Friday, March 8, 2013

Petra Müller - Die aandag van jou oë (2002)



Petra Müller. Die aandag van jou oë. Tafelberg Uitgewers, 2002. ISBN 9780624041047.

Resensent: Joan Hambidge

Dit is ‘n koue wintersaand en ‘n mede-digter bel my: “Ek het sopas Petra se nuwe digbundel gelees en ek dink dit is die grootste elegiese bundel in Afrikaans na Tristia.” Toe lees hy twee gedigte voor en ek kry koue rillings oor die mooiheid van hierdie gedigte.

My bewondering vir die digter se volgehoue selfvernuwing en dieper inkyk in die self, is al by herhaling bely. Om die waarheid te sê: sy kry nie genoeg aandag na my sin nie. Ook haar werk as raadgewer van die digkuns, as liefhebber van hierdie genre, is alombekend.

Die aandag van jou oë word deur ‘n groot poësiekenner, André P. Brink as ‘een van die grootste digbundels’ geloof en hy verwys ook daarna as ‘n ‘onverduurbare elegie’. ‘n Digter, Daniel Hugo weer beklemtoon – met bewondering – die oënskynlike gemak waarmee hierdie bundel geskryf is.

Vanaf haar eerste vers in Obool is sy daar met ‘n eiesoortige, elegiese aanslag. Sy treur oor die stilte wat nie opgehef kan word nie. Haar ander bundels is Patria, Liedere van land en see, My plek se naam is waterval en Swerfgesange vir Susan en ander. Haar poësie het dikwels te make met die dood, met die opheffing en beswering van verlies. Ook het sy ons digkuns, soos Breytenbach, verryk met die Sjinese herdigtings en verwysings na ander maniere van die digkuns bedryf.

Want die gedigte lyk en klink anders as die meer Germaanse, vormbewuste gedigte wat tans hoogmode is. In 'n onderhoud in Die Burger met Francois Smith (29 Mei) beklemtoon sy haar voorliefde vir die meer musikale vers. Haar gedigte werk dus eerder melodies en assosiatief as beeldend-kognitief. Sy bely: ”Musiek is die basiese toestand van die poësie, en as jy dit nie het nie…Dis iets wat hedendaagse digters verwaarloos, want hulle is so op beelde ingestel. Maar dit gebeur met die verwaarlosing van die emosie wat jy deesdae oral teëkom – die musiek val weg.”

Dis ‘n bundel wat met die hart geskrywe is en as ‘n mens die digter al hoor voordra het, kan jy haar stem in hierdie verse hoor. Dis ‘n mooi bundel en die gedigte lyk dikwels maklik-deurdringbaar, maar is nogal slim aanmekaar gesit. Daar is ‘n handvol verse wat eenvoudig die leser aan die hart ruk, soos:

Glas

Op reis
In Tarragona het ek toe gesien
Hoedat die vlam die kwarts bedien
Totdat die glas begin te vloei
En uit die asem van die maker swel
As weerloos liggevulde bel
Wat afskulp sonder grein
Of naat.

Jou liefde het my so verlaat.



Naelvlies

Die vliesie langs jou nael was ingeskeur.
Jy moenie so op straat verskyn nie
Want die klein verwaarlosing
Sal so ‘n sig soos myne
By die groter bloeding bring.

Dit mag gebeur dat ek jou invra na die repie pyn
Wat uit die harde horingnael terugloop in jou sagte vlees.
Jy sal die lieg wel vind. Gaan weg en maak jou anders seer
Waar ek dit nie kan sien nie, want die lewe langs jou nael
Is oop en openbaar en in sy senu kaalgestroop:
Hoe sal jy my dáárvan genees?


Posbode

Die dood staan dikwels stil om ‘n adres
Te bekyk, of ‘n vroevy te pluk.
Hy het ‘n mankebeen, en dra sy leersak
Aan ‘n ysterarm. O, geduldige een!
En die brief kom altyd betyds aan,
Per besteller wie se mooi tenoor
Soggens deur ons huis trek as hy ligvoet
Met die trappies afdaal op ‘n melodie van Gluck.

En net vir een oomblik weet ons,
Verstar tussen narsing en tjienkerientjie,
Hóé dit sal wees sonder ons verlore
Klein Euridikie.

Maar die allermooiste vers wat sy nog ooit vir my gemaak het, staan in haar eerste bundel en al die gedigte in hierdie bundel praat terug met hierdie vers:

Nico
Nico Müller, verdrink op 5 November 1961 – Ter herinnering

Hoe sal ek jou van hierdie volgehoue stilte red?
Kyk, die jaar is dragtig –
Bome swel, riviere was
En mispels gooi hul vrugte op die grond.
Die jaar het al sy rykdom reeds gebaar
En bly nóg dragtig, swaar met jaar vir jaar
Se steeds herhaalde vrug.
Die dae lê soos jong granate in ons hande, seun;
Elke pit bloei rooi.

Ons het jou op die stam geënt.
Ons het jou in die grond geploeg.
Ons het jou naam by dag en nag geroep
Tot selfs die voëls dit verder dra,
En jý, met al jou ongeskonde vreugdes
Van hand, van voet en mond,
Verklaar jou daagliks onafhankliker,
Groei altyd vaster in die honger grond.

Die wintergras word wit
En om die heuwels loop die paaie
Na alle verre oorde aan.

Ek moet jou naam nog eenmaal noem, in liefde en verset.
Hoe anders sal ek jou van hierdie volgehoue stilte red?

Die dood is die mees verregaande transformasieproses en hierdie bundel staan in die teken hiervan. Maar dit is nie ‘n negatiewe blik op die dood nie, want die mens keer terug na die bruin aarde waarvan die digter praat en die bundel word opgedra aan die geliefde man se drie seuns. Die bundel werk met vuur as ‘n proses van suiwering en transformasie, vandaar die verwysing na die god Shiva.

Dit is ‘n bundel wat met elke (her)lees iets van sy geheime prysgee en die gedigte is baie gepoleer, sodat dit dikwels maklik lyk. Maar iets bly woel, nawerk in jou onbewuste want dit is immers 'n sterk spirituele ervaring om die geliefde se dood mee te maak en dan daaroor te skryf. Hierom is die wete dan ook sterk: net die gedig bly.

Met hierdie bundel bestendig die digter haar posisie as ‘n fyn beoefenaar van die digkuns in sy musikaliteit en het ons hier ‘n terugkeer na die orale tradisie van die kunsvorm.

Dit kos R79,95 met ‘n lieflike foto van die digter agterop afgeneem deur die geskryfde. ‘n Interessante inversieproses dus: eers het die geliefde waargeneem; nou kyk sy terug…

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]