Wednesday, December 26, 2018

Filmrubriek | Talk to her (2002)

I

Almodóvariano.Dit is hoe die styl van die Spaanse filmmaker beskryf word. Pedro Almodóvar se films is uniek in hul aanslag. Komplekse temas word aangepak soos transseksualiteit, verkragting, ongeoorloofde verhoudings vermeng met kamp humor. Sy styl is parodies met duidelike toespelings op ander films en kunsvorme.

Die aanslag is hiperbolies vermeng met 'n trieste, melancholiese subteks.

Boonop gebruik hy sy familie as akteurs. Sy broer - ook die vervaardiger - kan 'n mens dikwels in sy films sien optree: in Julietta is hy 'n treinkondukteur; in All about my mother 'n taxi-bestuurder; hy kan vlugtig opgemerk word in Talk to her en in The skin I live in. (Agustín Almodóvar - Wikipedia. Besoek 26 Desember 2018).

II

By die filmmaker Pedro Almodóvar vind ons retour de personnages en verskillende wêrelde wat met mekaar in gesprek tree (of teen mekaar bots).

Vir die belangrikste vinjette van die film: Norman Holland on Pedro Almodovar's Talk to Her. Besoek 25 Desember 2018.

'n Klein stilfilm in Talk to her heet The Shrinking Lover (Homunculus - Wikipedia. Besoek 25 Desember 2018).

Dit is geskep  deur Almodóvar en die verhaal is eenvoudig: 'n wetenskaplike is op soek na die antidoot om haar geliefde wat skielik gekrimp het, weer na normaal terug te bring. Sy kan egter nie die antidoot vind nie.

Die man word al hoe kleiner. Uiteindelik is die vrou, 'n wetenskaplike, aan die slaap en hy klim uit haar handsak, stap oor haar lyf.  (Haar borste aktiveer die borste van die slapende danser waarop Benigno verlief is.)

Die kyker sien hoe hy haar vagina betree en binnegaan en volgens die verteller, die verpleër, Benigno Martín, bly hy binne-in haar.

Hierdie film binne-in die film is die kode om die optrede van Benigno te begryp. Hy is geobsedeer met die vrou in 'n koma wat hy vereer. Hy kan net met haar 'n verhouding hê wanneer sy nie normaal is nie, want hy is 'n niks, 'n klein mensie.

Benigno vertel die storie van die film vir Alicia, die dansstudent wat in 'n koma is. Sy was 'n danser en na 'n fratsongeluk word sy in die kliniek deur Benigno versorg.

Sy versorging is intiem. Hy was haar hare, hy bad haar, hy weet wanneer sy menstrueer ...

Hy is immers die een wat 'n handdoek onder haar lyf plaas.

Die kyker weet dat hy geobsedeer is met haar. Hy het haar agtervolg, selfs haar vader die psigiater besoek en 'n haarknip uit hul woonstel gesteel.

Alicia mis 'n periode. Die kyker weet hy het haar verkrag en sy gee geboorte aan 'n stilgebore babaseun. Op 'n ironiese manier word sy deur hierdie transgressiewe daad tot lewe gewek.

En Benigno neem 'n oordosis pille, want hy weet nie dat sy wakker geword het nie.

Sy verhaal word in jukstaposie geplaas met die reisbeskrywer, Marco wat verlief raak op die vroulike matador wat beseer word na 'n bul haar bestorm.

Ten slotte ontmoet Marco vir Alicia by 'n dansuitvoering. Die film begin en sluit met 'n danstoneel (Talk to Her - Wikipedia. Besoek 25 Desember 2018).

Brian McHale, in Postmodernist Fiction (Methuen, 1987), verklaar hoe die fiksionele wêrelde wat hierdie regisseur skep 'n ontologiese problematiek aanspreek. Die sogenaamde world next door.

Die film se lokprent lyk so: Talk To Her (Hable con ella) - Trailer - (2002). Besoek 26 Desember 2018).

Fantasie teenoor werklikheid, obsessie teenoor normaliteit.

Die film maak 'n verwysing na koprofagie: Coprophagia - Wikipedia. Besoek 26 Desember 2018.

Dit betrek Lacan se "eat your Dasein", oftewel: die oomblik van waarheid en die jong man se selfkonfrontasie is waaroor die film handel. Sy ellende teenoor die reisjoernalis en in die tronk is dit 'n afdruk van Kuba wat hom verlos uit sy ellende.

Die briljante Almodóvar aktiveer Jung (homunculus), Lacan ("eat your Daisein") en dit wat McHale tipeer as die heterokosmos of ontiese sfere van tekste wat sowel fantasie as werklikheid aktiveer (1987: 31).

Die postmodernistiese kondisie is vir Brian McHale 'n anargistiese landskap van "worlds in the plural" (1987: 37).

By 'n filmmaker soos Almodóvar is dit presies wat gebeur. Stilte teenoor praat; dans (beweging) teenoor in 'n koma wees.

En om 'n karakter /akteur te laat beweeg van een film na 'n ander is eweneens sy métier, die sogenaamde transmigrasie van akteurs of karakters. Iets wat hy uitsonderlik goed doen in All about my mother.

In die volgende weke gaan ons belangrike films van hierdie filmmaker bekyk.

Bronne:

Vir insigryke verdere leeswerk.
Almodóvar, Pedro. Almodóvar on Almodóvar. Ed. Frederic Strauss. Trans. Yves Baignères and Sam Richard. London: Faber and Faber, 2006 

Kakoudaki, Despina. “World Without Strangers: The Poetics of Coincidence in Pedro Almodóvar’s Talk to HerCamera Obscura23. 2 (2008): 1-39. 

Novoa, Adriana. “Whose Talk is It? Almodóvar and the Fairy Tale in Talk to Her.” Marvels and Tales19.2 (2005): 224-48.