Tuesday, December 4, 2018

Resensie | P.R. Anderson – In A Free State (2018)

P.R. Anderson – In A Free State. uHlanga, 2018. ISBN 978-0-620-81224-5

Resensent: Joan Hambidge

I
Dit is die derde digbundel van hierdie digter wat in 2003 die Sanlam Literary Award ontvang het. Hy is die skrywer van Litany Bird (2000), Foundling’s Island (2007) en sopas verskyn die evokatiewe bundel In A Free State met die subtitel: A Music. 

Nou onlangs was ek ‘n beoordeaal vir ‘n Engelse digkuns-prys en al die inskrywings is anoniem beoordeel. P.R. Anderson se gedig was die beste.

Hoe benader ‘n mens hierdie lang teks wat uit 74 gedigte bestaan? Die gedigte is elusief en illusionêr. Dit handel oor die letterlike Vrystaat (hier te lande), maar sinkopeer ook met die betekenis van ‘n Vry-staat. 

Die teks dwing die leser om assosiatief te lees asof jy luister na ‘n komposisie. Opera aktiveer immers die luisteraar se vermoë om ánder betekenisse los te maak en om buite tyd en ruimte te beweeg.

In hierdie bundel is daar geen konvensionele vashouplekke nie. Die leser word letterlik van bakboord na stuurboord gestuur om telkens anders te kyk na die aard van die digkuns en na die geskiedenis van hierdie land.

Behalwe vir die bloedige geskiedenis van die land – met die Vrystaat as ‘n middelveld – aktiveer hierdie bundel ook die verskillende poëtikale tradisies wat bestaan. Anderson se bundel praat uiteraard met Gilbert Gibson se bundel Vry-wat in  2015 verskyn het (Woorde wat Weeg/ Gilbert Gibson - Vry- (2015)Besoek 29 November 2018).

En al is die opset “bedoel” of  nie, aktiveer dit hoe verskillende diskoerse tegelykertyd, dog apart bestaan in Suid-Afrika. 

Pogings om een bloemlesing of literatuurgeskiedenis saam te stel (soos Chapman al probeer het), wys ironies genoeg uit hoe die verskillende literature apart bestaan met verskillende lees- en skryfkonvensies.

En tog al weet digters nie van mekaar nie, is die gedigte daar vir die gesprek.

Net soos modernisme steeds saampraat met die postmodernisme. 

Is hierdie teks modernisties of  dalk eerder metamodernisties? ‘n Reaksie dus op die postmodernisme en selfs kritiek daarop?

Waaroor handel hierdie bundel? Die tema is oënskynlik een van ‘n jong meisie wat transformeer, vlug, sterf – daar is ‘n verwysing na uile (simbool van die dood). In Afrikaans het ons Jeanne Goosen se ‘n Uil vlieg weg wat in 1971 verskyn het. Goosen se Om ‘n mens na te boots (1975) laat die leser ook in die duister wanneer jy ‘n begin of middel of einde soek.

In die tyd van uile is Sarina Dönges se hoogs onderskatte bundel wat in 2004 verskyn het. Michèle Betty se Metaphysical balm (2017) gebruik ook die uil as ‘n simbool van transformasie en transfigurasie.

Gedig 53 van Anderson klink so:

1
What to do with the word
“concentration”?
Commissariat of spectacles, pencils.

Clerical war.
This is the estimate
of death. || of infants

3
Dysentried, whole tents
shitting their skirts, skin sunk.
Human clay.

‘n Ontstellende en skerp gedig oor die Anglo-Boereoorlog (ook genoem die Suid-Afrikaanse oorlog), wat in Afrikaans Marais, Totius, Leipoldt, e.a. aktiveer.

En omdat hierdie bundel ‘n mens soos wanneer jy na musiek luister, assosiatief laat reageer, aktiveer dit Patrick Cullinan se gedig “Love and war” uit die bundel Transformations (1999):

And to my friends I send
a blessing:
the shock of second sight.

But to enemies I reserve
truth absolute,
implacable light.

In love and war
you have to be fair:
serve both right.

Die gedigte neem mens op vele trekpaaie (72) en ‘n sentrale vers is 62 met Cronje en die verwysing na Burgerschap.

Die digter kan egter nie die vryheid raaksien nie …

Piet Cronje, 'n belangrike rolspeler, het in albei Vryheidsoorloë geveg en tydens die eerste oorlog het hy ‘n Britse leër by Potchefstroom oorrompel (Tweede Vryheidsoorlog - Wikipedia. Besoek 29 November 2018).

In gedig 72 word Steyn en Moshoeshoe vermeld. Die aanvalle op die legendariese koning word geaktiveer. Hy het gewoon op Thaba Bosiu (berg van die nag) en in volksgeloof (urban legend) groei die berg in die nag en krimp dit weer in die dag.

Dit was ook ‘n vesting teen sy vyande.

Grondbesit word aangespreek. Die gesprek van die dag. In hierdie bundel word die leser terug geneem na ons bloedige geskiedenis van die ABO tot nou.

“The saddest country” aldus die pynlike gedig 55:

Your unbeing being the saddest
part of me, the saddest country,
I stop for nothing.

(66)

II

Die drie vlakke van die gedigte aktiveer Jacques Lacan: die Verbeelde, die Simboliese en die Reële ordes van betekenis.

In Žiżek! (Astra Taylor se film oor die filosoof) analiseer Slavoj die televisie-dokumentêr met Lacan (Zizek! - Wikipedia. Besoek 30 November 2018).

Ek praat die waarheid, meen Lacan, maar terselfdertyd beklemtoon hy: waarheid is onmoontlik.

Hy hou nie van Lacan se styl nie; dis aansitterig en vals, meen onse Slavoj, maar wát hy skryf, is van belang.

Croire y: glo my simptoon en hierdie bundel word simptome van verliese, sowel op 'n politieke as 'n persoonlike vlak.

In Lacaniaanse terme aktiveer die gedigte objet petit a: die verlore objek.

En dit is presies wat hierdie bundel doen. Soos wat ons kyk na Slavoj Žiżek se dokkie wat Lacan analiseer op tv, kyk ons na P.R. Anderson wat in die openingsgedig kyk na T.S. Eliot en die lang modernistiese gesprek:

“Come April and the cosmos …"

Ek is gaande oor Anderson se styl. Ek vind sy gedigte opwindend en hoogs boeiend. 

‘n Sentrale vers is nommer 49:

“Suffer the Life, then, to kindle
your dust as tinder, to burn your book.” (60)

En hoe die plante ook ingewerk word, is belangrik. Soos nooienshaar (34):

Walking on verges, crossing the patchwater, cloud
underfoot, sidestepping the nooienshaar of cassettes tape's


“the Sputnik, the Concertina, the Sheep Knife, the 9-Volt Battery.”

Sommer al die temas in een versreël vasgevang.

“On this world, this dibbled lens, this disc,
etc.” (35)

Dit is 'n bundel wat elke herlees en herbesoek ander betekenisse losmaak. Dit is sedimentêr en vol lae (23).

Ons lees ook 'n verwysing na mille-feuille ...


Endnote:
Gilbert Gibson - Vry-.Human & Rousseau, 2015. ISBN 978-0-7981-7053-6 | ISBN 978-0-7981-7054-3 (epub) | ISBN 978-0-7981-7055-0 (mobi)