Tuesday, July 10, 2018

Resensie | Annette Snyckers – Remnants Restante Reste (2018)

Annette Snyckers – Remnants Restante Reste. Modjaji Books, 2018. ISBN: 78-1-928215-59-2
Resensent: Joan Hambidge

In Remnants Restante Reste word daar in drie tale gekyk na die lewe van 'n vrou wat haar waarnemings en emosies weergee. Soms selfs sinesteties.

In Suid-Afrika het Wopko Jensma in twee tale gelyk gedig en vele Afrikaanse digters is al vertaal.

Die bundel handel oor verwantskappe met mense, tale en landskappe. Soos Danie Marais dit stel op die agterblad: “...her place in the family of things and all the conflicting things of family”.

In hierdie bundel beweeg die leser dikwels tussen vertalings van dieselfde gedig en jy moet besluit watter een die meeste met jou praat. Op dieselfde vlak beklemtoon dit ook hoé tale verskil en hoe moeilik dit is om in verskillende tale dieselfde emosie oor te dra.

‘n Sentrale vers binne die bundelopset is “Language lesson” (20) waar die spreker die skoonmoeder se taal moet aanleer sodat sy nader aan haar kan beweeg – sy het immers haar seun lief. Die Duitse weergawe heet “Sprachstunde” (21) (“Meine sprache war nicht die Ihre”) en die twee verse resoneer met Eybers se “Taalles”, ‘n gedig wat ook in drie strofes uitval.

‘n Behendige vers is die pantoem “Writing in the Afternoon (A Pantoum)” op bladsy 64 waarin die digkuns gesien word as ’n paradoks van onthou en vergeet.

Agter hierdie ingehoue verse, skuil daar tog iets. In die Maleisiese versvorm word kwatryne herhaal. Dit beslaan gewoonlik vier stanzas. In die finale stanza word reëls een en drie teruggebring, ofskoon daar afwykings op hierdie reël bestaan.

Waarna sy terugkom, is onthou (remember wat indirek die titel aktiveer).

In ‘n gedig word daar verwys na “oggendstap”, terwyl die Afrikaanse leser eerder oggendwandeling sou verkies (57), ‘n gedig wat eweneens iets van Kirsch aktiveer – “dit ruik na molm en aarde”.

Die mees opvallende aspek van hierdie bundel, naamlik dat die leser bekend gestel word aan die reis tussen tale, is uiteindelik dít waarby ’n mens stilstaan. Olga Kirsch het van haar beste werk in Afrikaans, nie in Engels of Hebreeus nie, gelewer.

’n Herwaardering van Olga Kirsch se oeuvre: Identiteit, moederskap en ballingskap aan die hand van die psigoanalitiese teorieë van onder andere Sigmund Freud, Jacques Lacan en Julia Kristeva deur WFT Minnaar (PhD, UK, 2012) ondersoek al hierdie kwessies sinvol.

Die eerste gedig deur Snyckers (“Tong”, “Tongue”, “Zunge”) aktiveer hierdie probleem van 'n ander tongval. Vir my is die mooistes in Afrikaans, soos “Die blik vol knope” (61), maar 'n Engelse leser verskil van my en beklemtoon hoe belangrik “The Final No” (19) resoneer met die tematiek van die wet-van-die-vader; van vaders wat dogters se tonge simbolies uitsny.

Vir my gevoel is die aanrypendste verse in hierdie bundel in Afrikaans geskryf soos “Klein-Karoo” (52) met die soeke na elders/iewers wat so eindig:

Koel Karookamer
onder riet en balke,
buite die besies,
die bossies, die son –
hierbinne half-lig agter luike,
sing stilte en somer –
die blom van ledemate
ontvou in die soelte.

Die verhouding met die vaderfiguur is ‘n sleutel tot die begryp van die verse. Die vers “Geknip” (14) word ‘n manifestasie van hierdie proses. Die vader, deur die sny van die dogtertjie se hare, tem haar. Sy is die wilde vul en omdat die vader dink dat “klein duiwels” hul tuismaak in die maanhare, snipper hy haar hare. 

Die vertroebelde verhouding tussen digter-dogters en -vaders (’n mens dink hier aan Ingrid Jonker, Sylvia Plath en Anne Sexton), skend die dogter vir ewig. Hierteenoor kan die vader wat meer begrypend en liefdevol is, ook die dogter red van ondergang, soos by Olga Kirsch.

Dit is getemperde verse, sjarmant in hul eenvoud. Met elke herlees, word jy as leser bewus van diep emosies wat onder die verse skuil.

Van sibilante wat sis en spat. Van doodloopgesprekke op ’n doodlooppad ...

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)