Vrae
En was ek ‘n boek, verslete
& my rug swak,
sal jy nog soms ingedagte
blaai deur die strofes
van my bestaan,
verbrokkelende beelde herroep,
vergete verwysings na jouself
tussen die vergeelde blaaie soek
of ‘n vers dalk weer lees
omdat dit sin gemaak het tóé?
Sal jy hoor hoe ek vertroud
ritsel onder die liefkosings
van jou hande?
Van die baie blaai
sal ek plek-plek
sommer vanself oopval,
my vir jou oopvou
teen die lig.
Hierdie gedig staan opgeteken in Johann de Lange se debuutbundel Akwarelle van die dors.
Op die eerste vlak lyk dit na ‘n liefdesgedig waar die spreker (die “ek”)
sou wou voorstel as ‘n boek, en meer spesifiek, ‘n digbundel. Die verwysing na
die strofes (stanzas/kamers) van die bestaan aktiveer die digbundel-beeld. Die
boek is verslete, vol vergete verwysings na die geliefde en die blaaie is
vergeel. Hierdie vergeelde, verslete boek sal plek-plek (van die baie lees!)
sommer vanself oopval (oopvou) teen die lig.
Die ek-spreker praat met ‘n jy. Wie is daardie jy? Is dit die geliefde wat
aangespreek word? Of dalk ook die vader wat deur De Lange se ryk, geskakeerde
oeuvre beweeg, daardie vaderfiguur oor wie hy ambivalent voel?
Ander het die vader vergeet, maar hy nie, skryf hy. En ofskoon hy bely dat
hy hom vergewe het vir sy abandonment
(versaking), is dit duidelik dat die teken in sy onbewuste een is van totale
alleenheid, eensaamheid. Die vader se vertrek deur sy selfdood op 16 Mei 1975
word geaktiveer in die eerste Pa-gedig, wat heet “Pa”. Dit staan opgeteken in Akwarelle van die dors.
Die motto uit Sexton aktiveer die woede en pyn van die ontnugterde spreker (All My Pretty Ones - Poem by Anne Sexton).
Sy gebruik die woord jinx in die
eerste strofe van “All my pretty ones” om hierdie houvas te beskryf:
Father, this year's jinx rides us apart
where you followed our mother to her cold slumber;
a second shock boiling its stone to your heart,
leaving me here to shuffle and disencumber
you from the residence you could not afford:
a gold key, your half of a woolen mill,
twenty suits from Dunne's, an English Ford,
the love and legal verbiage of another will,
boxes of pictures of people I do not know.
I touch their cardboard faces. They must go.
*
Beide digters se ouers regeer vanuit die graf en in Lacaniaanse terme is
die teken in die onbewuste die vader-figuur wat die kind beheer. Die dood
behoort tot die dimensie van die Real (die Réel) en dit is vervleg met die
Verbeelde (Imaginaire) en Simboliese (Symbolique) dimensies. Soos by Freud se
ego, id en superego is hierdie triadiese dimensies saamgesnoer in één. Ellie
Ragland skryf insigryk hieroor in Essays
on the pleasures of death (1995, 199).
Freudiaanse Besetzung, oftewel investissement/cathexis is by sowel Sexton
as by De Lange aanwesig.
So beskou, is die gedig “Vrae” dus meer as ‘n liefdesgedig. Dit is ‘n
aanklag en versugting. Die slotstrofe:
Van die baie blaai
sal ek plek-plek
sommer vanself oopval,
my vir jou oopvou
teen die lig.
Dit is ‘n uitroep na die vader (die nom-du-père), ‘n versugting dat hy moet
lees en kennis neem van al die pynlike verse wat die digter al oor hóm, die
vader, geskryf het.
"The libidinal qualities", skryf Ragland op bladsy 182,"
produced by the gaze, the voice, and so on, are repressed as 'objects' that
give rise to unary signifiers marked by a primary jouissance - an attachment to
reminiscences of oneness. These signifiers bind the outer world to a seemingly
'inner' void in one single stroke. This minimal Borromean structuring of a
signifying chain constitutes what we call 'mind' in a series of triadic units.
And since one of these units - the real - infers constant loss, which, in turn,
produces anxiety, people use language to seek the emotional comfort of closing
out the real".
So gelees, is ‘n “konvensionele” liefdesgedig gelaai met sterk en driftige
boodskappe van die onbewuste wat vir Lacan soos ‘n taal gestruktureer is en ‘n
begeerte is tot die Ander.
Bibliografie
De Lange, Johann. 1982. Akwarelle van
die dors. Kaapstad: Human & Rousseau.
De Lange, Johann. 1986. Snel grys fantoom. Kaapstad: Human &
Rousseau.
Ragland, Ellie. 1995. Essays on the
pleasures of death. From Freud to Lacan. New York: Routledge.
© Joan Hambidge