Joy Watson & Amanda Gouws (Redakteurs) - Nasty Women Talk Back. Imbali Academic Publications, 2018. ISBN 978-0-639-96360-0
Resensent: Joan Hambidge
I
Joy Watson en Amanda Gouws is die redakteurs van hierdie boek wat gelanseer word onder die sub-titel: Feminist Essays On the Global Women’s Marches.
Die boek bevat 28 essays van verskeie feministe. Daar is nie iets soos Die Feminisme nie; alleen feminismes, met ander woorde, verskillende diskoerse binne die feminisme.
Radikale feminisme verskil byvoorbeeld van akademiese feminisme, usw. Camille Paglia is byvoorbeeld nie ‘n feminis nie; eerder ‘n gender-teoretikus en -aktivis.
Maar die afgelope tyd het vroue globaal begin stem dik maar oor die patriargie. Dis fassinerend hierdie ongelukkigheid wat onder meer in die #metoo-beweging sterk na vore gekom het. Soms met funeste gevolge waar iemand vals aangekla word soos die beroemde mezzo-sopraan Anne Sofie von Otter wie se man, die Direkteur van die Operahuis in Stockholm, onlangs selfmoord gepleeg het. Agterna is die aantygings verkeerd bewys (soos dat hy ‘n operasangeres wat agt maande swanger was, versoek het om ‘n aborsie te onderneem ten einde ‘n rol te kry). Ander kere is die mat onder ‘n man se gat uitgeruk – soos met die geval Harvey Weinstein.
Daar word druk gedebatteer hieroor. Gaan vroue ooit weer die objek van flirtasie kan wees? Ja of nee? Sal ‘n man ooit weer met ‘n vrou kan dans op die maat van Perfidia soos Humbrey Bogart en Ingrid Bergman in Casablanca?
Voel alle vroue oor mans dieselfde? Kan ‘n man ‘n feminis wees?
Die feministiese beweging het in die sestigerjare in die VSA ook stem gegee aan gay-mans. Van hierdie kwessies word aangespreek in Vamps & Tramps van Camille Paglia wat in 1994 verskyn het.
II
II
Een van die redakteurs is die politiek wetenskaplike professor Amanda Gouws, wat geweldig baie gedoen het om lesers van Die Burger aktief bewus te maak van ongelykhede. Gender aktiveer altyd ras en klas en hierdie triade is aanwesig in die ryke verskeidenheid van die bydraes. Joy Watson is bekend vir haar politieke analises en sienings oor wetgewing.
Jy word nie ‘n vrou gebore nie; jy word een gemáák, is die bekende mantra van Simone de Beauvoir in haar belangwekkende studie: Le Deuxième Sexe (Die Tweede seks) wat in 1949 verskyn het. (‘n Skoonheidsalon in Stellenbosch gebruik dit in hul skoonheidstaktieke vir vroue: missing the point, nogal.)
Agentskap. Gender as ‘n konstruksie. Vroueregte. Aborsie. Reg op gelyke posisies in die werkplek. Seksuele teistering. “Baas over eigen buik”, soos dit in Nederland lui. Womxn. Vrees vir verkragting.
Gouws skroom ook nie om polemici aan te vat en te wys op verkeerde aannames o.a. oor “objektiewe regspleging”. Dikwels tot die chagrin van briefskrywers wat haar (en ook vir Christie van der Westhuizen) loop in vuige en persoonlike aanvalle onderaan hulle skrywes op Media24.
Van Germaine Greer tot Hélène Cixous staan op my rakke. Hoe vrouens uitgerangeer is deur die heteronormatiewe en patriargale orde is bekend. Kyk na bloemlesings hoe lank dit geneem het alvorens vroue byvoorbeeld ‘n regmatige plek in die kanon gegun word. Nes gay-skrywers. Om nie eens te praat van swart skrywers nie. In die Afrikaanse letterkunde het die onsigbares sigbaar geword; die stemloses luid en stemhebbend. Vroueskrywers is nie meer die “mad woman in the attic” nie en die kritiek en teorie word deur intellektuele vroue be-mán.
III
Imbali moet geluk gewens word met hierdie belangrike tydsdokument wat geïnspireer is deur onse Trump se misogonistiese, anti-Islamitiese en dom uitsprake. Ek onthou hoe geskok ek was toe ek verneem het dat hy Hillary Rodham Clinton uitgestof het in die presidentsverkiesing. Raenette Gottardo se analise van die skok tref.
Inderdaad in Trump Tweetland is enigiets moontlik.
Skokkend dat juis daardie land se enorme bydrae tot feminismes so van die tafel gevee is.
“Built Bridges Not Walls” van Daiva Stasiulis wys waarmee die man besig is en Amanda Gouws wys hoe die stryd nooit ophou nie (“My Arms Are Tired of Holding This Sign”).
Helen Moffett se siening oor aborsie en liggaamlikheid tref ‘n mens tussen die oë (“Womb with a (Very Strong) View”).
In plaas van dankie, skryf sy: fuck you very much. Julle, die ou patriarge, wat nie weet wat aborsie of ‘n ginekologiese prosedure behels nie, gaan weg. En sy verwys spottend na haarself as “A Nasty Woman”.
IV
Verkragting kom om ook telkens aan bod.
Hieroor skryf Rebecca Helman uiters insigryk – die inskripsie op sowel die liggaam as psige word ondersoek.
Germaine Greer voel weer vroue gee te veel mag aan die manlike geslagsorgaan; kontroversieel, maar ‘n ander kant van die munt (Feminist author Germaine Greer says most rape is 'just bad sex', calls for reduced sentences - Bing. Besoek 14 Desember 2018).
Rebecca Davis tree manlike middelmatigheid aan. Tereg. Hieroor kan elke vrou in die werkplek getuig: hoe slim, sterk vroue tweekeer meer moet doen as die middelmatige manne wat weet die werk gaan in elk geval namens hulle gedoen word. Hierom is dit vroue se plig (nie reg nie) om op ‘n ondubbelsinnige wyse te sê: ek is nie jou mamma/bediende/minnares of watookal nie.
Juliana Claassens neem ook ‘n plek in en Aarti Narsee praat vanuit ‘n Indiese perspektief en hoe sy die sirkel van verdrukking en gereëlde troues gebreek het. Die meeste vroue wat nie mag (of geld het nie) kan helaas nie hieruit ontsnap nie. En vrouens wat uit hierdie verdrukkings ontsnap, weet ook lewenslank hoe hul moeders onderdruk is in ‘n huwelik met min regte of vryheid nie.
Zama Khanyile analiseer die bekende Zoeloe idioom: “Ek is, omdat jy is.”
So die ondersteuning van vroue is tersaaklik. En feminisme is nie feminisme as dit die status quo handhaaf nie, waarsku Stella Viljoen tereg. Melanie Judge analiseer eweneens die implikasies van vroueverbranding: letterlik en figuurlik.
Christi van der Westhuizen wys op die impak van ‘n andersoortige gender-identiteit en die impak hiervan op ‘n jong gemoed en hoe mense steeds bly Other.
V
Hier is verskillende diskoerse aanwesig. Die toonaard wissel van woedend tot neutraal. Van intellektueel tot gewoon emotief.
Van vroue in letterlike en psigiese tronke.
Van bydraes wat Judith Butler ("performing gender") vermeld tot die impak van slow violence (Judith Butler/ Your Behavior Creates Your Gender - YouTube. Besoek 15 Desember 2018).
Van dekonstruksie tot emosionele karterings.
'n Vrou kan met haar stiletto's misogonisme plattrap.
Dis 'n studie wat wys op die mure van vooroordeel wat steeds in die gemoed voortbestaan.