Monday, July 23, 2018

Rubriek | Fear of dying/flying (2018)

I
In 1973 verskyn die belangrike roman Fear of Flying van Erica Jong, ‘n grensverskuiwende roman wat die konsep “zipless fuck” geskep het. Die verhaal van Isadora Wing (eintlik: Isadora Zelda White Stollerman Wing), ‘n New Yorkse joernalis wat saam met haar man, ‘n psigoanalis na Wene gaan vir ‘n psigoanalitiese kongres en daar ‘n ander man ontmoet. Ons beleef haar bruisende en skreeusnaakse fantasieë in ‘n boek wat die grense van erotiek herskryf het.

Op die vliegtuig (wat haar vrese simboliseer) is daar ses psigoanaliste wat sy al as terapeute beleef het.

The zipless fuck is absolutely pure. It is free of ulterior motives. There is no power game. The man is not "taking" and the woman is not "giving". No one is attempting to cuckold a husband or humiliate a wife. No one is trying to prove anything or get anything out of anyone. The zipless fuck is the purest thing there is. And it is rarer than the unicorn. And I have never had one– aldus Jong.

Ek het ‘n getekende kopie van hierdie roman, ‘n geskenk van ‘n vriendin:

“Vir jou Mrs Wing”.

II

Hierdie roman het meer as 20 miljoen eksemplare verkoop en is ‘n uitstekende teks. Vir sommige is Jong se gedigte nie op dieselfde peil nie; tog is daar baie goeie gedigte deur haar geskryf.

Haar werk is vir my om die volgende punte belangrik: hoe sy outobiografiese elemente verpak en aanbied. (Dikwels tot die chagrin van haar sibbe wat selfs by geleentheid tydens ‘n kongres misnoeë te kenne gegee het.) En hoe sy telkens verder gegaan het in opvolgromans.

In Fear of Dying (2015) gebruik sy weer vir Isadora Wing, maar nou as ‘n soort alter ego vir die hoofkarakter Vanessa Wonderman, ‘n soap opera-aktrise, gekonfronteer met ouderdom en aftakeling. Sy beleef die agteruitgang van haar ouers en sy is bewus van haar eie eindigheid (en aantreklikheid). Sy plaas ‘n advertensie op die internet (zipless.com) en word uiteraard besoek deur weirdo’s – en ‘n skreeusnaakse toneel is wanneer sy ‘n S&M-ontmoeting het wat nie uitwerk nie (met ‘n guitige kopknik na Fifty Shades of Gray).

Die boek is aangeprys deur Fay Weldon (“A hymn to love”) en deur die gedugte Elaine Showalter, ook ‘n Jodin soos Jong. 

Showalter wys daarop dat Jong, in haar negende roman, haar vrese oorkom. Sy gebruik werklike insidente uit haar lewe in die roman (soos haar man se aneurisme en dogter se besoeke aan rehab, haar hond, Belinda Barkowitz).

Soos Showalter dit klinkend stel:

In her dreams Vanessa revisits her mother’s death; tries AA again; meditates on magic, poetry, time travel, new genres and new genders. She prepares to face her fear of death. (Fear of Dying by Erica Jong review – | Books | The GuardianBesoek 23 Julie 2018).

Inderdaad ‘n herbesoek.

Showalter se essays en boeke oor feminisme is en bly bakens vir my as leser (en genderteoretikus); ten spyte van die feit dat sy al die verwyt gemaak is dat sy essensialisties is oor vrouwees. Tog wys sy op die verskillende fases van vrou-wees wat hierdie stelling verkeerd bewys. (“Feminist Criticism in the Wilderness” opgeneem in David Lodge se Modern Criticism and Theory (Longman, New York, 1988).


III

Fear of Dying is ‘n paar maande gelede vir my gegee. Ek het dit die afgelope tyd – aanvanklik met skepsis – begin lees en toe met enorme vreugde en leesplesier die roman voltooi.

Jong op haar beste. Joodse humor. Weggooi-lyne. Soos Dashiel Hammett wat meen jy moet altyd na die positiewe kyk in die lewe – al is daar nie een nie!

Of hierdie een:
“Sex without love is a cancerous cigarette we willingly smoke” (135).

Of Asher, haar man wat in die hospitaal met ‘n harttoestand guitig reageer:
“Do you want a metal or porcine valve?”
“I don’t care,” Asher says. “I’m not kosher.” (95)

Of die (fiktiewe) opmerking dat Freud sou gesê het dat selfs hý nie ‘n miljardêr of skoonheidskoningin sal kan analiseer nie.

Die boek sit vol verwysings na bekende gedigte en skrywers (onthou Jong is in die werklike lewe ‘n professor in die letterkunde, weliswaar afgtree nou, met ‘n briljante boek soos Fanny: Being the True History of the Adventures of Fanny Hackabout-Jones (1981), ‘n herskrywing van Fanny Hill.

Al haar dokumente word deur Columbia Universiteit geargiveer. Haar studie oor Henry Miller is uitstekend: The Devil at Large (1993).

Die vreeslose wyse waarop sy ouderdom (en die dood) takel, is bepaald onthoubaar. Nes die wyse waarop sy vorige karakters hersirkuleer en nuwe kreatiewe lewe in hulle blaas. Die roman praat ook met Fear of Fifty: A Mid-Life Memoir.

Erica Jong @ Mary Ann Halpin

Hoe oorleef ‘n mens broosheid, verraad of abandonment? Met humor, aldus Jong.

En om te skryf:

something
that burns
like a hot coal
in your gut

something
that pounds
like a pump
in your groin

& the courage
to love
like a wound

that never
heals.


© Joan Hambidge