Gerda Saunders. Blessings
on the sheep dog. Southern Methodist University Press, 2002. ISBN: 0 87074
468 2.
Resensent: Joan
Hambidge
Gerda Saunders se bundel kortverhale Blessings on the
sheep dog dra die stempel van goedkeuring: J.M. Coetzee het dit goed gevind!
Dit is dikwels mode om die naam van ‘n bekroonde op ‘n agterflap te plaas. Ons
verneem ook dat hierdie teks die Utah Arts Council 1998 Publications Prize
verower het.
Me. Saunders is ‘n uitgeweke Suid-Afrikaner en hierdie
blik op buite is dus altyd ‘n interessante een: van onthou hoe dit was (sy gee
ook erkenning aan haar familie wat van die stories vir haar vertel het) en hoe sy
dink dit kon wees. Sy open met ‘n tipies Suid-Afrikaanse gegewe: verhoudings
oor die kleurgrens en die uitwerking daarvan binne ‘n konserwatiewe gemeenskap.
“A Sudden New City” werk met dit wat die kortverhaal so onderskei van ander
genres, te wete sub-teks en die klinkende, opsommende slot. (Selfs waar dit
'‘afwesig'’is, werk dit juis omdat die leser dit verwag.)
Waarskynlik is een van die mees verbluffende verhale “My
brother can tell” met sy kragtige slot: ‘n jong dogtertjie wat haar boetie
‘red’ en haar bors vir hom gee. Teen die agtergrond van haar waarnemings oor
word ‘n verhaal vertel van hoé kinders ‘n lewensveranderende ervaring
interpreteer. Die verhaal is sielkundig ryk geskakeerd vertel met genoeg
implikasies (soos die houding van ‘n vatterige onderwyser) wat hierdie kind se
oorbewuste siening van die dood verklaar.
“Blessings on the sheep dog” is eweneens ‘n briljante
verhaal waarin die donker drifte van die psige ondersoek word. En ‘n mens moet
hierdie skrywer die kompliment maak: wanneer sy Afrikaanse verwysings gebruik,
word dit ‘n integrale deel van die vertelling. Sy begryp die Afrikaanse psige baie
goed en in “We’ll get to now later” word die hele geskiedenis rondom Koos
Prinsloo se opmerking in Die hemel help
ons oor P.W. Botha vertel.
“The Epistemology of Romantic Despair” is ‘n boeiende
analise vol feite. Al die stories in hierdie bundel is goed nagevors. Gelukkig
word die wetenskaplike feit nooit ‘n belemmering in die verhaalgang.
“No money for stamps” is soos die reeds genoemde “My
brother kan tell” ‘n verhaal wat aanspraak maak op antologisering. Dit is ‘n
verhaal wat onder meer Griet skryf ‘n sprokie ook as interteks aktiveer en
vertel die komplekse verhaal van ontheemding, liefdesverraad, moederskap en ‘n
komplekse relasie tussen vrou en huishulp. Magriet beleef binne ‘n nuwe ruimte (Amerika) felle emosies
oor politieke ongeregtigheid. Ironies genoeg word sy hier ‘n soort huishulp vir
skatryk mense en haar verhouding met haar indertydse bediende (en skuld omdat
sy haar dogter aan die pas-polisie uitgelewer het) word a-chronologies vertel.
Die afskeidswoorde van Rose was toe sy haar vra om te
skryf: “No money for stamps”. Die mitologisering van die huwelik (o.a. kom Lady
Di ter sprake as ‘n soort Sneeuwitjie) word hier aan die kaak gestel. Ook
presteer hierdie verhaal om van ‘n politieke gegewe iets argetipies te maak:
Rose is meer as die bediende. Sy verteenwoordig Magriet se gewete en verlede.
Dit is ‘n bundel wat behendig geskryf is. Dit werk met
die donker kant van die menslike psige, met die wete, dat die positiewe ook
bestaan. Sy beskryf donker drifte, sy gaan in op die chora van taal (in
Kristeva se terme) en ontgin dit wat dikwels buite woorde lê: drome, begeerte
na taboe-verhoudings, verliese, melancholie, ontheemding, wanhoop.
In ‘n verhaal word Foucault se siening oor seks
weergegee: dat dit die plekke van geheime is en dat dit ook iets verraai van
hoe ‘n mens met die werklikheid omgaan. Die skrywer ontgin al hierdie donker
geheime waarvan haar karakters dikwels uitgelewer is soos in die skitterende “Blessings on the sheep dog”.
Boonop ontgin die skrywer Afrikaanse uitdrukkings en
idiome. Sy gee ‘n tipies Afrikaanse blik, maar dit word in Engels ‘vertaal’. Sy
maak van die verhale iets universeels.En die taalbeheersing is uitmuntend. Sy
erken dat die verhale elders ‘gehoor’ is of afgekyk is. Is Afrikaans haar
moedertaal, wonder ‘n mens? Dit sal die verhale nog dwingender maak: dat sy
buite die landgrense leef en in ‘n tweede taal skryf.
Dit is ‘n boek wat die gehaltemerk van J.M. Coetzee
beslis mag dra.
[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Insig geplaas.]