Wednesday, August 1, 2018

Resensie | Gabeba Baderoon - The History of Intimacy (2018)

Gabeba Baderoon - The History of Intimacy.Kwela Uitgewers, 2018. ISBN 9780795708886

Resensent: Joan Hambidge

I
Gabeba Baderoon se gedigte ontleed die verskillende posisies van liminaliteite: kindwees; man teenoor vrou; geboorteland teenoor nuwe rusplek; Distrik Ses versus Apartheid; Moeslem en Christen.

In 2004 behaal sy dan ‘n doktorsgraad oor die representasie van Islam in Suid-Afrika. Sy het wyd klasgegee in sowel Europa as in die VSA en tans is sy mede-professor in Women’s, Gender and Sexuality Studies and African Studies aan die Universiteit van Pennsylvania.

Baderoon se gedigte het my nog altyd bekoor. In 2005 was ek op ‘n paneel vir die DaimlerChrysler-prys toe sy die eerste plek behaal het teen ‘n handvol ander digters wat tans hul regmatige plek ingeneem het as digters.

A hundred Silences het in 2006 eweneens by Kwela verskyn. Ander titels is The Dream in the Next Body en The Museum of Ordinary Life.

Hierdie jongste bundel word opgedra aan haar moeder: Groundbreaker, Healer, Muse.

Oor die moeder en digterlike taal, dink ‘n mens onmiddellik aan Julia Kristeva se Desire in Language (1980) en die semiotiek: die moederfiguur is ‘n ambivalente figuur in die vroulike onbewuste. Een wat die digter wil uitwis én behou. Trouens, ‘n mens sou hierdie hele komplekse bundel kon lees met Kristeva ter hand: Kristeva oor melancholie; Kristeva oor eensaamheid; Kristeva oor die baarmoeder; Kristeva oor bannelingskap; Kristeva oor vrouwees.

By Baderoon is daar ‘n voortdurende beweging tussen die wet van die vader en die wet van die moeder, oftewel tussen die simboliese orde en die semiotiese orde. Die eie identiteit, soos afgelees in hierdie bundel, is ‘n pynlike een: ‘n wegbeweeg van die “law of the mother” en die vader se ontdekking van seksuele betreding (70) saam met die pynlike raspolitiek wat die jong kind ervaar het. Dit word pakkend weergegee in “The History of Intimacy” (66). Deur oor die moeder se ervaring van die ongelykhede te skryf (sy word hier ‘n buikspreker vir die moeder), word ‘n hele gemeenskap se ervaring weergegee.

Sy bely:

Since the beginning, you have been breath,
and poetry. (67)

“The Law of the Mother” (70) handel oor verlies aan maagdelikheid (op ‘n wrede manier) met die sosiale en psigologiese implikasies wat dit inhou vir vroue. Hierdie sterk gedig analiseer die volledige implikasies van die betreding (met ‘n slim toespeling op Thelma and Louise).

Die terapie-sessie maak haar bewus van die gebrokenheid van die liggaam:

that ‘broken’ is a boundary
and the body is time
as well as place.

II
In “Answering” (69) word raspolitiek en genderpolitiek saamgesnoer. Identiteit, is immers altyd ‘n samesnoering van ras, klas en gender. Hier in ‘n werksonderhoud word sy deur twee manne ondervra met een wat meen hy haat dit wanneer swart vroue oor die voetoorgang stap asof “hulle” al die tyd in die wêreld het; die ander een vra vir ‘n antwoord wat sy nie geleer het by die pinko-liberale plek nie, dus UCT – iets wat hom sal verras.

Die gedig eindig:

I don’t get the job and sometimes
think of what he sees, stalled
at the light, metal drumming
beneath his feet, as a woman cuts
across the world, answering
only to herself (69).

Húlle, die twee regsgeleerdes, waar die digter aansoek doen vir ‘n werk as sekretaresse (met twee grade) word ‘n gedig wat al die gendersake aanspreek via Hélène Cixous (The Laugh of The Medusa, 1975) en June Singer (Androgyny – Toward a New Theory of Sexuality, 1976).

III
Baderoon se gedigte is eweneens fassinerend in die “cross over” tussen Engels en Afrikaans. Onder haar verse roer daar dikwels verwysings na die Suid-Afrikaanse kultuur.

Sy voorsien die leser van ‘n nuttige glossarium soos nuh (nè), doenya se goete (aardse dinge), ja (yes), sloot en tjorrie (o.a.)

Die taalaspek van haar bundel is dus iets wat ondersoek moet word: die gebruik van spreektaal uit ‘n Afrikaanse en Moeslemkultuur wat ons vind in ‘n gedig wat in Engels geskryf is.

“Everything We’ve Said” (30) bly egter net ‘n stelling – dit kon verder gegaan het in die spel tussen tale. “The Blue of the Night Before We Left (39) huiwer om ‘n distigon te word.

IV
In “Cardinal Points” (73) word name van mense genoem (Louise, Jane, David) en die leser wonder of hierdie name werklik relevant is vir die gedig se betekenis? Dalk vir hierdie lesers. Robert Lowell het meer gedoen wanneer hy name in gedigte gebruik het sodat die persone argetipiese status verwerf het. Die aangrypende liefdesgedig “Not You” (90) werk met die inkantatiewe herhaling van “I love” in al sy semantiese duidinge. 

Die gedig eindig:

I think poetry is the flood
for the not-you I’ve prepared for
from the start. (61)

Stilte (silence), tronke, hawestede, oorgange en dus die posisie van liminaliteit, word telkens vanuit verskillende hoeke belig. “Poetry for Beginners” (9) sal ‘n mens nie sommer gou vergeet nie. Hoe iemand iets vra en dit jou terugruk en jou eie aannames oor die digkuns laat ondersoek.

Daar is ‘n lange lys van bedankings wat ook ‘n bietjie af-showerig is. Oor al die vererings en besoeke.

In die geheel gesien, is dit ‘n ryp bundel waarin die ek-spreker vreesloos skryf oor ongeregtighede. Hierdie leser bewonder veral die beskrywing van liggaamlike betredings. Dit moes ongelooflike moed gekos het om hierdie verse te skryf en uiteindelik te publiseer.