reisverhale in koerante en die armchair
reisiger word op televisie met verskillende kanale begroet met reise na vreemde
bestemmings. Hoe lyk ‘n goeie reisverhaal?
‘n Kennis van die nuwe omgewing, ‘n goeie taalbeheer, ‘n
ontginning van die andersheid van die streek, die beskrywing van ‘n pynlike,
lagwekkende of onthoubare insident …
Dit spreek vanself dat die leser nie gebombardeer wil word
met vervelige feite of “... en toe was ons daar’s nie...”; elke inskrywing moet
boeiend en op die man af wees. Op sy dag was André P. Brink se reisverhale na
Spanje en Frankryk wonderlik, juis omdat min lesers toe vertroud was met
hierdie omgewings. Indien jy nou oor hierdie areas skryf, kompeteer jy met
groot name.
II
Hy is die seun van Margaret Bakkes en ‘n neef van Hennie
Aucamp: die skryfgene loop in die familie. Aucamp se verhale is uitsonderlike
reisbeskrywings soos Karnaatjie:
reissketse en essays (1968) en In
lande ver vandaan: China – Tibet – Nepal: ’n toerjoernaal (2001).
Op die agterblad van Openbaring
skryf Wilhelm Jordaan die volgende:
Dit behoort
elke mens se lewensinstink te wees – om elke dag verwonderd ondersoekend én met
behalwe ‘n heildronk te drink op die enkele leefbeurt wat jy het.
En hierdie heildronk op die lewe is kenmerkend van die
skrywer se aanslag.
Die humor is daar, selfs ‘n grap (die bekende een) oor
Koos van der Merwe en die seksoloog word vertel. En hoe reis eensaamheid
probeer troef en dikwels presies die teenoorgestelde tot gevolg het. ‘n Skare
mense is immers op oujaarsaand net ‘n versameling van ‘n klomp eensames … so
reg uit Langenhoven.
Of die tersaaklike aanhaling van James Baldwin (“I met a
lot of people on my travels. I even encountered myself”). En reis is nie
vakansie nie; dis harde werk, maar diegene – soos Bakkes – wat wil reis, doen
dit ten spyte van die ellendes (koue, hitte, en ander ontberinge).
Selfs ‘n aanhaling van Seffret uit Literêre terme en teorieë (2013) word hier in ‘n voetnota gebruik
om die leser daarop attent te maak dat die skrywer alles vertel vanuit sy eie
waarneming en nadink oor sy ruimtebeskrywing en die aard van die sub-genre.
Moderne reisverhale dekonstrueer die reisverhaal op verskillende maniere: Marié
Heese se Die honger reisiger (2010) is
byvoorbeeld ‘n reisverhaal met resepte, omdat die outeur meen ‘n land se
resepte openbaar sy geskiedenis, sy karakter, sy wesensaard (9).
III
Bakkes is ‘n larger-than-life-figuur en dit is presies hoe
‘n mens hierdie boek moet benader. Hy vertel vir jou presies hoe dit met reis
gesteld is: as jy nie fiks is nie en boonop rook, gaan jy sukkel om ‘n heuwel
uit te klim. Boonop is hy eerlik. Hy skroom nie om te vertel wat en wie hom
irriteer nie en sy geskiedenis word aangevul (o.a. oor die Rooi versus die Wit
Russe) danksy sy vader, Cas Bakkes, se kennis as historikus.
Maar dis nie hoekom ‘n mens ‘n reisboek of –verslag lees
nie. Daarvoor bestaan die Lonely Planet of
ander gidse. ‘n Mens lees ‘n reisverslag omdat dit ‘n persoon se subjektiewe
reaksie op ‘n landskap of land is. Vir party reisigers is dit
agtergrondservaring en -inligting vir ‘n boek of digbundel. Vir ander is die
reisverslag die artefak of eindproduk – soos by Bakkes.
Sy reisverslae – wat destyds ook in Rapport verskyn het – is eerlik, met ‘n skeutjie humor en sardonie,
deurspek met urban legends en anekdotes. Ook boeregrappe.
Soos die een van Nardus Nel, oorweldig in die
Vatikaanstad, wat toe nie weet wat om in die besoekersboek te skryf nie, en
volstaan met: “Hou Pretoria skoon”.
Op ‘n keer (so tussen bladsy 60 en 62) het ek so gelag dat
ek amper ‘n glas wyn oor die boek omgegooi het – gelukkig het net drie groot
druppels die papier gehaal wat na ‘n nag se rus amper verdwyn het.
Die foto’s is jammer genoeg nie altyd duidelik nie – ‘n
probleem van die kostebesparing wat ons in die gesig staar.
Openbaring – nie
volgens die evangelie – moet ook gelees word as ‘n verslag waarin die outeur
besig is met ‘n soort dagboek waarin hy probeer sin maak van die lewe (as ‘n
reis, wat in wese Boeddhisties is) en sy reisgenote. En homself probeer
verstaan.
Hier teen die einde word die grappies minder; die skrywer
bely immers daar is kolonkanker by hom gediagnoseer en hierom moet hy vir
oulaas voluit lewe. Toe hy gesond is, moet hy alles omkeer …
Hierdie teks is dan vanuit hierdie perspektief uiters
belangrik, omdat ons dit moet benader vanuit die oogpunt van die tweede kans …
So tussen alles deur, skemer daar iets melancholies deur
(maar gaan lees self op bladsy 217).
Die skrywer bly ook nie in vyfster-hotelle nie, maar dikwels
in plekke wat hom blootstel aan immigrasie-kwessies, ‘n ou hysbak, stank of
beddens deel met ander.
Uit die verte van Rusland en Ethiopië is daar die verlange
na sy Afrika …
Om te onthou, vertel hy via Aristoteles, is die skriba van
die siel.
IV
Die boek is meer as ‘n reisverslag of reisverhaal. Dit
word hier teen die laaste paar hoofstukke ‘n boek waaroor CG Jung sou kon
skryf, naamlik ‘n verslag van heling en individuasie. En dit is – soos ‘n mens
uit die spirituele slot aflei – waarom hierdie boek so belangrik is.