Friday, February 1, 2013

Hennie Aucamp - Vlamsalmander (2008)



Hennie Aucamp. Vlamsalmander. Protea Boekehuis, 2008. ISBN 978 1 86919 246 4.

Resensent: Joan Hambidge

Op dieselfde tyd wat Hennie Aucamp se digbundel Vlamsalmander by Protea Boekehuis verskyn, publiseer J.C. Steyn ‘n soort outobiografiese-cum-historiese teks, Sonkyker, ‘n Vrystaatse salmander. Dit is dan ook metafoor vir die alleenstaander, die eenspaaier en by Aucamp staan die vlamsalmander vir die poëtiese woord en besinning oor die kuns. 

In hierdie Aucamp-bundel met ‘n foto van ‘n boom wat soos ‘n salmander lyk deur Mark van Coller, word verskeie tipies Aucamp-temas onder die loep geneem. (Dis glo ‘n witgatwortelboom en pas in by die digter se reeks kwatryne oor bome.) Die leser is altyd bewus van die kunstenaar / skrywer se blik op die werklikheid, soos onder andere, interpretasies by skilderye van Rembrandt, kommentaar by sewe litografieë van Picasso, ‘n gedig oor / vir Ingrid Jonker.’n Sub-titel by ‘n skildery van Lucas Cranach, staan onderaan ‘n gedig. Dit tipeer dan ‘n soort stylsoort, ‘n kommentaar op die kuns, die nagebootste wêreld, die simulacrum.

Uiteraard is hierdie soort portret-vers terselfdertyd ‘n dubbelspraak, of kan as sodanig getipeer word: die digter lewer kommentaar op Piet Mondrian of Irma Stern en op ‘n implisiete wyse slaan dit terug op die skrywer se siening van die liefde. Die drieluik oor Stern is knap.

In die Kongo en elders

Sy het fel, verbete, laat Romanties,
haar primitiewe self gaan soek
en stel in weelderige prosa
haar binnereis ten boek.

By die gedig oor Mondrian vind ons die woord “tinteldronk” wanneer die kunstenaar sy kuns soos jazz op seildoek uitstal. Aucamp is ‘n vormvaste digter. Dit weet ons uit sy beoefening van die Shakesperiaanse sonnet in Dryfhout (Tafelberg, 2006), die verskeidenheid kwatryne wat hy skryf, sy hantering van die haikoe. Sy gedigte erken die belang van metriese patrone en ons vind dan die haikoes hier wat by Strijdom van der Merwe se uitstalling gebruik is en kwatryne by die wyn.

So klink ‘n lekker wyn-kwatryn:

Ars poetica

Trap die korrels in die vat
dat dop en sap baldadig spat:
Van liewerlee word vroeë pyn
verdig tot onbetrokke pyn.

In vele van die gedigte is daar dan ‘n besinning oor die verhouding tussen kuns en ek / persona. Moet die digter wegskryf van die self of kan die self-bemoeienis eweneens tot kuns lei? In hierdie opsig is die Rembrandt-gedigte openbarend juis omdat hierdie skilder hom besig gehou het met hierdie komplekse problematiek.

Die aangrypende “Rembrandt-selfportret, 1669” vra dan die belangrike vraag oor hoe die ek lyk wat deur ondervinding verslyt is?

In “Beurtrym”, ‘n distigon, kan ‘n mens ‘n antwoord lees op Eybers se “Wespark”. Hier lees ons:

‘n Man het aan sy hart beswyk
terwyl hy worstel met sy steak.

‘n Ander ou sterf op die troon:
Sy drukwerk is fataal beloon.

En nog ‘n man dood op die jop:
Sy kom en gaan was sonder stop.

(…)

Die gedigte het soms ‘n boodskap, ‘n moraal, soos “Die neefs” of in die genoemde “Beurtrym” waarin daar ‘n wysheid oor die mens se lot uitgewys word. Die digter dig met “stipte aandag”, vormvas en die leser is deeglik bewus van ‘n fyn woordkunstenaar.
Die gesprekke is daar, soos “Herfs” wat inspeel op Van Wyk Louw se “Vroegherfs”:

Dié dae is reeds heilig
en vra om geen gebed -

Aucamp se bekende ondersoek van die seksuele is hier te vind (ja, die lul en ballas) en sy aktivering van ou woorde soos “nurks”.”portiek”, o.a.

Die portretverse oor Marjorie Wallace, Battiss, Piet Mondrian, Rembrandt, Irma Stern, Picasso, Rodin, e.a. gee ‘n duidelike bemoeiens met die kuns weer.

Persoonlik is Aucamp vir my op sy beste wanneer hy ‘n puntdig, haikoe of kwatryn skryf. Hy het ‘n besondere gawe om met ‘n klein kwashaal ‘n besondere gedig te lewer.

In die langer vers, soos in “Prototipe”, vind ‘n mens ‘n amper-retoriese segging met ‘n uitroep en al. Dalk bedoelde parodie, maar dit oortuig nie heeltemal nie.

In “Porno lounge” wil die digter klaarblyklik soos in sy kabaret-tekste opstuur en sosiale kommentaar lewer:

O mens, ná sinsverrukking
wag altyd weer die niet:
Klank- en beeldorgieë
kan slegs verposing bied.

Dieselfde geld “Liefde in vier bedrywe” en “Drie verse oor die liefde” met sy moraliserende slot:

Naskrif

Wag tot jy jou jare kry
voor jy liefdesverse lees
en pleeg, want laggende ontdek jy
l’amour was net ‘n skim gewees.

Uit die gevormde kuns is daar beslis kuns te maak: dit bewys “Cyril redivivus”, “Ja, das Meer ist blau, so blau” bewys.

Ek is absoluut van mening dat die korter vers Aucamp se métier is en dat die langer vers soms oorwoeker word deur die moralistiese toon of deur metriese patroon wat dreunerig opslaan.

Daar is eweneens kabarettekste opgeneem soos “Die wederkoms: variasies op temas in Raka” wat met die vorige Prins Raka dans.

‘n Moet vir die Aucamp-liefhebber.

Aucamp het belangrike werk gelewer as beoefenaar van die kortkuns, dramaturg, dagboekskrywer, bloemleser en as skrywer van kabarettekste. As digter moet sy bydrae nie ontken word nie. Hierdie bundel, soos Dryfhout (Tafelberg, 2006), is vir die mentor van jong digterstudente van onskatbare waarde, omdat die digter Aucamp vorme verruklik beoefen.

Soos byvoorbeeld die Shakespeariaanse sonnet. Of die distigon.

Miskein het die Afrikaanse letterkunde nog nie genoegsaam aandag gegee aan sy digkuns nie, omdat ons dikwels genre-bevange is en skepties is oor ‘n skrywer wat van een genre na ‘n ander beweeg.

Die roemer, die wyn, die karaf
(by ‘n sewentiende eeuse stillewe)

Uit watter stofbedekte bottel
is dié karaf gevul?
Karaf staan buikig langs ‘n skottel:
sy oesjaar ewiglik verhul.

Dié gedig uit Dryfhout is ‘n klein juweel.

Uit die gevormde kuns is daar inderdaad kuns te maak!


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Tydskrif vir letterkunde geplaas.]