Swakopmund en Walvisbaai
Vanoggend vroeg is dit propperse ontbyt by Naukluft.
Ek is op pad Swakopmund toe met Oom Aggis, die gids deur die
Namib, se vader.
'n Engelse ontbyt saam met die twee Hong Kongelinge. O gedoente.
Toe hulle wil uitjekkereer, blyk dit hulle het wederregtelik in die hotelletjie
oorgebly en nie in die kampeerterrein nie.
En die bestuurderes eis 'n ekstra bedrag. Dit blyk egter gou dat
op hul reisvorm eersgenoemde aangeteken staan en nie laasgenoemde nie.
Dit blyk die jongeling het self al die reëlings getref en dus was
hy nie bewus van die subtiele verskille nie.
Ewentwel, ek slaan my oë op na die duine. Dis hoekom ek altyd belê
in my reisagent, mevrou Cathy Petersen. Loop iets skeef of skuins, e-pos ek
haar. Sy is my back-up op meer as een vlak.
Want reis gooi bepaald sy curve balls. Vanoggend
ontdek ek 'n goggabie het in die nag gebyt. Seker 'n sandvlooi. Ek vind nêrens
in my huisapteek antibiotiese salf nie. En die rooi bytmerke staan. Ek drink 'n
anti-allergie-pilletjie en ontdek sunlightseep in my sak!
Ek maak dit effens nat en smeer dit oor die rooi merke.
Daar werk die boereraat soos 'n bom. Die rooi swelsel sak en ek en
Oom Aggis, 'n Damara, is in die viertrek (sowat vier ure) na Swakopmund.
Die pad is woes. Bestudeer my Franse grammatikaboekie om die kop
stil te hou. Bekyk die landskap en neem die gebruiklike foto's. Oom Aggis
vertel van al sy wedervaringe as draaiwer. Sy oudste kind is 30 en die jongste
twee. Hy het net agt seuns, brag hy.
Ek gee vir hom 'n footjie en besef hy moet na een terugry Naukluft
toe - sonder lunch.
Dis mos nie reg nie?
Nee beduie hy; as hulle oorslaap op 'n plek dan kry hulle kosgeld
- andersins nie.
Dis ongeveer twee minute na twaalf en ons stop by die Spur wat 'n
lieflike speshúl aanbied: 'n burger teen N$ 50.
Strand hotel
Hy eet alte lekker en oom Aggis laai my af by die Strand-hotel.
Hier raak ek liggies bedonnerd toe die concierge my twee tasse
neem en verdwyn. Die dame by die inboektafel lyk nie bekommerd nie. Hy het dit
glo net agtertoe geneem en sal dit nou-nou kamer toe bring ...
My kamera, my grimeersakkie (haha), selfoonlaaier, et al. is
in 'n die klein blou sak. Ek verduidelik vir haar WAAROM ek onrustig is: sowat
tien jaar gelede word 'n tas in 'n hotel in Plymouth gesteel toe ek deur
Engeland reis. Die hotel trek die skouers op (dit was nie in die kamer nie) en
die bustoer is nonchalant (dit was nie op die bus nie).
In transit = geen visum = en route.
Daardie tas is fakala stryt.
Gone.
Die kamer in Swakop is wel lieflik.
Ek pak my klere uit, hang dit in die kas op. Twee serpe was ek
uit: die rooigrond van die Namib spoel uit en 'n jean stof ek af.
'n Kamer moet nou eers my mana oorneem alvorens
ek rustig raak.
Daar is 'n helikopter wat oor die Namib vlieg ($N 6 000) en 'n
lugballon wat jou eweneens oor die landskap kan neem (ook teen 'n ongelooflike
bedrag). Indertyd wel 'n helli geneem oor die asembenemende Victoria-valle ...
Nou beantwoord ek al die e-posse na dae se stilte in die woestyn.
Knip my naels en maak my reg vir 'n wandeling deur die stad.
Dit is koud hier. Die see is onrustig. Dis winter hier. Na die
hitte van Sossusvlei en die stof, is dit 'n verademing om by die kus te wees.
Ek eet vroeg in die hotel se steak house. Heel skaflik, behalwe
vir 'n warm glas vir die rooi wyn ...
En dan is dit bed toe vir die combo: seevaart- &
duine-trip.
Lady Gaga
Die seevaarttrip is wonderlik. Ons word 'n walvis en dolfyne
beloof, maar helaas moet ons tevrede wees met 'n pelikaan, ene Lady Gaga wat
haar aanmeld op die dek en al bedelend vissies kry. Dan is daar 'n Rakkertjie
Rob wat swiep-swiep oor die dek. In die koue oseaan (12 grade) swem 'n hele
paar. Die gids neem ons na die eiland waar daar glo 30 000 woon. Hy vertel hoe
die moeders 'n suigeling moet agterlaat om kos te soek - dikwels vir twee dae -
en dan by haar terugkeer is die kleinding opgevreet. Die natuurwet. Soos die
wet van Transvaal ...
Ons sien blou emmers in die water. Dit blyk egter die plek te wees
vir die kweek van oesters. Ingewikkeld hoe diep dit onder die water lê en net
op die regte oomblik na bo gebring word en uitgevoer word na Hong Kong. En as
daar een vrot oester in is, word die hele besending teruggestuur. Ons word
oesters aangebied, maar ek dink dit is te vroeg vir so 'n delikatessen.
In die baai staan daar oliebore. En omdat die olieprys gedaal het,
is daar geen soektog na olie nie. Die wispelturigheid van die politiek wat
vraag en aanbod kan manipuleer, is welbekend.
Die rondvaart is drie ure lank en goed vir die gemoed.
Hierna is dit duine toe op 'n viertrek met 'n nuwe gids. Hy is 'n
behendige bestuurder wat ook veel weet van die natuur en die ekologiese
veranderinge van die kusgebied. Hy wys kaarte om te verduidelik hoe die kuslyn
verander het. Hier het 'n huis gestaan eens op 'n tyd; nou is daar net 'n paar
stukke hout ....
Die huis is begrawe onder sand.
Ons ry terwyl dit hoogwater is en moet koes-koes om 'n brander te
mis teen 'n duin. Dan is dit opwaarts. Die Duitsers kreun van plesier en vrees.
Jouissance in sy oorspronklike sin van die
woord. Dan beweeg ons na bo en weer - na 'n klein asemophou - skielik na onder.
Onder grom die duine.
"Dit is 'n Landrover-begraafplaas hierdie," spot die
gids. Want as jy nie reg mik en trap en ratte bemeester nie, is dit sokke tyd.
Ons stop vir 'n versnapering. Onder 'n duinplant sien ek streepmuise
rondharloop. Die gids voer hulle kaas. Dit is opvallend hoe die gidse op die
seevaart en by die duine die wilde diere voer.
'n Kleingecko, vertel ons gids, kom ook uit en eet 'n chippie uit
sy hand soos 'n hondjie.
Dus op een dag op 'n katamaran en in 'n viertrek.
Ons ry by die klein monument verby in Walvisbaai: die Rynse kerk
wat ingevoer is uit Duitsland.
'n Belangrike troop om hierdie land te verstaan wat steeds die
Duitse kultuur erken.
© Joan Hambidge