J.M. Coetzee. Youth.
Secker & Warburg, 2002. ISBN 0 436 27 593 7.
Resensent: Joan
Hambidge
Die naam J.M. Coetzee het sinoniem geword met romans wat
enersyds kritiese lof inoes (Disgrace, Michael K, o.a) en andersyds die morele
polisie van Suid-Afrika laat regop sit (soos met Disgrace se sogenaamde
‘rassistiese’ perspektief). Ook het Gawie Keyser nou onlangs berig oor die
Nederlandse kritici se ontevredenheid oor Coetzee se anti-Nederlandse siening
en sy negatiewe perspektief op die Nederlandse digkuns, Vinkenoog in die
besonder.
Ook Boyhood het ‘n frons ontlok weer oor die sogenaamde
anti-Afrikaanse perspektiewe en ‘n mens begin wonder of gesofistikeerde lesers
enigsins begryp dat die verteller in ‘n boek nie gelyk gestel kan word aan die
skrywer-agter-die-boek nie. Gegee ook Flaubert se waarskuwings oor die
fiksionaliseringsprosesse en die outeur van wie ons miskien die vingerafdrukke
mag gewaar nie, maar nie die hand self nie.
Waarskynlik problematiseer hierdie romans sélf die
komplekse verhoudinge tussen teks-werklikheid en die werklikheid daarbuite en
gedagtig aan die opgewonde Nederlandse lesers: Coetzee het voortreflike
vertalings van Achterberg gemaak! Met hierdie stelling dan as die laaste
oortreding van die kontrak tussen skrywer en leser dat ons ‘n roman as ‘n stuk
fiksionalisering van die werklikheid moet lees en nie die werklikheid as ‘n
‘korreksie’ op of van die roman nie.
Hierom waarskynlik die lang bespreking van Flaubert se
romankuns en hoe die jong karakter (John) onder andere sy werk lees. Van Madame
Bovary het Flaubert beweer: “Madame Bovary c’est moi”; hier is soveel duidelike
blyke dat die vertellende instansie van sy karakter wil sê: “John is ek; John
is ook nie ek nie.”
Ons vind hier ook ‘n komplekse analise van die karakter
se identiteit: sy verloëning van sy agtergrond (o.a. sy Afrikaanse verlede en
sy moeder se verswelgende liefde) en sy ontnugterende besef dat hy binne die
Londense bestel werklik ontuis voel. Daar is vele beskrywings van sy
andersheid: sy kort geskeerde hare, sy kleredrag, sy “Suid-Afrikaansheid” wat
van hom ‘n outsider maak.
Youth kan gelees word as ‘n soort manifes van hoe ‘n
skrywer ‘n karakter en romanwerklikheid skep. Dit begin by die jongman wat hom
ontheem van sy land en veral sy oorbeskermde moeder. Die begin van die roman is
baie snaaks omdat die pretensie van ‘n jongeling wat wil digter word met soveel
ironie en humor beskryf word. Dan vestig hy hom in Londen, werk by IBM.
Ondertussen is hy op soek na die Groot Passie, hy lees die leterkunde en o.a.
Pound spreek hom aan. Saans studeer hy en hier vind ‘n mens baie kodes vir die
skrywer as voyeur. Hy bestudeer eerder Ford Madox Ford as Pound, want vir
laasgenoemde sou hy Chinees benodig.
Hy vind letterkunde minder intimiderend as die wiskunde
of rekenaarwetenskap (“Literature may
not be as noble as mathematics, but at least there is nothing about literature
that intimidates him”, p. 53). Die
onsekerhede van die jong digter wat ten slotte totaal ontgogel is in sy
vermoëns as skywer en minnaar, word met absolute beheersing en distansie vertel.
Ironies genoeg, leer die karakter wel later Chinees, omdat hy hy simpatie met
die wêreld-struggle het. Sy sieninge oor Viëtnam moet gelees word teen die
agtergrond van sy gevoelens oor Suid-Afrika en sy kritiek op die
apartheidsbestel.
Dit bly egter ‘n roman waarin die karakter nooit tot rus
kan kom nie. Hy probeer dig en ironies genoeg probeer hy Neruda se grootse
gedig oor Macchu Picchu met ‘n rekenaar dekodeer. Hy skryf deur middel ‘n
rekenaar Neruda-pastiches: met funeste gevolge. Dit is ‘n snaakse, dog
onthullende vinjet van die soektog na ‘n eie stem en eie identiteit en werp ‘n
belangrike lig op hoe skrywers deur nabootsing tot hul eie reg kom.
Daar is natuurlik ook verwysings na ander skrywers waarin
die vernietigende distansie op die self aan bod gekom het: Kafka, Beckett en
natuurlik Eliot. Die roman werp ‘n belangrike lig op hoe skrywers hulself
modelleer op ander; om juis weer alles te verwerp wat hulle gelees het.
Ook die beskrywing van intieme seksuele ervarings – veral
met ‘n maagd – word baie behendig beskryf.
Dit is ‘n baie verliteratuurde teks, maar die verwysings skep nooit
afstand nie. Dit verskaf eerder belangrike sleutels vir die leesproses wat ‘n
skryfproses word. Die leser besef hier dat daar oor meer as ‘n vervloë jeug
geskryf word. Dit is eerder ‘n private blik op die skeppingsdrif, die gevoel
van ‘n Romantiese belatedness en ontheemding wat waarskynlik aan die basis van
alle groot skryfwerk lê. Waarskynlik smaal die karakter reeds oor hierdie
kritiese uitspraak sy belesenheid en selfironie in ag genome.
Toe Flaubert Salambô geskryf het, het hy eindelose
navorsing op stukke papier gedoen wat hy nooit gebruik het vir die roman nie.
Of slegs ‘n enkele wetenswaardigheid het in die roman beland. Baie van Coetzee se navorsing staan in die
vele tekste wat hy vir sy leser aanbied. Ons lees dus ‘n gekondenseerde stuk
navorsing waaruit ander romans sou spruit. In die ontmaagdingstoneel vind ons
die ‘ervaring’ of ‘navorsing’ wat jare later sy beslag sou kry in Disgrace.
So sou die leser ook Coetzee se ander magsverhoudinge
(tussen baas en slaaf) ‘herken’ in sy uitsprake oor ‘n besoek van sy niggie en
haar vriendin aan hom. Hierdie besoek is eweneens ‘n sentrale moment in die
uitsprake oor Afrikaans en die verwysing na ‘n vrou uit Malawi as ‘n ‘aia’.
Alles word so ondergesteld beskryf dat dit nooit skril of politiek-korrek
aandoen nie.
Dit gaan dus vir die vertellende karakter om die soeke na
identiteit wat hy pertinent wil lossmaak van Afrikaans en ‘n koloniale
werklikheid. Hierin lê In the Heart of the Country opgesluit. Die vertelling is
ook in ‘n sirkelgang vertel sodat die nihilistiese slot wil aansluit by die
openingstoneel. Die soeke na ‘n ‘stem’ word goed gesinkopeer met die abstrakte
wêreld van die rekenaars en wiskunde. Die soeke na vriendskap in ‘n vreemde
stad het ook ‘n homo-erotiese aanraking tot gevolg; waarskynlik nie net om die
eensaamheid te besweer nie, maar om onbewustelik materiaal vir die digkuns te
vind.
Dit is Coetzee se snaaksste roman. Daar is self-spot en humor.
Die grens tussen uiterse nihilisme en komedie is immers papierdun: Tsjekof se Drie susters kan ook as parodie gelees of
opgevoer word. Hierom ook die verwysing na die karakter se ervaring van Beckett
se Watt as komies!
Youth behoort saam met Boyhood gelees te word. Die
veragting vir die vader se drankprobleem en die vrees dat hy so besluiteloos
soos die vader sal word, word in hierdie kragtige vertelling besweer. Die
agtergrond is Kuba, Sharpville, Viëtnam…
J.M. Coetzee het tereg al tweemaal die Bookerprys
verower. Dit kom hom weer toe.
[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]
No comments:
Post a Comment