Friday, March 8, 2013

Gillian Slovo - Red Dust (2000)



Gillian Slovo. Red Dust. Virago, 2000. ISBN 186049 915 5.

Resensent: Joan Hambidge

Gillian Slovo se roman is ‘n roman wat die implikasies van versoening ondersoek. Dit is dus ‘n roman oor die WVK en vertel die verhaal van Sarah, ‘n regsgeleerde, wat uit New York na Suid-Afrika terugkeer. Daar is ‘n polisieman (natuurlik gewese) Dirk Hendricks; Alex Mpondo, ‘n LP.

Die roman word op die buiteskutbladsy as ‘ryk, ambisieus en kragtig’ aangekondig. Dit is dit beslis, hoewel ‘n mens baie gou besef dat Red dust eerder gemik is op die buitelandse leser.

Slovo werk die verskillende teenstellings uit in haar roman: rassiste en ‘bleeding hearts. Ook word die opposisie tussen wit en swart goed uitgewerk en Sarah word ook gekonfronteer met mense uit haar verlede tydens die verhoor.

Die skrywer het ‘n fyn oog vir détail en dit vra ook om saam met Antjie Krog se Country of my skull gelees te word. Hoewel dit ‘n goeie ‘read’ is soos die Engelse dit sou noem, mis die roman die werklike kragtige ontginning wat hierdie gegewe bied. ‘n Mens kan dan ook nie help om te wonder wat ‘n J.M. Coetzee byvoorbeeld met hierdie verhaal sou doen nie. En dan weet ‘n mens: hierdie roman bly te te sterk in sy eie voorskrifte vasgevang. Dit gee sig nooit oor aan die waansin van die onbewuste nie. Miskien is die opset te polities-korrek en hierom dikwels voorspelbaar.

Goeie romans loop dikwels weg van die voorspelbare weë. Dit moet juis verby die werklikheid  beweeg en donker drifte openbaar. Hier gebeur dit egter nie genoegsaam nie. Gillian Slovo kan skryf: haar taaldbeheer is goed, sy is sintuiglik,  die spanninge is daar, maar soos reeds gesê, van ‘n diepgaande ontginning is hier nie sprake nie. Daar is te min metaforiek en waarskynlik ook te min fantasie (gedagtig aan byvoorbeeld Llosa of Garcia Márquez).

Interessant genoeg word ‘n interessante eet-sessie en kroegtonele weergegee, sonder dat dit ooit verder gevoer word. ‘n Mens dink byvoorbeeld aan wat Etienne Leroux met ‘n kroegtoneel kon maak  En die bladsy wat saam met Sizela se lyk begrawe is wat die verraad in die vertelling impliseer, word ook te vinnig gelos. Moontlik moes hier nog meer rooi stof oor die geskiedenis gewaai het voordat ‘n diepgaande roman geskryf kon word.

Die roman is meer as ‘n lughawe-roman, maar juis omdat dit meer potensiaal het,  voel hierdie leser ‘n onbehae met wat hier aangebied word. Momente wat wil-wil ‘groots’ word (soos die selfmoordtoneel) en die spel met waarheid/leuen in die WVK-verhoor, laat ‘n mens besef dat hierdie roman miskien ‘n bietjie moes oorstaan.

Want hoe ironies is die slot nie post-11 September: "It had once been home to her and yet now New York beckoned. She had a different life there, an ordinary life unmarked by the contours of heroism, sacrifice and guilt that were so much a piece of everything South African. Soon she would be going back. Of that she had no doubt.”

Ondertussen is die roman op die kortlys vir die gesogte Sunday times-award.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]