Susan Sontag (c) Annie Leibovitz
In place of a hermeneutics we need an erotics of
art. – Susan Sontag
Style is the principle of decision in a work of art,
the signature of the artist’s will. – Susan Sontag
A
writer is first of all a reader – a reader gone beserk; a rogue reader; an
impertinent reader who claims to be able to do it better. – Susan Sontag
“Reports
of the death of reality – like the death of reason, the death of the
intellectual, the death of serious literature – seem to have been accepted
without much reflection by many who are attempting to understand what feels
wrong, or empty, or idiotically triumphant in contemporary politics and
culture.” – Susan Sontag
Vanaf Februarie tot Maart vanjaar het ek uitgebreide
essays oor Susan Sontag geskryf in afwagting vir haar besoek aan die
Universiteite van Kaapstad (17 Maart) en die Witwatersrand. Hierdie essays
staan op Litnet ("Desperately Seeking
Susan Sontag: ’n Essay-verhaal" en "Op soek na oorspronklikheid").
My ontmoeting met hierdie merkwaardige intellektueel het my diep onder die
indruk gebring van wat ‘n mens as die essensie van Sontag se skryfwerk kan
beskou: op die punt af. Haar
skryfwerk, nes haar menswees, is gekenmerk deur
onopgesmuktheid. In haar essays – wat haar belangrikste bydrae is tot
moderne kultuurstudies – word belesenheid op ‘n eenvoudige dog goed
beredeneerde manier aan die leser oorgedra.
Die Amerikaanse kulturkritikus,
Elizabeth Hardwick kon hierom van haar belangrikste essays in ‘n kompendium
opneem wat nou reeds klassieke status verwerf het. ‘n Mens dink aan die bekende
“Notes on camp”, die essay oor Oscar Wilde, pornografie, Leni Riefenstahl, of
my allergunstelinge, “The Aesthetics of Silence” en “Trip to Hanoi”.
Waarskynlik kan haar bewondering vir Roland Barthes ook
as ‘n duidelike invloed op haar werk gesien word en van haar het Barthes
gesê: ”Toujours fidèle, toujours”. En soos Barthes was Sontag altyd getrou aan
die kompromislose én eerlike reaksie op ‘n dramatiese of politieke gebeurtenis.
Trouens, Sontag het onmiddellik ná 11 September en die histeriese Amerikaanse
reaksie gewys op die dwase buitelandse beleid van haar landgenote. Vir haar is
die funksie van die intellektueel om deurgaans die rol van die fluitjieblaser
te speel.
Toe sy in die laat-sewentigerjare laatnag op straat gestaan het met
haar seun, omdat haar appartement afgebrand het, het sy bely dat om ‘n
intellektueel te wees ‘n mens nie ryk maak nie. Sy kon nie eens ‘n hotel vir
die nag bekostig nie. Haar roem het vanselfsprekend later hierdie prentjie
aansienlik verander en ook haar verbintenis met die gesogte fotograaf, Annie
Leibovitz, het van Sontag ‘n kultuurikoon gemaak.
In vele uitgawes van Vanity Fair is daar lieflik-intieme foto’s
gepubliseer van Sontag in ‘n weerlose, vroulike pose. Daar bestaan ook ‘n foto
van Sontag op ‘n ou geroeste skip met haar windverwaaide hare. Hierdie foto
vertel in snelskrif vir die kyker presies wie Sontag is: ‘n persoon dikwels op
stormwaters, téén die norm in, en volledig geïsoleer. Ook haar stryd teen
kanker word in hierdie foto geaktiveer.
In haar studie Illness as Metaphor skryf
sy oor die uitwerking wat hierdie siekte op haar lewe gehad het. Dit word egter méér as ‘n beskrywing van haar
siekte. Sy skryf oor hoé kanker die siekte van skaamte en stilte is en hoe ons
siekte demoniseer deur metafore daaromheen te gebruik. In haar latere studie Aids and its Metaphors, verduidelik sy dat Vigs die
plek van kanker ingeneem het.
Die kenmerkende grys streep deur die swart hare (bykans
‘n handtekening van die outeur Sontag) en haar lenige voorkoms, het van Sontag
‘n aanskoulike figuur gemaak. Sy was ook uitgesproke biseksueel en is dikwels
deur feministe gestriem weens haar stilte oor vroueregte. By Sontag was dit
egter nie ‘n vrees om hieroor te polemiseer nie. Sy het egter indirek hierop
gereageer tot die chagrin van
Camille Paglia en Dale Peck wat ‘n openlike konfrontasie wou uitlok.
Sy was
inderdaad die kampioen van vrye spraak, met die besef dat dit altyd ‘n konteks
en verantwoordelikheid inhou. Dit sou onsinnig wees om ‘n seminale teks by
Sontag uit te sonder, maar waarskynlik is On Photography ‘n studie om uit te sonder. Sy betrek Helmut Gernsheim se uitspraak dat ‘n
foto ‘n internasionale taal is wat deur almal begryp word. Ten spyte van
politieke of kulturele verskille kan ‘n foto menslikheid en veral, ónmenslikheid, vasvang. ‘n Foto kan die begeerte tot wraak wakkerhou.
Vir Sontag is daar ‘n grammatika in
foto’s opgesluit benewens die morele dimensies wat dit mag aktiveer. Sy wys ook op die implisiete aggressie wat
daar in die gebruik van ‘n kamera opgesluit lê.
Nostalgies en elegies, dit is
foto’s in wese. Die kyker het dikwels ook ‘gesig’ vir die fotograaf. Hierom lyk foto’s anders wanneer ‘n fotograaf
mense onverwags betrap en hulle afneem in ‘n private ruimte wanneer hulle
onbewus is van die kamera se aanwesigheid.
Om iemand af te neem, meen Sontag, is ‘n gesublimeerde
moord – ‘n sagte moord…
Tydens haar besoek aan die UK was sy oënskynlik gesond,
behalwe dat ‘n mens getref was deur die donker kringe om haar oë. Waarskynlik
was sy toe reeds siek. Dit het egter nie geblyk uit haar indringende,
intellektuele vrae of haar gesellige optrede tydens ‘n ete nie. Sy kon nie
uitgepraat raak oor haar besoek aan die “Aids Memory Box” nie en sy het gemeen
dat ons huidige politieke situasie ‘n mirakel is.
Die impak van haar besoek sal almal vir ewig bybly. En
haar laaste studie, Regarding
the Pain of Others som haar gesindheid ten beste op.
Volledige
Bibliografie van Sontag:
Regarding the Pain of Others (2003)
Where the stress falls (2003)
In America: A Novel (2000)
Conversations with Susan Sontag (1995)
The Volcano Lover: A Romance (1993)
Alice in Bed: A Play in Eight Scenes (1993)
The Volcano Lover: A Romance (1992)
The Way We Live Now (1991)
Aids and Its Metaphors (1989)
A Susan Sontag Reader (1982)
Under the Sign of Saturn (1980)
I, Etcetera (1978)
Illness As Metaphor (1978)
On Photography (1977)
Brother Carl; A Filmscript (1974)
Duet for Cannibals; A Screenplay (1970)
Styles of Radical Will (1969)
Against Interpretation, and Other Essays (1966)
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]