Thursday, December 27, 2018

Filmrubriek | All About My Mother (1999)

“I’ve always depended on the kindness of strangers.”
Tennessee Williams

I

Almodóvar se erkenning aan die einde van hierdie film lui as volg: “To all actresses who have played actresses. To all women who act. To men who act and become women. To all the people who want to be mothers. To my mother”.

Dan lees ons die name: Bette Davis, Gena Rowlands, and Romy Schneider. Die regisseur se moeder is kort na die film se vervaardiging oorlede.

In hierdie film is daar belangrike intertekste wat die film vir die kyker verruim en verryk: Tennessee Williams se A Streetcar Named Desire (1951, Elia Kazan regisseur), Truman Capote, en Lorca se Blood Wedding vorm die literêre intertekste, ook die film All About Eve met Bette Davis, vervaardig in 1950. Die Spaanse titel heet Eve Desnuda.

Die briljante Almodóvar vertel die verhaal van Manuela (Cecilia Roth), ‘n Argentynse verpleegster wat toesig hou oor orgaanoorplantings (en seminare hou vir die familie) in die  Ramón y Cajal Hospitaal in Madrid. Sy is die enkelouer van Esteban, wat graag ‘n skrywer wil word.

Truman Capote se opmerking oor skryf word so aangehaal deur die moeder: “When God hands you gift, he also hands you a whip, and the whip is intended solely for self-flagellation.” [1]. Die moeder en kind kyk saam films – o.a. na All About Eve, ‘n film deur Joseph L. Mankiewicz, oor ‘n aktrise se soeke na erkenning en liefde.

Hierdie film handel oor hoe ‘n instaanspeler haarself in ‘n beroemde aktrise se lewe inwurm – ‘n belangrike aspek wat Almodóvar telkens aanspreek: dat identiteit vloeibaar en ‘n konstruksie is (All About Eve – Wikipedia. Besoek 27 Desember 2018).

Met hierdie troop van orgaanoorplanting, funksioneer die film op ‘n intertekstuele vlak. Tekste word as’t ware oorgeplant om in die filmteks ‘n nuwe lewe te kry (All About My Mother (1999)/ Almodovar’s Oscar Winner and Second Masterpiece | Emanuel Levy. Besoek 27 Desember 2018).

Manuela is soos ‘n tipiese Tennessee Williams-karakter: iemand wat nie die waarheid van haar lewe kan aanvaar nie. Sy vertel eweneens vir haar seun leuens oor wié sy vader was. Ons sien ook dat sy Stella gespeel het in amateur-produksie van A Streetcar Named Desire en later vertolk sy weer die rol.

Na haar seun se dood konfronteer sy haar eie verlede en soek na die vader: Esteban-Lola, ‘n transseksueel, wat werk as ‘n prostituut in Barcelona. (Haar kind se hart is in ‘n ouer man oorgeplant wat sy lewe red.)

In Barcelona maak sy weer kontak met La Agrado, ‘n wonderlike figurant wat blaf soos ‘n hond en wanneer die show met Huma en Nina gekanselleer word, vertel sy haar gekke lewensverhaal. Hier tree die regisseur in gesprek met sy alter ego, Patty Diphusa (The Patty Diphusa Stories and Other Writings. Besoek 27 Desember 2018).

Huma is die ouer aktrise wat verlief is op Nina, die druggie en hul liefdesverhouding is vurig. En die jonge Esteban, vertolk deur Eloy Azorín, sterf in ‘n fratsongeluk wanneer hy ‘n handtekening van Huma wil besit. [2]

In ‘n tipies onverwagse dénouement – so bekend aan Aldomodóvar – blyk dit dat Rosa (Penélope Cruz) swanger is met Esteban-Lola (Toni Cantó) se kind. Sy het ook Vigs.

Haar kind word deur Manuela aangeneem en sy wys die kind vir Lola. So word die nuwe Esteban vir sowel Lola as Manuela die kind wat hul tog uiteindelik saamsnoer.


II

Hierdie film het tereg ongelooflike erkenning gekry: by Cannes het Almodóvar die prys vir beste regisseur ontvang, ‘n Oscar vir Best Foreign Language Film, ‘n Golden Globe,  ‘n BAFTA en 6 Goyas in Spanje. Dit het ongeveer al $67 miljoen gemaak.


III

Nie alleen is hierdie film ‘n elegante intertekstuele spel met ‘n wye verskeidenheid van tekste nie, maar dit bewys opnuut hierdie filmmaker se enorme bydrae tot die filmkuns. 

Hoe hy satiriese media-kommentaar lewer, sal vervolgens ondersoek word.

Endnote:

Pedro Almodovar, London, 1999 @ Steve Pyke

[1]. “Most of life is so dull it is not worth discussing, and it is dull at all ages. When we change our brand of cigarette, move to a new neighborhood, subscribe to a different newspaper, fall in and out of love, we are protesting in ways both frivolous and deep against the not to be diluted dullness of day-to-day living.” (The 25 Best Truman Capote Quotes).
[2]. Op ‘n dag in Kaapstad, 2014, stap ‘n ouer Spaanse egpaar ‘n restaurant binne. Ons raai hulle af om die vis van die dag te eet. Agterna blyk dit dat dit die broer van onse Pedro is, die vervaardiger Agustín Almodóvar Caballero, bekend vir sy kameerolle in sy broer se films. Ek het sy handtekening as bewys.

Truth is indeed stranger than fiction ...

 © Joan Hambidge