Monday, July 30, 2018

Gedig | Wanneer ‘n digter sterf (2012)

Wanneer ‘n digter sterf

stroom huldeblyke in
oor die enorme verlies en bydrae
van óns stilgemaakte digterlike stem

Wanneer ‘n digter sterf
staan die literêre lykbesorgers gereed
met oordrewe takserings
oor die kwadratuur van sy sirkel

Wanneer ‘n digter sterf
is daar onbetaamlike vrae
oor die lewenstyl en selde
of hy ‘n rondeel of distigon kon skryf

Wanneer ‘n digter sterf
word hy stellig, indien onderteken
aangekoop en gou vergeet
tot ‘n ander digter kort hierna vertrek

Wanneer ‘n digter sterf
mag sy gedigte tog ‘n ewige leser beërf

(Uit: Lot se vrou, Human en Rousseau: 2012)

© Joan Hambidge