Tuesday, November 27, 2018

Resensie | Kobus Lombard – Tussen toeval en willekeur (2018)

Kobus Lombard - Tussen toeval en willekeurNaledi, 2018. ISBN: 978 1 928 426 34 9

Resensent: Joan Hambidge

Delikate digkuns. Dis die beste manier waarop ʼn mens die digkuns van Kobus Lombard kan tipeer en sy vyfde digbundel heet Tussen toeval en willekeur en hierdie titel resoneer met ʼn vorige bundel Tussen wysvinger en duim (2005). Hierdie jongste bundel is besonder mooi uitgegee deur Naledi.

Die digkuns hou sig immer besig met ʼn tussentoestand wat ervarings betref. Gedigte registreer ʼn indruk of inspirasie en word dan in woorde vertolk. Dikwels op ʼn ander manier as wat die digter dit dalk bedoel het.

Op die agterplat word daar tereg verwys na die binnewaartse reis van die digterlike proses en die soeke na grense wat die werklikheid omlyn. Lombard se werklikheid is Namibië. Die outeur van die shout beweer ook tereg dat die onsegbare dikwels tussen die woorde en die leë spasies skuil. Daar word verder ook gepraat van grense wat vervaag ... En die ritme word bepaal deur toeval en willekeur.

Nou wanneer ʼn mens hierdie bundel benader is dit eenvoudig so dat daar in ʼn klein gedig baie subteks of implikasie skuil. ʼn Gedig begin met stilte en word later in ʼn ander gedig “voltooi”. 

Duine

duine het nie agendas nie
dit kan nie laat kom
of vroeg vertrek
verkeerde besluite neem
en bekommerd wees nie
duine hoef nie voluit te leef
bang te wees vir die dood
of ʼn vers te skryf
voor dit sy gedagtes ontglip nie
duine is tot die laaste sandkorel
uitgesorteer

(50)

Uiteraard spreek hierdie gedigte tot my weens my besonderse ervaring van die Namibiese landskap én die woestyn. Lesers wat dit nie beleef het nie sal eweneens aanklank vind by hierdie bundel met sy gestroopte, pretensielose verse. 

Gobabeb sal altyd daar wees en die digter sal na hierdie ruimte terugkeer met ʼn jakkalsdraf of in die droë rivierloop te sit en tjank (51). In hierdie landskapsgedig word die menslike bestaan as onbenullig en efemeer gesien teenoor die natuur wat sal voortbestaan.  In die gedig “Skaduwee” (61) word die woordspel tussen aanval en invul goed ontgin:

bedags volg jy my getrou
teen hoogmiddag staan jy
wydsbeen bo-oor my
soos die skemer nader
loop jy verder voor my uit
en in die nag as die aarde
sy gesig wegdraai van die son
val jy my
onsigbaar in

En ʼn skaduwee is immers ʼn tussentoestand.

Die bundel verloop siklies. Dit karteer die lewensloop van ʼn mens wat leer praat en skryf en leer om die “swye te verbreek” - uiteindelik keer ons terug, volgens die slotvers na ʼn primordiale wêreld sonder taal.

Die ars poetica op bladsy vier ontgin die toeval en willekeur van die digproses wat met woorde en woordeboeke werk, maar uiteindelik gerig word deur “waarskynlikheid”. ʼn Mens sou ook kon beweer: blote geluk. Beide “Vrug” (8) en “Woordkapper” (9) bemoei sig met die digproses. In eersgenoemde gedig word die geleende suurstof van intertekstualiteit gekritiseer? In laasgenoemde vers is dit duidelik dat die digter soeke na sy eie “rooibruin pit”. Terwyl die eerste afdeling hoofsaaklik werk met die temas van die digkuns en inspirasie word daar in die tweede afdeling gekyk na geloof. Hier vind ons ʼn lieflike gesprek met Psalm 23 (“Goeie herder”, 15) en in “Oorplasingsnavraag” (21) wonder die digter oor hoe die hemel daar sal uitsien. Sy hemelse bestaan sal waarskynlik een wees met kameelbome en droë rivierlope met ʼn vraag of ons daar bedreig sal voel?

In die derde afdeling vind ons liefdesverse en reise na vreemde bestemmings. In “Lied sonder woorde” (27) word ons gemaan om te waak teen die lied (dus gedig) wat die liefde bloot wil lê. In die vierde afdeling is daar besinnings oor die ouderdom, die naderende dood – o.a. geskryf in die Okavango. Daar is ʼn siniese vers oor toeriste wat Afrika-objekte terugneem sonder om die historiese of kulturele konteks te begryp soos in die aangrypende “Gekerf” (33) waar die beeld terugverlang na sy plek van herkoms.

Die stilte van hierdie bestaan word binnegedring deur raserige toeriste, Facebook, ʼn GPS, TV kanale, selfone, en virtuele reise.

In die vyfde afdeling word daar teruggekeer na die wêreld van die Waarheid (45):

die waarheid flits
soos gemsbokhorings
teen ʼn duin

Hierom dan ook die ervaring van grensverskuiwings. In die slot en sesde afdeling vind ons lykdigte (o.a. een oor die digter se moeder, ʼn figuur na wie hy by herhaling terugkeer en ʼn gedig vir ʼn vriend, “Begrafnislys”, 59) en ʼn afskeid aan die aardse bestaan.

Dis ʼn bundel wat met elke herlees klein skuiwe maak. Soos ʼn duin wat stadig maar seker iets toewaai. Dit is ʼn bundel wat vra vir ʼn saamlees met Dolf van Niekerk se gedigte oor die Karoo: Karoosange (1975).