Friday, July 6, 2018

Rubriek | Wit en swart? (2018)

Nick Mallett en Ashwin Willemse, Supersport

Ons het 'n gemeenskap geword van wit en swart. Alles is verander in 'n rasreaksie. 'n Aanbieder stap uit 'n Supersport-ateljee. Aan die UK is net mense van kleur welkom by 'n ete na 'n seminaar. 'n Senior kollega aan die UK word verdoem weens 'n Moeslim-grap.

Hoe moet 'n mens dit lees? Lonte wat te kort geword het? Geen humor meer nie?

Sal 'n mens nog die grap kan vertel: wat noem jy die verlies aan Steinhoff-aandele?

'n Tekkie-parade.

En wat se skoene dra 'n Steinhoff-vrou?

Steunhoof-polvye.

Die saak is egter komplekser as wat ons dink.

Natuurlik is daar geen rassisme te bespeur in die video-opname wanneer Ashwin Willemse uit die ateljee storm nie. Dit is egter wat agter hierdie optrede lê, wat ondersoek moet word.

Nick Mallett het glo 'n tjipspakkie agter hom laat bars agter die skerms. As 'n grap.

'n Verhouding of vriendskap kom dikwels tot 'n einde weens 'n onbenullige opmerking wanneer 'n mens dit van buite beskou. Maar dit was egter daardie laaste spreekwoordelike strooi wat die kameel se rug gebreek het.

Wat so 'n reaksie dus impliseer, is die persepsie van vermindering en kritiek. Die mikro-aggressie waarvan swart mense praat. Die vermindering van wit mans teenoor die ander (wat ook vroue, gays en minderheidsgroepe insluit).

Die grap - rassisties soos waar djik djy?- vertel voor 'n gemengde gehoor van vroue en bruin mense is ontoepaslik. Natuurlik lag almal. Want dis immers 'n hetero-kollega wat net 'n ou grappie maak ...

Ag-dis-net-'n-ou-grappie dra in sigself 'n klomp aggressie oor. Freud in sy grap-boek (Jokes and their Relation to the Unconscious) verduidelik dat jy jou teiken met 'n grap verminder en stereotipeer sodat jy hom kan beheer. En grappe is altyd gerig teen Jokaste of die bloedskendige, aldus Jerry Aline Flieger, die Amerikaanse teoretikus.

"Generally speaking, a tendentious joke calls for three people: in addition to the one who makes the joke, there must be a second who is taken as the object of the hostile or sexual aggressiveness, and a third in whom the joke's aim of producing pleasure is fulfilled", skryf sy in "The Purloined Punchline: Joke as textual paradigm" in Robert Con Davis se Contemporary Literary Criticism. New York: New York. 1986.

Ook die toehoorder word deur die grap geraak - jy word 'n medepligtige wanneer iemand 'n grap vertel wat "af" is.

'n Grap is net 'n grap indien beide partye dit as sodanig sien.

"Are you vegetarian?", vra 'n lugwaardin my op AirFrance.

"No, I am lesbitarian." 

Dit het lag ontlok, want dit was ten koste van my, die verteller van die grap.

Sou sy egter steeds gelag het as ek opgemerk het?: "No, I am Presbyterian..." Dan het sy waarskynlik gedink dis 'n seksuele innuendo.

Gerhard van Huyssteen vang hierdie tydsgees op in sy rubriek "As hutsmerk magtiger as swaard is" in Beeld, 6 Julie.

Wat kan iemand vir jou sê wat so erg is dat jy daardie persoon iewers wil gaan aangee? vra hy.

Dan skeer hy die gek met al die moontlikhede van misverstand - selfs #ItalicsMustFall. Isabel Yap wat meen sy is besig met "othering" wanneer sy in kursief skryf.

Hy wys ook op begrippe soos "denialism" en "allyship" en hoe 'n nuwe sensuur ingesluip het.

Daar is ook, kan 'n mens byvoeg, iets soos "liquid racialism".

Skielik wonder die uwe of 'n mens die woord dekonstruksie nog mag gebruik in 'n klas? Sal iemand nie iets in die woord verkeerd hoor nie? Wat herinner aan die ou grappie.

Juffrou vra vir Jannie om 'n sin te maak met konsistorie.

Jannie reageer soos volg: "Gisteraand ry 'n vrou in my pa vas en hy klim uit sy kar en vra: 'Wat is die kont se storie?'"

Daar is iets in die lug in hierdie tydvak. Die #metoo-beweging, die opstand van studente, die uitwys van vooroordeel, maak ons almal bewus van ons verhulde boodskappe, en dít is waarop ons behoort te let.

Waar dit gaan eindig, weet ons nie. Ontoepaslike opmerkings, in-grappies, verhulde blikke, ironiese wenkbroue, gaan nie meer geduld word nie.

Stand-up-komediante gaan ook waarskynlik gesensor word. 'n Boek op my rak Truly Tasteless Jokes sal waarskynlik vandag nie meer gepubliseer word nie.

Ek praat dit nie goed nie; wil dit net gewoon verstaan: hierdie Zeitgeist.

Of is ons deur die jare so beledig dat ons dit maar net aanvaar het? Ek meen ons almal wat 'n stereotiep is?

Ag man, dis net 'n joke! Ek sal beslis weer daardie kursus aanbied oor Gender & humor.

© Joan Hambidge