Resensie | Karina M. Szczurek – The
Fifth Mrs Brink. Jonathan Ball, 2017. ISBN 9781868428038
Resensent: Joan Hambidge
Daar was mos eers die Weduwee
Viljee en nou die Weduwee Brink, korswel 'n vriend. Hierdie memoir is 'n aangrypende verslag van
liefde én verlies. En die impak wat lees en skryf op 'n skrywer se gemoed het.
Die manuskrip het 'n draai
gegooi, eers by Penguin en nou by Jonathan Ball. Diegene wat tussen die reëls
kan lees, sou in die vele onderhoude en voorafpublisiteit 'n versuurde
verhouding opgetel het by 'n uitgewershuis. Maar kom ons laat dit daar. (Soos
die interpretasie van die Rabie/Wallace-beurs en die vark en hoenderhen in Philida. Mevrou Brink skets 'n
liefdevolle prentjie van haar eggenoot, wat soms nie onwennig kon wees vir 'n
katterige obiter dictum nie. Jong
skrywers is afgeransel in een paragraaf; die grote Karel Schoeman verniel. Maar
sy is kennelik nie ingelig oor 'n lang letterkundige voorgeskiedenis nie. Gaan
lees maar Vlam in die sneeu en kyk
wat hy oor vriende geskryf het; sidderend erg oor Chris Barnard.)
Die memoir bevat twee foto's van die uitsonderlike fotograaf, Antonia
Steyn, wat nou onlangs by die Woordfees skrywers en kunstenaars op
tentoonstelling gehad het. Die foto van Karina Brink is weerloos met oë wat
afkyk; teenoor die agterbladfoto langs haar minnaar, eggenoot en mentor, André
P. Brink. Dit was indertyd op die voorblad van Insig en sy bely haar liefde en bewondering vir hierdie man en maak
kwetsende aannames af oor hoe sy hom as 'n "meal ticket" sou sien.
Uiteraard is die klein poeletjie van die letterkunde genadeloos en venynig oor
'n verhouding tussen 'n ouer, beroemde man en jong meisie.
Wanneer 'n mens dit as 'n memoir oor verlies benader, is dit 'n
besondere teks. En dit is jammer dat dit op die internet as 'n skinderteks
bemark word. Dit vertel hoe die sensitiewe jong Poolse meisie verlief raak,
haar siening van taal, hoe 'n skrywer wat jy bewonder jou lewe kan verander,
die impak van Nadine Gordimer op háár lewe as navorser, ensomeer.
Sy erken haar weerloosheid in die
teks en sy bely sonder skroom: "And this is even in the world that is open
and free, and the only censorship you are in danger of is your own" (60).
Sy wys op die taal van smart ("unknown language", 95) wat jou eie
taal onbevoeg maak. Die afdeling Grief is
waarskynlik die sterkste afdeling in die boek. "In writing, I'm exorcising
the demons of my past" (21) en sy verwys na die nomadiese bestaan: Pole,
Oostenryk, VSA, Wallis ... op vlug - om politieke redes aanvanklik; later om
verder te studeer. Sy skryf oor haar ouers, hul foute én bates, haar broer,
haar lewe in 'n nuwe land sonder haar eggenoot en in 'n huis nou met 'n welige
tuin ...
Vriende wat sy gemaak het en die
ondersteuningsnetwerk na Brink se dood, kom boeiend aan bod, soos die gesprekke
met voormalige Mevrou Brinks en Brink se kinders.
Daar word geskryf oor
liefdesverraad na Brink se dood en oor 'n inbraak en motorongeluk. Daar is 'n
intense besef dat sy nalatig is weens die trauma.
Niemand is meer bedrewe om agter
woorde te skuil as juis 'n skrywer nie (15); tog skil sy die verskillende lae
van haar bestaan af vir die leser wat sien hoe sy pyn en verlies navigeer. Met
hierdie boek lewer sy bewys dat sy wel kan skryf. Hierdie kritikus was minder
entoesiasties oor haar debuutroman, Invisible
Others (2004) as hierdie memoir wat in 'n sirkelgang beweeg. Jy weet reeds
die man is oorlede en alles stuur af op daardie onafwendbare slot, die dood van
Brink op 'n KLM-vlug.
Dit is 'n teks wat saampraat met
Clarissa Pinkola Estés se 1992 publikasie Women
who Run the the Wolves (kyk hier spesifiek na die ongesnoeide tuin en die
gesprek met die dooies.) Wat hierdie boek ook duidelik bewys, is dat herinneringe
en 'n sterk verbintenis ná die dood van 'n geliefde bly voortbestaan (The Faithful Gardener: A Wise Tale About
that Which Can Never Die, 1996). Sy
skryf immers: "Love and gratitude to those who know the Karina who runs
wild with snow leopards."
'n Boek van oorgang en
liminaliteite. Letterlik oorgange van ruimtes om bymekaar te wees en later dan
die opposisie tussen lewe en dood.
Dit is 'n teks wat 'n mens lees
om die eerlikheid en dit behoort vir almal wat in 'n traumatiese aflegging
beleef het, van raad te bedien. Daar word gekyk na Brink se siekte en sy gebrek
aan selfvertroue teen die einde. En vir die Brink-aanhangers is die teks
eweneens van verdere belang. Sy liefde vir lees, sy gewoontes, sjokoholisme,
aanhanger van Anna Netrebko word weergegee.
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike
vergunning van Beeld)