A.N. Wilson. Iris
Murdoch as I knew her. Hutchinson, 2003. ISBN 0 09 174246 3.
Resensent: Joan
Hambidge
In die pragfilm Iris
(met Dame Judy Dench en Kate Winslett) word die merkwaardige lewe van die
skrywer-filosoof, Iris Murdoch goed verbeeld. Ook die biografie – huldeblyk? –
van haar man, John Bayley, ‘n gesiene Engelse literator is aan ons bekend. A.N. Wilson se biografiese studie-cum-‘roman’
is soos Janet Malcolm se studie oor Sylvia Plath, ‘n priemende blik op die
komplekse figuur Murdoch, ‘n Alzheimer-lyer. Wilson het bekendheid verwerf as
‘n bekroonde romanskrywer en sy omstrede studies oor Jesus en Paul.
Laat ek dit duidelik en onomwonde stel: ek is ‘n groot
bewonderaar van haar as filosoof en haar studie oor Sartre is werklik
uitstaande en ek ken min romans wat so knap en onderhoudend geskryf is as The Sea, the Sea. (Mense verskil van my
en ‘n gesiene literator kon nie verstaan waarom sy hierdeur moes worstel nie.)
My soort romanskrywer is sy: ‘n storieverteller wat haar verhale met ‘n sterk
filosofiese stramien laai.
Wilson was gevra deur Iris Murdoch om haar biograaf te
wees. Hy het Iris Murdoch en haar eggenoot baie goed geken. Hy spaar egter nie
die roede nie. Die eerste mite wat hy ontluister, is dat die eggenoot altyd
Iris Murdoch ondersteun het. Dit is duidelik dat daar dikwels sprake van
professionele jaloesie was. Die tweede mite wat hy ook prik, is dat haar man
haar seksuele aktiwiteite kon verduur. Haar seksuele aptyt – met beide geslagte
– het tweekeer die huwelik byna laat wankel. Wilson insinueer ook dat sy ‘n
komplekse seksualiteit gehad het: in haar fantasie-lewe het sy haar haarself as
‘n manlike homoseksueel ervaar.
Die derde (en belangrikste) mite is Murdoch se
liefde vir die waarheid. Dit is ook uit hierdie studie duidelik dat sy haar eie
fiksionele werklikheid geskep het ten einde te kon oorleef. Haar nederige
afkoms en latere roem het gemaak dat sy uiters gesteld was op haar Dame-status en dat sy nie daarvan gehou
het as mense haar herinner het aan haar verlede nie. Was sy werklik wat sy
voorgegee het om te wees?
Wat duidelik uit hierdie studie na vore kom – wat die
skrywer karteer as sy subjektiewe blik op haar – is dat sy briljant was. En dat
fiksionele skrywers dikwels slordig met feite omgaan. Haar eiesinnige manier
van doen, het egter ‘n briljante skrywer en filosoof opgelewer. En dit is
uiteindelik al wat saakmaak. Tog sou iemand beswaar kon maak dat die Professor
van Moralisme so kon lieg! Tog is haar verhoudings met vriende en eks-geliefdes
uiters openbarend (o.a. met Canetti). Sy het met almal altyd goeie verbintenisse
probeer behou.
Ons word dikwels van persoonlike inligting voorsien –
soos dat Iris vuil was en dat haar en Bayley se huis ‘n varkhok was – wat
miskien vir die ‘puur’ leser onaanvaarbaar mag wees. (Dit word egter reeds in
die film uitgebeeld.) Dit is egter myns insiens noodsaaklik om alles te vertel
ten einde die volle prentjie te kry. Wilson gee sy perspektief op sake en stel
dit ook onomwonde: dit is hoe hy dit sien. Hierom dat hy waarskynlik van ‘n
soort tussenvorm gebruik maak, te wete ‘n soort biografiese-gesprekvorm waarin
hy self dikwels as ‘n ‘ek’ optree.
Wat besonder goed vir die leser verbeeld
word, is die Britse klassesisteem en snobisme. Ook die gesprekke aan ‘high
table’ aan Oxford verhelder die prentjie. Klein dwarsklappies na die sisteem
(soos dat die don uitgaan, maar sy vrou, self ‘n gesiene akademikus, moet die
kinders versorg), word ook uitgedeel. Sosiale kodes word betrek (rondom
oop en toe deure). Drank speel ‘n belangrike rol in die lewens van hierdie
intellektuele wat dikwels mekaar vermaak met intellektuele speletjies. Daar
word geskinder oor Hugh Grant wat partytjies bygewoon het en ‘n vriend se
obsessie met hom en hoe Iris Murdoch gereageer het op kritiek. Sy wou dikwels
nie ‘n redakteur toelaat om haar romans te redigeer nie, sodat flagrante feite
foute die roman ondermyn het.
Ook A.S. Byatt se beswaar dat sy nooit werklik groot
romans kon skryf nie, word bygehaal. Wilson wys tereg op die ‘lawwe’ aspek van
haar romans, of dat ‘n vertelling dikwels vaart verloor. Ook bely hy hoe by
geleentheid gedink het dat hy ‘n karakter in ‘n roman is en met stiplees besef
het dat fantasie wel ‘n rol gespeel het in die proses.
Hoe jammer meen Wilson dat die assosiasie met Alzheimer
se siekte vir die meeste mense die belangrikste attribuut van Iris Murdoch
geword het en dat die romans dikwels vergete raak.
Waarskynlik is die portret ietwat ontluisterend. Maar dis
mos hoe dit gebeur: kort na die dood die huldeblyke en ophemelings; hierna die
die dekonstruksie en karaktermoorde en jare later, as almal wat die persoon
geken het reeds dood is, die ewewigtige en regverdige verslae.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Rapport geplaas.]