Beatrice Heather Kidd. Anatomy of a Mermaid: The life cycle of the Feminine Psyche. Compress, 2003. ISBN 978-1-919833-18-7.
Resensent: Joan
Hambidge
Oor die psige van die vrou verskyn daar uiters belangrike
handleidings. Party Jungiaans geinspireer en ander is weer uit ‘n feministiese
perspektief geskryf. Van die magdom studies is Clarissa Pinkola Estés se Women who run with the wolves (1992)
waarskynlik van die insigrykste, juis omdat dit storievertelling koppel met
Jungiaanse prosesse. Daar is natuurlik Byatt en Sodré se fantastiese Imagining characters (Six conversations
about Women Writers) (1995) waar
‘n bekende skrywer en psigo-analis skryf
oor die binne-prosesse wat ons maak of breek.
So pas het daar op eie bodem ‘n relevante studie verskyn:
Anatomy of a mermaid (The Life Cycle of
the Feminine Psyche). Hierdie leser
vind dit altyd verblydend wanneer Suid-Afrikaanse skrywers ook ‘n bydrae lewer
en Cas van Rensburg se studie oor Diana en sy droomboek het immers bewys dat
daar beslis ‘n bydrae te lewer is.
Kidd se studie begin met die persoonlike relaas so bekend
aan vele feministiese tekste. Vanaf Simone de Beauvoir tot en met Paglia skryf
vrouens oor die redes vir hul opstand teen
die patriargie en waarom hulle dit nie kan of wil aanvaar om as die
‘tweede seks’ getipeer te word nie. Trouens, De Beauvoir het tot laat in haar lewe ook standpunt
ingeneem teen die moederfiguur en by Paglia vind ons ‘n verheerliking van haar
Italiaanse agtergrond.
Anatomy
of a Mermaid werk op die beginsel van vele van hierdie soort studies:
dit gebruik ‘n sprokie of fabel om ‘n universeel psigiese of primordiale proses
aan die leser te illustreer. Die leser moet dus die dikwels naiewe beeld
aanvaar ten einde die psigiese prosesse te begryp. Die skrywer haal uit ‘n
veelheid van tekste aan wat dit nogal ‘n ryk leeservaring maak. Daardie
ontglippende nosie ‘self’ word op verskillende manier beskou. Onder andere uit Upanishads
wat meen as die self die grootste struikelblok of probleem is, moet die heling
juis ook hier geleë wees.
Waarskynlik sal die leser die implisiete draad van die
studie optel: die versoening tussen opposisie en waarskynlik ook tussen
Oosterse en Westerse denke. Dit is ‘n studie wat geskryf is nie net na
jarelange studie of terapie aan ander nie, maar ook uit persoonlike ervaring
van ellende en pyn. Oorgange is wat gevrees word, maar as ‘n mens aan die
verskillende fases van jou lewe (wat immers verskillende selwe inhou) sou name
gee, word dit immers makliker om te oorleef. Transisie of oorgang beteken ook
dat ‘n vorige fase nooit meer kan bestaan nie.
Dis nie ‘n boek wat ‘n mens in een sitting kan of behoort
klaar te lees nie. Dit sit vol wyshede en aanwysings wat dikwels ‘n tweede lees
of nadink vra. Dit is waarskynlik ook soos met die wolweboek ‘n studie wat deur
mense bespot of geparodieer mag word. Vir die persoon wat haar egter in ‘n
doodloopstraat bevind of nie meer raad het met die kontradiksies in die self
nie, is hierdie anatomie van die psige beslis aan te beveel.
‘n Verskeidenheid van tekste word betrek en Merwede van
der Merwe se studie oor meditasie is ook daar. Dit is ‘n boek oor heling en
uiteenlopende mense word aangehaal: van Leonard Cohen tot La Rouchefoucauld.
Die boek is in ‘n sirkelgang geskryf soos dit dikwels die geval is met hierdie
soort studies. My kopie sit vol donkie-ore en persoonlik was die insiggewendste
gedeelte oor die ko-afhanklikheid in verhoudings, vrese vir isolasie en
natuurlik, haar insigryke beskrywing van hoe jy die vermaledyde selwe kan
hanteer deur name daaraan te gee. Ook haar feministiese lesing van bloubaard is
goed en haar bespreking van drome (veral met betrekking tot geweld in drome)
onthullend. (Sy verwerp tereg die siening dat drome oor dood ‘n vooruitskouing
van jou eie dood is en gewelddadige drome dui eerder daarop dat jy iets in jou
self probeer uitwis.)
Vir wat dit wil wees, is dit ‘n belangrike boek. Vir die
leser(es) wat gereed is hiervoor is Anatomy of a Mermaid ‘n waardevolle
psigiese reis. Vir diegene wat boeke haat wat metafories geskryf is, vermy dit
eerder.
[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]