Saturday, March 9, 2013

Reisjoernaal | Wêreld - Stad 4. San Francisco, stad van trances (dhyanas)



Die tydsverskil tussen Tokio en San Francisco gooi my. Ek is alreeds in Woensdag, terwyl dit vir die Amerikaners nog Dinsdag is. Geen grap nie, hoor, om tyd te wen. Na die vlug van agt ure, kom ek moeg aan by die Pickwick Hotel. Die bus is vooraf bespreek en jy word vinnig en sonder seremonie afgesmyt. Ek het al vergeet hoe luid Amerikaners is en sug, geen rook word in die hotel geduld nie. Voor die hotel is daar etlike verskoppelinge en haweloses. Die nagherberg is net om die draai en ‘n mens is so bewus van ellende.

Dis die vierde stad en nou is ons uit die Ooste in die Weste. Gelukkig op ‘n reis deur die stad ontmoet ek ‘n Ier wat dieselfde reis as ek aangepak het. Hy het weer die Hawaii-Australië been gedoen. Sy reis is dus van Wes na Oos. Ons gesels land en sand oor hoe die liggaam se binneste klokkie nie afgedraai kan word nie.

“Slaap as jy moeg is,” is sy raad. Maar hoe nou gemaak as jy om drieuur wakkerskrik en nie weer kan slaap nie?

“Toemaar, jou liggaam sal so teen more se kant weer ingeskakel wees. Jy sal sien…”

Meer as 40 heuwels en die Golden Gate-brug en trems (hier noem hulle dit trollies) wat kakelend en luid deur die stad kletter. Teen $2 kan jy onbeperk en gevaarlik die stad heuwel op en heuwel af besigtig. Jy moet vasklou om die draaie! Die Golden Gate-brug is dikwels deur digte mis bedek, maar vandag is ons gelukkig. Die brug staan oop en is beskikbaar vir foto’s soos ‘n wafferse celeb wat handtekeninge uitdeel.

Castro straat © 2010 sanfranciscodays.com

Die Beats het in San Francisco die wag gehou oor hul eiesoortige Renaissance. Dit is ‘n stad van gay-regte. In The Castro hang daar uitbundige gay-vlae.

‘n Aardbewing van 1906 het hierdie stadsbeplanners met ‘n blink plan na vore laat kom. Water reservoirs is só ontwerp en op die heuwels geplaas dat as daar vandag ‘n brand uitbreek, die stad gereed sal wees. Die water word gewoon afgelei na die onderste gedeeltes sodat die brand vinnig geblus kan word.

In 1960 het hippies na Haight-Ashberry verhuis en ‘n mens sien vandag nog huisies wat kennelik onder psigedeliese toestande beskilder is. 

Haight Ashbury Hills © Mark Lague

Alcatraz, die tronk, lê net buite die hawe en waghou.

The Stinking Rose, ‘n beroemde baken, is ‘n restaurant wat alles met knoffel maak. Jy kan selfs ‘n knoffelroomys hier vind.

Dit is so dat stede ‘n mens agtervolg. In China Town verlang ek weer terug na Beijing.

Opvallend van San Franciso, en my radar is goed, is die groot aantal tarotlesers en psigiese beraders! Dalk het dit te make met 'n  tyd toe daar geëksperimenteer is met allerlei middels wat die werklikheid ‘n bietjie aanskuif…

Hier het Janis Joplin gebly, en ek soek vervaard na die digter Thom Gunn se huis, om dit vir ‘n digtervriend te kiek. Helaas, geen sukses.

Ek onderneem ‘n tweede bustoer: een van daardie oopdaktoere waarmee jy ‘n stad kan verken. Hierdie keer is dit ander bakens wat besoek moet word. Ek het ‘n swart pet op my kop om die fel son af te weer. By die Fihserman’s Wharf moet ons van die bus afklim en, o gedoente: ek vergeet my pet op die bus. Ek wag. En sowaar, hier kom die bus terug. Ek klim op en dáár is my swart pet. Vreugde van vreugdes. Gou-gou ‘n versnapering drink in Francis Ford Coppola se restaurant, en dan weer vort.

San Francisco, ‘n meditasie

Op soek na die hotel
waar ek as jongeling vertoef
(speel ons naald-naald in die hooimied soek?)
stap ek verby vele bakens
soos die Express-bushalte
twee blokke wég van die Pickwick Hotel.
Ek is Joan-en-die-Boontjierank
wat met my sewemyllaarse reis.
O stad, ek soek na die mens
wat ek was: onverstoord, immer aan die beweeg,
op pad, sonder stilhou by die halte
van berou of regmaak of inkeer.
San Francisco is daar dalk ‘n skut
vir verlore goed in jou geberg?
Ek het ‘n kwitansie vir ‘n digter
wat iewers hier in jou heuwels
en oor die Golden Gate soek geraak het…
On the road vir soveel jaar.
Altyd aan die beweeg met Jack Kerouac
en gedigte in ‘n bladsak.                                                      
Met hierdie onverwagse terugkeer,
flits ‘n toeristiese bus verby:
“The captain has turned-off the nickel and dime sign”.


Bron:

John Snelling. 1990. The Elements of Buddhism. Massachusetts: Element. 
MARK LAGUE Height Ashbury Hills art prints