Tuesday, March 5, 2013

Finuala Dowling - I Flying (2002)



Finuala Dowling. I Flying. Carapace Poets, 2002. ISBN 1-874923-66-3.

Resensent: Joan Hambidge

Wat ‘n wonderlike debuut is I Flying nie! Dit is gedigte oor ‘n geskeide vrou (en haar kind), verhoudings met Oom Piet, haar ma, ‘n getroude man, maar veral: ‘n deurlopende verhouding met die digkuns.

Die reeks Carapace Poets het Isobel Dixon se pragtige Weather Eye gepubliseer en ook Kim McClenaghan se debuut verdien vermelding. I Flying is hoofsaaklik gedigte wat ingaan op jeugherinneringe, verlies, die beskrywing dikwels van die onsêbare of sub-tekste wat tussen mense lê.  In die gedig “Repair” word oor die skrynende effek van jeugpyn geskryf. Twee vriende het ook op ‘n jong ouderdom ‘n moeder of vader verloor.  Oënskynlik het hulle herstel, maar wanneer haar dogtertjie huil, stap hulle saam na die kamer:

These friends followed when I carried her to bed,
stayed for the story, the caressing of the head, 
waited for the bottle, the curtains drawn across 
on a room full of children and their irreparable loss.

Die gedigte het dikwels ‘n ironiese aanslag, of byterigheid, soos ‘n Dorothy Parker-vers. “Rule three thousand and three” werk speels met al die moets/moenies van haar opvoeding. Die belangrikste een word egter laaste vermeld: moenie met ‘n getroude man slaap nie.

“Teaching Margaret Atwood” word ‘n siniese self analise en waarsku teen die gevaar van selfbejammering wat nooit in hierdie gedigte gevind word nie. Hiervoor is die verse te ironies; die digter tegnies bedrewe. “Like Boston” is meer as ‘n gedig oor ‘n verlore herinnering: dit word ook ‘n gesprek met al die ander Ooskus-digters wat al oor die ‘falling leaves’ geskrywe het en Elizabeth Bishop se herinneringsverse praat hier ook mee. (“The art of losing is hard to muster…”).

Daar is selfspot, opstuur, grimmigheid. Klaar ‘n beduidende self-ontginning soos die titel beduie. “I read the last page first” getuig ook van iemand wat al aan die ontvangkant van ellende gestaan het, maar tog leer oorleef het. “Poem as emotional blackmail” is ironies en speels. ‘n Mens kry ook die geval dat hier ‘n sterk afgebakende persona voor jou ontvou, omdat die digterlike stem so helder opklink.

In die digter se biografie word daar speels (self-verminderend) geskryf dat sy pas in 1999 gedigte bymekaar begin sit het nadat sy studente vir 15 jaar lank geleer het om dit uitmekaar te haal en te bederf! Bluf jou nie. Hierdie gedigte is geskryf deur ‘n uiters bedrewe digter wat veel beloof vir die toekoms.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]